In ’n onlangse verslag wat deur die Suid-Afrikaanse Melkprosesseerdersorganisasie (Sampro) vrygestel is, blyk dit dat die kleinhandelverkope van suiwelprodukte die wind verder van voor gaan kry indien ’n ekonomiese opswaai nie binnekort sy opwagting in die land maak nie.

Die belangrikste bevindinge wat prestasie in die kleinhandel van suiwelprodukte betref, is hieronder uiteengesit.

Hoeveelheid verkoop in 2019

Vir kleinhandelverkope in terme van hoeveelheid, was vier van die nege suiwelprodukte 1 tot 3,5% laer as in 2018, terwyl die kleinhandelverkope van vyf suiwelprodukte 0,1 tot 18,7% hoër was as in 2018. Die produkte waarvan verkope gedaal het, is vars melk, UHT-melk, roomkaas en room, terwyl verkope van gegeurde melk, jogurt, maas, voorafverpakte kaas en botter gestyg het.

Kleinhandelpryse in 2019

In 2019 het die kleinhandelpryse van drie van die nege suiwelprodukte met 0,5 tot 3% gedaal, terwyl die pryse van ses suiwelprodukte met 1,1 tot 8,3% gestyg het. Die produkte waarvan die kleinhandelpryse gedaal het, is gegeurde melk, jogurt en botter, terwyl dié van vars melk, UHT-melk, maas, voorafverpakte kaas, roomkaas en room gestyg het.

Stygings en prys

Die verkope (hoeveelheid) in die kleinhandel van jogurt, maas en voorafverpakte kaas het van 2018 na 2019 met onderskeidelik 8,7%, 18,7% en 5,6% gestyg. Dié drie is ook die enigste produkte met hoër verkope in die laaste kwartaal van 2019 in vergelyking met dieselfde kwartaal in 2018. Ongelukkig was hierdie prestasie ten koste van prys; die kleinhandelpryse van jogurt en maas in Desember 2019 was onderskeidelik 1,4% en 4,6% laer as twee jaar gelede, terwyl dié van voorafverpakte kaas in twee jaar met slegs 3,3% gestyg het.

Daling in UHT-melkverkope

Die hoeveelheid kleinhandelverkope van vars melk in 2019 was 1% laer en dié van UHT-melk 1,5% laer as in 2018. Die daling in UHT-melkverkope is ongewoon; in die laaste tien jaar is dit slegs die tweede jaar waarin die verkoopte hoeveelheid gedaal het. Die totale beraamde kleinhandelverkope (hoeveelheid) van vars melk en UHT-melk was 1,6% laer in 2019 as in die vorige jaar.

Tabel 1 verskaf meer inligting oor die verloop van die hoeveelheid verkope in die suiwelkleinhandel, terwyl Tabel 2 die verloop van die kleinhandelspryse vir suiwelprodukte toon.

Tabel 1: Verandering in die hoeveelheid kleinhandelverkope van spesifieke suiwelprodukte in 2018 en 2019. (Bron: Sampro)

  Vars melk (%) UHT-melk (%) Ge-geurde melk (%) Jogurt (%) Maas (%) Vooraf-verpakte kaas (%) Room-kaas (%) Botter (%) Room (%)
Des 2019 vs Des 2018 -0,9 7,8 9,8 16,8 13,4 12 -4,4 12,1 -4,3
Okt tot Des 2019 vs Okt tot Des 2018 -1,6 -6 -5,2 7,6 10,7 5,1 -2,3 -1,3 -5,9
Jul tot Des 2019 vs Jul tot Des 2018 -0,6 -7,9 -3,3 8,3 14,2 4,7 -1,6 -0,9 -6
Apr tot Des 2019 vs Apr tot Des 2018 -1,6 -5,4 -1,7 8 17,4 5,3 -1,2 1,3 -5
Jan tot Des 2019 vs Jan tot Des 2018 -1,7 -1,5 0,1 8,7 18,7 5,6 -1 3,2 -3,5

Tabel 2: Gemiddelde kleinhandelpryse van spesifieke suiwelprodukte in Desember 2019 teenoor spesifieke maande van 2017, 2018 en 2019. (Bron: Sampro)

Vars melk (%) UHT-melk (%) Ge-geurde melk (%) Jogurt (%) Maas (%) Vooraf-verpakte kaas (%) Room-kaas (%) Botter (%) Room (%)
Des vs Nov 2019 -0,02 -2,7 -9,7 -6,6 -3,8 -0,7 0,6 -1,7 2,9
Des vs Sep 2019 0,6 -4,3 -10,2 -4,9 -1,4 -1,1 0,8 -3 1,8
Des vs Jun 2019 1,9 -0,9 -7,9 -6 -0,8 0,7 0,8 -1,5 5,7
Des vs Mrt 2019 4 4,6 -4,8 -5,3 0,6 0,2 3,9 -2,8 10,2
Des 2019 vs Des 2018 5,5 8,3 -0,5 -2 2,1 1,1 6,2 -3 8
Des 2019 vs Jun 2018 3,9 9,2 -1,1 -3,2 -1,8 2,1 3,5 -6,4 13,7
Des 2019 vs Des 2017 6,6 4 2,5 -1,4 -4,6 3,3 6,2 -5,6 11,5

Dié bevindinge toon die neerdrukkende invloed van die swak ekonomiese groeikoers in Suid-Afrika op die verkope van suiwelprodukte. Die beskikbare syfers toon dat die negatiewe invloed veral in die laaste kwartaal van 2019 toegeneem het.

Daar is wisselwerking tussen die verkope (hoeveelheid en prys) van suiwelprodukte en die verkope (prys en hoeveelheid) van onverwerkte melk, daarom beïnvloed die swak ekonomiese groeikoers nie net die verkope van suiwelprodukte nie, maar ook dié van onverwerkte melk.

Vir meer inligting of verwysings, skakel Sampro by 12 991 4164. – Carin Venter, Veeplaas