SATI stel nuwe hoof- uitvoerende beampte aan

0

Die Suid-Afrikaanse Tafeldruif-bedryf (Sati) het aangekondig dat AJ Griesel as die nuwe uitvoerende hoof van die organisasie aangestel is. In hierdie hoedanigheid sal AJ vroeg in die nuwe jaar die leisels by Willem Bestbier oorneem. Willem se uittrede as uitvoerende hoof is in Mei 2021 aangekondig. Willem het hom verbind om beskikbaar te wees en AJ by te staan totdat ’n gladde en volledige oorgang verseker is.

Sati het aangekondig dat AJ Griesel as die nuwe uitvoerende hoof van die organisasie aangestel is.

AJ is welbekend in die landbou en beskik oor breë ervaring in beide primêre en kommersiële landbou, waar hy vir etlike jare in senior poste gedien en gelei het. Hy is sedert 2014 in diens van Kaap Agri Beperk en beklee sedert 2018 die pos van direkteur: handel en dienste by Kaap Agri Bedryf Beperk.

AJ het ’n BCom in bestuursrekeningkunde en MBA aan Stellenbosch Universiteit verwerf, waarna hy sy loopbaan in bekende landbou-entrepreneursbesighede, onder andere Laastedrif- en Koelfontein-boerderye, begin het. Hy beskryf homself as iemand met ’n passie vir landbou, waar hy homself trots met die bedryf en die mense, plekke en omgewing daarvan assosieer. Die werwing en aanstelling van AJ is deur Sati se aanstellingskomitee gelei, wat bekwaam deur Exceed HR bygestaan is.

Volgens Anton Viljoen, voorsitter van Sati, was dit belangrik om iemand aan te stel wat die bedryf en organisasie tot nuwe hoogtes in die huidige uitdagende, maar ook opwindende tye, kan lei. Hy glo dat AJ ’n kommersiële dringendheid na die tafel sal bring, wat juis nou noodsaaklik is.

Anton het verder sy dank teenoor Willem uitgespreek, wat die afgelope agt jaar hom beywer het om primêr die belange van tafeldruiwe-produsente te dien en die organisasie daarmee te belyn.

“Ons bedryf betree ’n uitdagende era waar ons suksesvol met ’n gehalte-produk in wêreldmarkte moet kompeteer. Ons is dankbaar dat ons AJ aanboord kan hê en ek vertrou dat ons bedryf hom sal verwelkom en ondersteun,” aldus Anton. – Persverklaring, SATI