Sauvignon Blanc neem voortou by SA Jongwynskou

164
Wenners by die jongwynskou. Van links na regs is Bennie Howard, ondervoorsitter van SANWSA, Wilene Bester, Gerhard Swart en Mia Boonzaaier van Flagstone Wynkelder en Christo Pienaar, voorsitter van SANWSA.

Ongehoute Sauvignon Blanc van Flagstone Wynkelder in Somerset-Wes, het die gesogte Generaal Smuts-trofee losgeslaan as algehele SA Kampioen Jongwyn vir 2019, nadat dit ook bekroon is as die beste inskrywing in die Sauvignon Blanc- kategorie by vanjaar se SA Jongwynskou. 

Sauvignong Blanc neem die voortou

Hierdie jaarlikse skou vir wyne van die spesifieke oesjaar, het vanjaar 115 Sauvignon Blanc-inskrywings gelok uit die altesaam 1 455 wyne wat beoordeel is. Dit was die vyfde keer in die kompetisie se 187-jarige bestaan dat ʼn Sauvignon Blanc die louere inoes as 68ste wenner van die Generaal Smuts Trofee. 

Die wenner van die Pietman Hugo-trofee was Badsberg Wynkelder van Breedekloof, wat as produsentekelder sy veelsydigheid gedemonstreer het uit inskrywings van  ʼn besonderse spektrum oorsprongsgebiede en keldertipes – soos klein privaatkelders, landgoedere, produserende groothandelaars en groot produsentekelders.  

Die totale inskrywings was 1 455, effe minder as verlede jaar, inaggenome die relatief kleiner oes weens uitdagende droë en warm weerstoestande. Die resultaat was ongelyke rypwording, minder en oneweredige trosse en klein korrels by sommige kultivars. Hierdie omstandighede is egter volgens die beoordelaars puik deur die wyndruifprodusente en wynmakers hanteer.   

Die Sauvignon Blanc- en Chardonnay-wyne is bestempel as besonder vrugtig, terwyl die gehalte van die Chenin Blanc, wat met 152 die meeste inskrywings gehad het, in beide die gehoute en ongehoute afdelings gewissel het. Die die sewe Goud-wenners het volgens paneelvoorsitter Albertus Louw ver bo die res uitgestaan, terwyl 66 Silwer gekry het, met goeie vrug, rypheid en balans.    

Rooi versnitte ook goed

Aan rooiwynkant het die rooi versnitte (125) goeie potensiaal getoon. “Ondanks die uitdagings toon hulle diep kleure en konsentrasie, met suiwerheid van vrug en gebalanseerde sure en tannien, dog sonder aggressiwiteit,” aldus Samantha de Morney-Hughes, sameroeper van een van die rooi versnit-panele.  

Die altesaam 130 beoordelaars – wat die volledige proeëry vanjaar vir die eerste keer in die bestaan van die Jongwynskou letterlik binne ʼn kelder gedoen het, by Nederburg in die Paarl – het ook opgemerk dat al hoe meer van die trofeewenners in die jongste jare as sulks gebotteleer word vir die mark in plaas daarvan om ‘hul identiteit later in verdere versnitte te verloor’. 

Algehele uitslae vir 2019

Wat vanjaar se algehele uitslae betref, het Flagstone se algehele wenwyn, geseëvier teenoor die ander finalis in die Sauvignon Blanc-kategorie, ‘n gehoute wyn van Cilmor Wynmakery van Worcester. Dit is die tweede keer dat Flagstone met die Generaal Smuts-trofee wegstap, nadat hy in 2010 dit ook met ʼn Sémillon vermag het.  Sedert 2013 spog die algehele wenner ook met ʼn spesiale plakker op die bottel om hom by verkoopspunte te onderskei.      

Vir Badsberg Wynkelder (Breedekloof), wat die Pietman Hugo-trofee losgeslaan het (vir die beste punte met vyf inskrywings) en drie nasionale wenners opgelewer het, is die SA Jongwynskou-kollig ook geen nuwe ervaring nie. Hierdie wynkelder het in 2016 die Generaal Smuts-trofee verower met sy gehoute Pinotage en het dit nou opgevolg met SA-kampioene met Chenin Blanc (gehout), Pinotage (gehout) en Muskadel (wit muskadel jerepiko).  

Nog ʼn ster van die skou, met twee nasionale wenners was Benguela Cove Wynlandgoed (Walkerbaai), met die SA kampioene Cabernet Sauvignon (gehout) en  Merlot (gehout).    

Die res van SA-kampioenwyne is:

  • Chardonnay – Glen Carlou Wingerde Chardonnay (gehout)
  • Sémillon – La Motte, Sémillon
  • Ander Wit-kultivar – Botha Kelder, Nouvelle
  • Wit Versnit – KWV, Sauvignon Blanc/Sémillon
  • Natuurlike Soet Witwyn – OWK Keimoes, natuurlike soet witwyn (RS >20g/l)
  • Edellaatoeswyn – Bon Courage Landgoed, edellaatoes
  • Shiraz – Namaqua Wyne – Shiraz (gehout)
  • Ander Rooi-kultivar – Diemersdal Landgoed, Petit Verdot (gehout)
  • Rooi Versnit – Riebeek Valley Wine Company, Shiraz/Mourvedré
  • Dessertwyn – Merwida Wynkelder, Hanepoot Jerepiko
  • Port-styl – Delaire Graff Wines, Cape Tawny 
Die ander finaliste in die verskillende kategorieë was (by die stilwyne word gewoonlik ʼn ongehoute en gehoute wyn onderskeidelik as finaliste aangewys): 
  • Chardonnay – Boland Kelder, Chardonnay
  • Chenin Blanc – Windmeul Kelder, Chenin Blanc
  • Sémillon – Spier Wyne, Sémillon (hout)
  • Ander Wit-kultivar – OWK Keimoes, Colombar (hout)
  • Wit Versnit – Spier Wyne, Sauvignon Blanc/Sémillon (hout)
  • Natuurlike Soet Witwyn – OWK Kakamas, muskaat, enige ander wit versnit, Colombar/Wit Muskadel (RS 12,1 – 30g/l)
  • Cabernet Sauvignon – Bonnievale Kelder, Cabernet Sauvignon 
  • Shiraz –Namaqua Wyne, Shiraz 
  • Pinotage – Wellington Wyne, Pinotage
  • Merlot – Wellington Wyne, Merlot
  • Ander Rooi-kultivar – KWV, Cabernet Franc (gehout)
  • Rooi Versnit – Darling Kelders, Cabernet Sauvignon/Merlot/Malbec (hout) 
  • Dessertwyn – OWK Keimoes, Rooi Jerepiko
  • Muskadel – Montagu Wynkelder,  Rooi Muskadel Jerepiko
  • Portstyl – Calitzdorp Wynkelder, Oesjaar

Voorsitter beindruk deur SA-kwaliteit

Die voorsitter van die Jongwynskou, Christo Pienaar, het gesê ondanks nog ʼn moeilike jaar weens uitdagende klimaatstoestande en ongelyke rypwording tydens parstyd, die gehalte van die beoordeelde jongwyne van uitnemende gehalte was, danksy bekwame hantering in die wingerd en kelder. Hy was ook beïndruk dat die wenners van die SA Kampioenwyne van regoor die land se wynproduserende gebiede gekom het en van uiteenlopende keldertipes was.  

Die SA Jongwynskou dateer terug na 1833 toe die eerste skou deur die Kaap die Goeie Hoop Landbougenootskap (nou Agri-Expo) in Rondebosch gehou is. Agri-Expo is steeds oor al die jare die trotse aanbieder van die Skou, elke tweede jaar as hoofborg, en medeborg in die alternatiewe jare. – Persverklaring, SA Nasionale Wynskouvereniging