Sauvignon Blanc Suid-Afrika (Sauvignon Blanc SA) kondig graag die finaliste in die 2020 Sauvignon Blanc SA Top 10-kompetisieaan. Dié kompetisie is die enigste in Suid-Afrika wat uitsluitlik aan Sauvignon Blanc toegewy is en altesaam 96 produsente het 149 wyne vir vanjaar se kompetisie ingeskryf. Die kompetisie word onder die vaandel van Sauvignon Blanc SA, met die ondersteuning van FNB, aangebied.

Die land se uiteenlopende wynboustreke is goed verteenwoordig, met verskeie streke wat meer as een toppresterende wyn gelewer het. Die finaliste toon ’n goeie balans, met agt wyne van die 2020-oesjaar en tien van die 2019-oesjaar. Dit bevestig weereens dat 2019 ’n uitstekende jaar vir Sauvignon Blanc was én beklemtoon die langslewendheid van die kultivar.

Enkele wyne verskyn vir die eerste keer op die lys van finaliste, met die top 20 wat as geheel die innovasie en diversiteit in die style van Sauvignon Blanc in Suid-Afrika verteenwoordig.  

Die 2020 Sauvignon Blanc SA finaliste

Die finaliste, in alfabetiese volgorde, is:

  • Alvi’s Drift Sauvignon Blanc Reserve 2020
  • Bon Courage The Gooseberry Bush Sauvignon Blanc 2020
  • Cilmor Limited Edition Sauvignon Blanc 2019
  • D’Aria The Wild Thing Sauvignon Blanc 2019
  • Darling Cellars Gustus Sauvignon Blanc 2019
  • De Grendel Sauvignon Blanc 2020
  • Diemersdal Winter Ferment Sauvignon Blanc 2020
  • Elgin Vintners Sauvignon Blanc 2019
  • Ghost Corner Wild Ferment Sauvignon Blanc 2018
  • Highlands Road Sauvignon Blanc White Reserve 2017
  • Iona Elgin Highlands Wild Ferment Sauvignon Blanc 2019
  • Kleine Zalze Family Reserve Sauvignon Blanc 2019
  • Kleine Zalze Vineyard Selection Sauvignon Blanc 2019
  • Ormonde Chip Off The Old Block Sauvignon Blanc 2019
  • Paul Cluver Sauvignon Blanc 2019
  • Spier 21 Gables Sauvignon Blanc 2020
  • Stark-Condé Round Mountain Sauvignon Blanc 2019
  • Stellenbosch Vineyards Southern View Sauvignon Blanc 2020
  • Stellenrust Sauvignon Blanc 2020
  • Zevenwacht 7even Sauvignon Blanc 2020       

Vanjaar se beoordelaarspaneel bestaan uit dr Winifred Bowman, Kaapse wynmeester en sameroeper van die paneel, keldermeester Charles Hopkins van De Grendel, wynbeoordelaar en -skrywer Fiona McDonald, en wynmaker Rudger van Wyk van Stark-Condé-wyne. Die paneel sluit ook aspirantbeoordelaars in, naamlik Candice Barnes van Boekenhoutskloof, Kelsey Shungking van De Grendel en Victoria Davis van Glenelly.

Woon die Top 10-viering by – selfs Nataniël gaan daar wees!

Die wenners sal tydens die virtuele Sauvignon Blanc SA Top 10-toekenningsgeleentheid op 14 Oktober aangekondig word. Alle Sauvignon Blanc-liefhebbers word genooi om by dié aanlyn-feesviering van die beste Sauvignon Blanc-wyne in die land aan te sluit op die webwerf www.sauvignonblanc.com.

’n Opwindende tyd word beloof met Suid-Afrika se meesterstorieverteller, Nataniël, wat gaste sal vermaak. Die land se kulinêre gunsteling en glanssjef, Zola Nene, sal as seremoniemeester almal virtueel tuis laat voel. Gaste sal ook tydens die geleentheid ’n bydrae ter ondersteuning van ’n student in die wynbedryf, aan die Vinpro-stigting kan maak.

Die jaarlikse Sauvignon Blanc SA Tegniese Seminaar sal gedurende November as vlogs op die Sauvignon Blanc SA-webwerf aangebied word, met sprekers wat op tegniese aspekte, insluitend inligting oor die Top 10, sal fokus.

Vir meer inligting of om as ’n lid aan te sluit, besoek www.sauvignonblanc.com of skakel 021 975 4440. – Persverklaring, Agri-Expo