Te midde van stormagtige onsekerheid rondom die finalisering van die wysigings aan grondwetgewing, die hardnekkige droogte in dele van die land en die voortslepende uitdagings rondom energieverskaffing in die landbousektor, staan Laeveld Agrochem gereed om boere op ’n reis van hoop te neem met hul tweede Seil-Safari.

Die Seil-Safari sal vanaf 1 tot 5 April die vergaderpunt wees vir wêreldklas sprekers, landboukenners en Suid-Afrika se boerderygemeenskap om inligting en kundigheid oor die jongste vernuwings en oplossings in dié sektor te deel. Die bootrit, wat vanuit die staanspoor gemik was op die smee van sakebande en die deel van inligting, se nooiensvaart vanaf Durban na Mosambiek het verlede jaar plaasgevind. Dit is daadwerklik ondersteun én geniet deur boere, lede van die landbousektor en hul gesinne.

’n Boodskap van hoop

Laeveld Agrochem se bemarkingsdirekteur, Corné Liebenberg, sê die Seil-Safari gaan oor hoop, en om oplossings vir boere te vind binne die konteks van ’n konstant veranderende en mededingende sektor. “Ons het die bootrit begin as deel van ’n strategie om oplossings vir die landbousektor te kry,” verduidelik hy.

“Om dit te bewerkstellig, is ’n gesamentlike poging deurslaggewend belangrik. Daarom het verskillende belanghebbendes by ons aangesluit om deel te word van die reis.” Hy voeg by dat daar steeds genoeg plek aan boord is vir die publiek, asook belanghebbendes wat by die inisiatief betrokke wil raak.

Liebenberg sê gewasoptimalisering, plantvoeding en die volgehoue soeke na oplossings is belangrike fokusareas vir Laeveld Agrochem. Om met vernuwende oplossings vorendag te kom, is egter niks nuuts vir dié landboureus nie. “Ons passie vir presisieboerdery was byvoorbeeld die stimulus wat tot die totstandkoming van Agri Technovation gelei het,” verduidelik hy.

“Agri Technovation is ’n maatskappy wat spesialiseer in die formulering en vervaardiging van ’n reeks gespesialiseerde voedings- en grondgesondheidsprodukte om aan gewasspesifieke voedings-, stimulant- en energievereistes te voldoen.”

Uitstaande sprekers

Die hoogtepunt van die Seil-Safari is weereens ’n reeks aanbiedings en lesings deur uitstaande sprekers. Onder die sprekers is Todd Cardwell, ’n senior landboukundige by Winfield in Amerika, wat sy insigte oor hulpmiddels, toedieningstegnologie en nuwe gewasbeskermingsontwikkelings gaan deel; prof Johan Willemse, ’n landbou-ekonoom wat markvooruitsigte vir die jaar gaan gee; en prof Ferdi Meyer, ’n landbou-ekonoom van die Buro vir Voedsel- en Landboukundige Beleid.

Verdere onderwerpe dek die spektrum van ’n ondersoekende blik op volhoubare landbou, met ’n fokus op holistiese beplanning en tegnologie, tot graanverskansing op SAFEX en intelligente sekuriteitstegnologie. Daarbenewens sal dr Theo de Jager, voorsitter van die World Farmers’ Organisation, sy insigte oor geleenthede in ander Afrikalande deel.

Verandering en vernuwing

“Namate die bevolking groei, word voedselsekerheid toenemend ’n bron van kommer en ’n gereelde onderwerp in die openbare arena rondom grondgebruik en -geleenthede,” sê Liebenberg. “En soveel soos wat ons megaboere nodig het, moet ons ook begin kyk na oplossings vir mikroboere en verbruikers, en daadwerklik betrokke bly by verandering en vernuwing.

“Die Seil-Safari is ’n volgehoue reis van en na hoop. Ons glo dit sal toenemend ’n belangrike rol speel om die negatiwiteit oor die landbousektor te beëindig, deur direk en indirek mense op alle vlakke van die samelewing te bemagtig en hul lewens te verbeter,” is sy slotsom.

Vir meer inligting oor die Seil-Safari en die program, besoek www.seilsafari.co.za of kontak vir Annie da Silva by annie@etal.co.za of 072 567 5075. – Persverklaring

Lees oor 2018 se #SeilSafari:

#SeilSafari ontdek nuwe waters