Die konsep van bankwese het sy oorsprong uit ’n suksesvolle landbousektor in die antieke Assirië. Handelaars het graan as kollateraal binne ’n ruilhandelstelsel uitgeleen. Dié proses is in antieke Griekeland en gedurende die Romeinse Ryk verder gevoer, waartydens deposito’s aanvaar en geld verhandel is.

Silo’s en banke werk soortgelyk

Deesdae lewer produsente elke seisoen hul oes aan ’n silokompleks vir veilige bewaring. Na ’n seisoen se suksesvolle produksie, moet graan gegradeer en opgeberg word. Net soos kliënte by ’n bank hul kontant ewe maklik moet kan deponeer en onttrek, moet silo’s se infrastruktuur in stand gehou word om dieselfde met die hantering van graan en oliesade te bereik. Dit is belangrik vir prysvorming asook die integriteit en werking van die vrye kontant- en termynmark in graan en oliesade.  

Die inname, gradering, berging en uitlaai van graan moet dus net so doeltreffend soos die deponering en onttrekking van kontant kan geskied. Die funksies by ’n silokompleks gaan met koste gepaard. Soos ’n bank nierente-inkomste vir die hantering van kontant hef, betaal produsente wat graan aan ’n silokompleks lewer, vir die hantering daarvan. Die veilige hantering en berging van graan is uiters belangrik in kommoditeitsfinansiering en die verhandeling daarvan, sodat die kollaterale waarde daarvan behoue bly.

Die sektor lewer dus ’n belangrike bydrae tot ekonomiese groei en behoort prioriteit te geniet. Tans dra die antisikliese aard van landbou by om die afname in ekonomiese groei wat ons tans ervaar, teen te werk.

Die graan- en oliesadebedryf in Suid-Afrika moet egter verskeie sosio-politiese uitdagings die hoof bied. Ten spyte hiervan, ding die bedryf suksesvol met invoere oorsee mee en bied wêreldwyd die goedkoopste voedsel aan verbruikers.

Die vooropstel van eie belang, swak beleid en opportunisme in die regering en privaatsektor, kan egter tot ’n afname in dié sukses lei. Die onderliggende dryfvere wat tot hierdie suksesse aanleiding gee moet dus nie oorgesien word nie.

Selfregulering van die bedryf

Verteenwoordigers op die verskeie forums in die graan- en oliesadewaardeketting behoort meer erkenning te geniet vir die uitsonderlike wyse waarop dié sektore sedert deregulering, produktiwiteit deur eie inisiatiewe en selfregulering verhoog.

Rolspelers sluit landbounavorsers, insetverskaffers, landboumasjinerie en -implemente, produsente, opbergers, verwerkers soos meulenaars en veevoervervaardigers, olieperse, raffinaderye en bakkers, die groot- en kleinhandelsektor, asook die verbruiker in.

Ekonomiese rol van silo’s

Opbergers se bydrae tot ekonomiese groei word in besonder hier uitgelig:

  • Opbergers voorsien maandelikse ontvangste van graan en oliesade op silovlak aan beide die Suid-Afrikaanse Graaninligtingsdiens (SAGIS) asook die Johannesburgse Aandelebeurs (JSE). Die inligting word onder andere deur die JSE gebruik om die werking van die vryemark te optimiseer en probleme met prysvorming in die kontant- en vryemark tydig aan te spreek. Die inligting word gratis voorsien.
  • Sonder die verhaling van koste, voorsien opbergers jaarliks ongeveer 1 700 monsters aan die Suid-Afrikaanse Graanlaboratorium (SAGL) vir gehalteverslae, waarvolgens die oes geëvalueer word om veranderende tendense in gehalte oor tyd te bepaal. Só maak Agbiz Grain ’n wesentlike bydrae tot die verbetering in gehalte in die graan- en oliesadesektor.
  • Sedert deregulering behartig die graanhantering- en opbergingsektor die gradering soos dit in die Wet op Landbouprodukstandaarde, 1990 (Wet 119 van 1990) omskryf word, met behulp van die landboumaatskappye se bestaande personeel en toerusting. Die regering kon tot dusver nie ’n instelling aanwys om dit meer kostedoeltreffend te doen nie.
  • Opbergers se stelsels is aangepas om byvoorbeeld die vrywillige heffings vir graan- en oliesadeprodusente asook die nuwe Suid-Afrikaanse Wintergraanbedryfstrust (SAWCIT) in te vorder. Die belangrike bedryfsfunksies van produsente-organisasies soos Graan SA, SAGIS, SAGL en navorsingprojekte van onder meer die Landbounavorsingsraad (LNR) en die South African Barley Breeding Institute (SABBI), word hierdeur moontlik gemaak.
  • Opbergers samel ook die statutêre heffings namens die Suid-Afrikaanse Kultivar en Tegnologie-agentskap (SACTA) vir koring, hawer, gars en sojabone in. Agbiz Grain maak dus die toegang tot verbeterde genetika en tegnologie moontlik en só verhoog opbergers die mededingendheid van gewasproduksie in Suid-Afrika.

Die waarde van opbergers

Stel jou ’n Suid-Afrika voor waar opbergers nie met die bogenoemde funksies behulpsaam sou kon wees nie, maar waar dit net aan regeringsinstansies oorgelaat sou wees.

Wessel Lemmer.

Die bogenoemde funksies is nie alles deel van Agbiz Grain-lede se kernbesigheid nie. Opbergers word egter indirek daardeur geraak indien dit nie doeltreffend uitgevoer sou word nie. Ander rolspelers kan egter direk daardeur geraak word indien die funksies minder kostedoeltreffend deur ander instansies uitgevoer moes word.

Soos elkeen van die ander sektore in die waardeketting, streef opbergers daarna om ekonomiese groei deur hoër produktiwiteit en die instandhouding van ’n vryemark te bevorder. Kom ons probeer dit so hou – as selfregulering gefaal het, was die graan- en oliesadebedryf nie vandag wêreldwyd mededingend nie. – Wessel Lemmer, algemene bestuurder, Agbiz Graan

Vir meer inligting, stuur ’n epos aan Wessel Lemmer by wessel@agbizgrain.co.za.