Francois Wilken, president van Vrystaat Landbou (VL) het in ’n memorandum geëis dat dringende aksie deur die regering geneem moet word om die vlaag plaasaanvalle op produsente en plaaswerkers te stop. Die memorandum is aan senior Vrystaat-staatsamptenare, lid van die uitvoerende raad vir polisie, paaie en vervoer, MS Mashinini, en lid van die uitvoerende raad vir landbou en landelike ontwikkeling, KW Bulwane, gerig.

Read it in English

VL veroordeel gewelddadige kriminaliteit in die algemeen, insluitend geweld teen vroue en kinders, maar spesifiek geweld teenoor produsente en plaaswerkers. In die memorandum eis VL die volgende:

  • Deeglike ondersoek na die korrupte polisie-amptenare wat in veediefstalsindikate geïmpliseer is, soos in ’n verslag met inkriminerende bewyse aangedui. Die verslag is reeds deur VL se Bethlehem Landelike Veiligheidskoördineerder aan die Valke oorhandig. VL is oortuig dat daar ’n direkte korrelasie tussen veediefstal en plaasaanvalle is.
  • Dat groepe en politiese partyverteenwoordigers wat produsente as gronddiewe en uitbuiters etiketteer, dadelik stopgesit word en dat indringende aksie teen diegene wat die geweld en rassehaat aanhits, geneem word.

Senekal-gemeenskap se veiligheid moet nou prioriteit geniet

Volgens Wilken moet alle protesaksie binne die bepalings van die wet gedoen word. “Daar bestaan kommer vanuit die Senekal-gemeenskap dat onverantwoordelike optrede van buitepartye wat probeer om die situasie vir ideologiese en politiese punte uit te buit, wesentlike skade kan berokken,” sê hy.

Die veiligheid en welstand van die Senekal-gemeenskap moet op die voorgrond geplaas word en diegene, asook lede van VL wat die verrigtinge wil bywoon, word versoek dat hulle die impak en moontlike negatiewe gevolge van hul optrede op algemene verhoudinge in ag sal neem, wat betref voorgestelde aksies en die effek wat dit op die landbou en algehele gemeenskap van Senekal sal hê.

VL bevestig sy strewe na stabiliteit en ’n vreedsame samelewing tussen alle gemeenskappe – swart en wit – sê Wilken. “Die landbougemeenskap sal met die owerhede saamwerk, maar sal op ons eie ook aangaan waar ons moet.” – Persverklaring, Vrystaat Landbou