Die boere in die Sentraal en Klein-Karoo is verheug oor die goeie reënval wat hulle die afgelope 24 uur ontvang het.

Charles Muller, ʼn landbouprodusent van Merweville, het vanoggend goeie nuus vanuit dié streek gestuur: “Dit is die beste reën in ons streek sedert Januarie 2014. Hierdie reën is ongelooflik baie werd, en met opvolgreën so elke twee weke kan dit die einde van die langste droogte ooit wees.

“Almal se gemoedere is vanoggend dié van diepe dankbaarheid en positiwiteit. Hierdie afgelope week het boere gesê hulle gaan net aanhou boer tot einde Desember, dan gooi hulle die handdoek in. Nou wil almal net boer!”

PF Theron, Agri Wes-Kaap (AWK) se streeksverteenwoordiger in Sentraal Karoo, meen dié streek het waarlik goeie reën ontvang. “Dit het wyd gereën en ek vermoed niemand is oorgeslaan nie. Dit wissel van 15 tot 100mm. Dit is die beste reën wat ons in ses jaar ontvang het. Ons kan net dankie sê vir hierdie seën!”

Laubscher Coetzee, AWK se streeksverteenwoordiger vir die Klein-Karoo, sê dit reën steeds liggies op sy plaas met ʼn meting van 46mm, waar ander gedeeltes soos Waboomskraal meer as 70mm ontvang het. “Ons klowe het begin loop en die velddamme kry water. Ons weet nog nie hoeveel in die berge nie, maar ek glo dit het daar nog meer gereën.”

Jannie Strydom, hoof- uitvoerende beampte van Agri Wes-Kaap, sê dit is wonderlike nuus vir ʼn streek wat al jare deur swaar droogte geteister is. “Dit is die meeste reën wat die Klein- en SentraalKaroo in jare ontvang het, en hoewel die veld lank gaan vat om te herstel, is ons ongelooflik dankbaar vir elke druppel!” – Persverklaring, AWK