Senwes, een van die grootste landbou-ondernemings in Suid-Afrika, het sy tussentydse finansiële resultate vir die ses maande wat op 31 Oktober 2018 geëindig het, aangekondig.

Die groep het ’n wins na belasting van R156 miljoen gelewer, wat 6,8% hoër is as die vorige jaar. Die genormaliseerde wesensverdienste het met 0,7% na 98,5s per aandeel verhoog. Die balansstaat het, ten spyte van ’n hoër kredietboek, goed presteer en die eiekapitaalverhouding van 42% (36% in 2017) is goed geposisioneer.

Die gronddebat, tesame met politieke onsekerheid, het sakevertroue in die bedryf geknou en produsente het hul beleggings en spandering in dié sektor teruggetrek. Senwes het nie hiervan ontsnap nie en die impak is die duidelikste sigbaar op die spandering aan landboutoerusting. Voeg hierby ’n opbou van mieliesurplusse oor die afgelope twee seisoene en ’n ondergemiddelde voorseisoenreënval, dan is daar groter uitdagings in die huidige seisoen.

Positiewe kontantvloei van R152 miljoen is egter uit bedryfsaktiwiteite gegenereer na die betaling van ’n finale dividend van R47 miljoen vir die 2018 finansiële jaar, sowel as finansieringskoste betaal ten bedrae van R99 miljoen.

Ander finansiële aanwysers in vergelyking met die ooreenstemmende tydperk van die vorige jaar:

  • EBITDA het met 1,5% verhoog, vanaf R330 miljoen na R335 miljoen.
  • Die netto batewaarde het met 11,2% verhoog, vanaf R12,27 na R13,65 per aandeel.
  • Die dividendopbrengs op die gemiddelde markprys het vanaf 2,4% na 3,0% gestyg.
  • Die opbrengs op openingsekwiteit het vanaf 7,3% tot 7,1% verlaag.

Die wins voor belasting van die verskillende segmente is soos volg:

  • Marktoegang het met 2,0% verhoog, vanaf R152 miljoen tot R155 miljoen.
  • Insetverskaffing het met 41,2% verhoog, vanaf R17 miljoen tot R24 miljoen.
  • Finansiële dienste het met 23,9% verhoog, vanaf R67 miljoen tot R83 miljoen.

Vooruitsigte

Die tweede helfte van die jaar sal waarskynlik moeiliker wees weens laat voorseisoen-reën, asook kleiner as verwagte spandering aan kapitaalgoedere.

Dividendverklaring

’n Tussentydse dividend van 30 sent (27 sent in 2017) per aandeel is verklaar. Die laaste dag vir verhandeling, sowel as die rekorddatum, is op 12 Desember 2018. Dividende sal op 13 Desember 2018 betaal word. – Persverklaring

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here