Sernick betaal hoogste prys op Hartebeestloop se produksieveiling

659
HART 17-0007 is geteel uit HART 11-0058 wat in 2017 aan Sernick Bonsmaras verkoop is.

Een van Suid-Afrika se bekendste Bonsmaratelers, Nick Serfontein van die Sernick-groep, het onlangs die hoogste prys op dr Joggie Briedenhann van Namibië se jaarlikse Hartebeestloop Bonsmara-produksieveiling betaal, toe hy die bul HART17-0007 vir N$400 000 (bykans R400 000) gekoop het. Hy het aanlyn op die bul gebie.

“Ek het HART17-0007 se pa op Hartebeestloop se veiling in 2017 gekoop,” sê Nick. “Na net een seisoen hier by my, het die bul gevrek. Gelukkig het ek ’n paar kalwers van hom aangekry wat almal indruk gemaak het. Een van sy seuns is juis Lot 9 op my veiling op 5 Junie.”

Die ruggraat van beeskuddes

Volgens Joggie het hulle baie goeie sukses gehad deur wyle Hansie Steyn (HJS) se diere te paar met Namibiese genetika, veral die Woestyn-Bonsmaralyne.

“Op hierdie nageslag het ons AG-genetika ingebring met groot sukses. Hierdie tipe ‘kruisteling’ binne die Bonsmararas is goed opgeteken in die Hartebeestloopkudde en sulke geteelde bulle doen diens regdeur Namibië. Vir dié rede, word daar steeds van tyd tot tyd kunsmatige inseminasie gedoen met HJS03-0016. Die bul het ook baie goed gedoen in die Arcadia Bonsmarakudde. Sy seun, AG08-0210, het weereens ’n klomp baie sterk bulle op die 2020 AG-veiling gehad.”

HART17-0007 is geteel uit HART11-0058 wat in 2017 aan Sernick Bonsmaras verkoop is. HART11-0058 het baie goed gedoen in die Hartebeestloopkudde. Sy moederlyne is hoogpresterend, met sy ouma aan die vaderskant SA Stamboek Elite Goud-koei HART05-0004, met ’n ouderdom op eerste kalwing (OEK) van 29 maande en ’n TKP van 375 dae oor nege kalwers.

Die ouma aan moederskant was VV06-0084, met ’n OEK van 24 maande en ’n TKP van 398 dae oor agt kalwers. Sy moeder, HART12-0216, se OEK is 17 maande (’n bestuursfout, sê Joggie), met ’n TKP van 392 dae oor vyf kalwers, en sy speen teen 47,9% van haar liggaamsmassa. “Hierdie tipe koeie is die ruggraat van beeskuddes en dra die boer deur die dik en dun tye,” sê hy.

HART17-0007 se teelwaarde-indekse

HART17-0007 is ’n goed bespierde mediumraambul met baie breedte, uitstekende kapasiteit, goeie sprong van rib en goeie diepte deur die voorlyf. Hy is ’n toppresteerder met ’n speenindeks van 95, GDT van 114, veldvoeromset van 112 en ’n veldbulindeks van 113.

“Die Engelse term grass feed efficiency is sekerlik die beste term om veldvoeromset te beskryf,” verduidelik Joggie, “en met ’n 116-indeks tydens die veldbultoets was HART17-0007 die mees uitstaande presteerder.”

Die bul se teelwaarde-indekse is deur die bank baie goed. Daar is genoeg melk (95), goeie voorspeense (111) en naspeense groeivermoë (115), en GDT (111), sonder dat sy volwasse gewig (107) te hoog is. Verder bevestig sy skrotumomtrek (108) sy goeie reproduksie. – Izak Hofmeyr, AgriOrbit