Daar is baie op die spel as dit kom by die bestuur van kleinveekuddes en sekere bestuursfoute kan die produsent duur te staan kom. In hierdie artikel word in besonder gekyk na die belangrike rol wat teel- en vervangingsooie speel, asook die vernaamste bestuursfoute wat die produksie en reproduksie van die kudde benadeel.

1. Vervangingsooie na speen afgeskeep

Speenlammers wat as vervangingsooie geoormerk is, word dikwels tussen speen en eerste paring verwaarloos. Hulle bereik dan moeilik hul ideale paarmassa en ooitjies wat te lig tydens die eerste paarseisoen is, raak moeilik beset. Dit beïnvloed ook hul leeftydproduksie.

Vervangingsooie het nodig om baie gelykmatig vanaf speen tot die eerste paring te groei. Die ideale paarmassa is sowat 80% van die volwasse kudde-ooie se massa by eerste paring. Dit verseker dat die ooi se liggaamsontwikkeling, wat die ontwikkeling van die reproduksie- en hormoonstelsel insluit, optimaal oor hierdie tyd van uitgroei plaasvind.

Ooitjies wat kort voor hul eerste paring te lig is, moet dikwels hewig gevoer word om hul ideale paarmassa te bereik. Hulle sal wel in massa toeneem, maar hoofsaaklik vet aansit. Die res van die noodsaaklike liggaamsontwikkeling sal steeds suboptimaal wees. Dit lei tot diere wat tegnies op gewig is, maar wat nie volledig vir maksimum reproduksie ontwikkel het nie.

2. Liggaamskondisie word nie gemeet nie

Maksimale reproduksie is slegs haalbaar wanneer die teelkudde sekere minimum kondisiepunte tydens spesifieke fases in die reproduksiesiklus behaal. Hier is voorbeelde:

  • Na speen mag die teelooie se kondisiepunt (KP) nie laer as 2,5 sak nie. Ooie wat maerder teen speentyd as dit is, gaan sukkel om betyds die ideale KP vir paring te bereik.
  • By die aanvang van paring is ’n 3 KP die ideaal. Ooie met ’n KP laer as 2, gaan waarskynlik nie beset raak nie. Wees versigtig vir oorvet ooie met ’n KP van 4 en hoër by die aanvang van paring en wat dan kondisie verloor. Hul besetting sal ook benadeel word.
  • Tydens vroeë en middragtigheid is dit gewens dat die ooie hul paringskondisie handhaaf, hoewel ‘n daling na 3 KP toelaatbaar maar nie wenslik is nie, omdat dit die bereiking van die ideale KP by lamtyd bemoeilik. ’n KP swakker as 2,5 is ’n gevaarteken.
  • Die ideale KP tydens laatdragtigheid is 3 vir eenlingooie (net voor hulle lam) en 3,5 en hoër vir meerlingooie.
  • Tweelingooie met ’n KP laer as 2,5 en eenlingooie met ’n KP van 2 en minder, behoort uit die trop verwyder en apart bestuur te word. Eenlingooie, veral tweetandooie, met ’n KP van 4 en hoër kan lamprobleme ondervind en het spesiale toesig tydens lamtyd nodig.
  • Ooie se KP mag nie laer as 2,5 tydens mid- tot laatlaktasie daal nie, anders word die aantal eiselle wat tydens die volgende dekseisoen afgeskei word, benadeel. Moenie toelaat dat die ooie vermaer nie.

3. Ooie en lammers word nie veld toe geskuif nie

Wanneer die lammers sowat ses weke oud is, kla produsente gereeld dat die lammers tot op hierdie stadium goed gegroei het, maar skielik begin agteruitgaan. Hierdie is ’n belangrike tyd vir die lam. Dit is ook wanneer die ooi se melkproduksie vinnig afneem. Die lam moet nou sterk begin vreet om sy kondisie en groei te handhaaf. Die lammers se grootste kompetisie vir voer kom van die ooie af en daarom is dit noodsaaklik om te sorg dat die hele kudde goeie weiding kry.

Daarom is dit ’n goeie tyd om die ooie en lammers na gespaarde veld te skuif en om die lammers van ‘n goeie lek te voorsien, mits hulle 60 dae en ouer is. As die voer op die veld skraps is, kan daar selfs oorweeg word om die lammers vroeg te speen, mits hulle minstens 60 dae oud is, 22kg weeg en reeds goed kruipvoer vreet.

4. Oorslaanooie kry te veel kanse

Skot alle ooie uit wat nie beset raak nie, wat beset raak maar nie lam nie, wat lam maar nie ’n lam speen nie en wat ligte lammers speen. Dit sluit selfs die ooitjies in wat die eerste keer gepaar word of vir die eerste keer lam.

Die rede hiervoor is dat ooie reeds tydens hul eerste lamkans toon of hulle die vermoë het om beset te raak, om dragtigheid te voltooi, om lewendige lammers te lewer en daardie lammers goed groot te maak tot en met speen. Produsente wat jongooie wat nie hierdie eienskappe besit nie konsekwent uitskot, se ooikuddes is aansienlik meer produktief as ooie wat oor en oor kanse kry. Hulle sukkel ook nie om die volwasse ooie beset te kry nie.

’n Studie van die reproduksie van 1 603 vervangingsooie uit die rekords van die Grootfontein, Carnarvon en Elsenburg Merinokuddes, het interessante resultate opgelewer. Die rekords het getoon dat die ooie wat op tweetandouderdom oorgeslaan het, slegs 72% lammers oor die res van hul leeftyd gespeen het. Dit beteken hulle het minstens nog een keer in die res van hul leeftyd weer oorgeslaan.

Die ooie wat op tweetandouderdom een lam gespeen het, het oor die res van hul leeftyd gemiddeld 84% lammers gespeen. Dié wat op tweetandouderdom twee lammers gespeen het, het oor die res van hul leeftyd 107% lammers gespeen. Dit bewys dat ooie wat goed tydens hul eerste lamkans reproduseer, hierdie tendens oor die res van hul reproduktiewe lewe sal voortsit.

5. Te vroeg en op sig geselekteer

Produsente verwag dikwels van veekonsultante om reeds op speenouderdom vir hulle ’n groep top vervangingsooie met die hand en oog te selekteer. Dit is menslik onmoontlik om dit suksesvol te doen.

Met inagneming van die voorafgaande inligting, sal ’n beter strategie die volgende wees:

  • Skot by speen net daardie ooitjies uit wat te klein is of wat werklik nie aan die rasstandaarde voldoen nie.
  • Doen ’n tweede seleksie op die ouderdom van twaalf maande en skot dié uit wat swak gegroei het tussen speen en seleksiedatum.
  • Die res word almal gehou en op die geskikte ouderdom gepaar. Doen ‘n finale seleksie uit dié wat dragtig is, met voorkeur aan die ooitjies wat meerlinge dra.
  • Dragtige ooitjies wat nie geselekteer word nie, kan as boervee teen ’n premie verkoop word.
  • Die wat nie dragtig is nie moet liefs geslag word. Hulle sal weer oorslaan en hoort nie in die bedryf nie.

6. Intensivering sonder genetiese vermoë

Dit lyk altyd baie aantreklik om ’n ooikudde se swak reproduksie met ’n stelsel van intensiewe bestuur te verbeter, waarvan voeding ’n belangrike komponent uitmaak. Dikwels het hierdie kudde egter nie die genetiese vermoë om intensiewe voeding winsgewend in produksie om te sit nie en is die produsent dan ontnugter, teleurgesteld en ’n paar rand armer.

Dit gebeur met ooikuddes waarmee daar vir dekades onder ekstensiewe toestande geboer is en waar geen seleksiedruk ooit op reproduksie was nie. So ’n kudde kan moontlik ’n goeie besetting hê, maar sal waarskynlik nie die genetiese vermoë besit om die ekstra kos wat hulle ontvang, winsgewend in hoër reproduksie om te skakel nie.

Maak seker dat die kudde intensivering suksesvol in geld kan omskakel, vóór daar na so ’n stelsel oorgeskakel word.

7. Ramme word op sigwaarde aangekoop

Die ramme op ’n plaas maak net sowat 3% van die veestapel uit, maar maak ’n 50% bydrae tot die nageslag se genetiese samestelling. Daarom is dit belangrik om die regte ramme aan te koop.

Die bekende veekundige, dr Buks Olivier, het altyd die illustrasie van ’n liggaamsbouer gebruik en produsente dan gevra of die nageslag van die liggaamsbouer soos hul pa gaan lyk. Die antwoord was altyd nee, want die liggaamsbouer se uiterlike is grotendeels die gevolg van die ure se oefening in die gimnasium en nie noodwendig sy genetiese samestelling nie.

Dit beteken dat hy nie dit wat hy in die gimnasium bereik het, na sy nageslag kan oordra nie. Hulle sal eerder lyk soos hul pa gelyk het voordat hy begin spiere bou het. Tog koop boere ramme wat groot gevoer is op sigwaarde, sonder om hul genetiese vermoë in ag te neem. – Dr Louis du Pisani, onafhanklike landboukonsultant

Vir meer inligting of navrae rondom opleiding in reproduksie- en kuddebestuur, kontak dr Louis du Pisani by 082 773 9778 of Ldupisani@gmail.com.