Só lyk die ooie wat gebruik word om geneties meerderwaardige en funksioneel doeltreffende Boerbokke te teel.

Estimated reading time: 7 minutes

Boerbokke in die Shongololo-stoetery word met dieselfde presisie as die eksotiese wild op dié plaas geteel, om diere wat geneties meerderwaardig en genotipies korrek is, te produseer. Groot welslae is al behaal en van hierdie uitstaande diere se spore lê reeds wyd oor Afrika en die Ooste.

Read it in English.

Uitsonderlike bestuurstelsels word gebruik om die Shongololo-stoet in die hoë koppe neffens die Loskopdam by Groblersdal, in staat te stel om beperkende omgewingstoestande te oorkom en optimaal te produseer.

Hulle gebruik byvoorbeeld ’n interessante weistelsel, waarvolgens hulle kampies van 30 tot 60ha met verskuifbare hekkies van drie meter lank bou en die veld daarbinne dan druk bewei. Tussen 200 en 300 diere loop op ’n slag daarin en vreet die weiding behoorlik af. Dit maak dit maklik om al die diere saans kraal toe te bring en skade deur ongediertes só uit te skakel.

Twee werkers bou die kampies binne vier tot ses dae. Met dié stelsel word die bokke gedwing om die weiding optimaal te benut, deur nie kieskeurig te kan vreet nie. Terselfdertyd word bosindringing beveg en brandbane geskep.

Klein begin, groot gewin

Fouchè Blignaut het die plaas in 1986 gekoop en met wild begin boer terwyl hy ’n hardeware-onderneming op Groblersdal bedryf het. In 2013 is hy voltyds plaas toe, waar hy vandag saam met sy kuddebestuurder, Franscois Bouwer, wat in 2016 by hom aangesluit het, met sowat 700 stoetooie boer.

Franscois Bouwer en Fouchѐ Blignaut.

Die stoetery is met ongeveer 50 ooie en twee ramme van bekende telers begin en was aanvanklik daarop gemik om te sien hoe die diere sou vaar in dié gebied wat nie tradisioneel kleinveewêreld is nie. Die bokke het vinnig en goed aangepas, en die bergagtige weidings met baie vreetbare bosse uitstekend benut. Hulle is ook hanteerbaar en gehard. Van die begin af is die bokboerdery as ’n presisieboerdery ontwikkel, en het gou tot 400 ooie gegroei.

Aan die einde van 2018 het Fouchè en Franscois lank gesels oor waarheen hulle met die Boerbokke op pad is. Hulle het besluit dat, net soos in Fouchè se wildonderneming, uitstaande genetiese materiaal die enigste manier is om die Boerbokstoetery volhoubaar winsgewend te maak.

Teeldoelwitte gestel

Hulle het weer die beste teelmateriaal gaan soek en daarby ook ’n hele stoet gekoop, sodat hulle in 2020 ongeveer 1 200 Boerbokke gehad het. Die diere is krities bekyk en daar is besluit dat eienskappe soos geboortegewig, speengewig, groei ná speen, vrugbaarheid en ooie se vermoë om meerlinge te gee, verbeter moes word.



Die ooie in die kudde het nie noodwendig te kort geskiet nie, maar om die eienskappe verder te verbeter, is die ooie met ’n fynkam deurgegaan en die 700 bestes is behou. Die plan was om hul teeldoelwit binne drie jaar te bereik.

Daarna is ’n soektog na die top Boerbokramme van stapel gestuur. Die wêreldkampioen-sestandram, Fanbelt, asook die ram wat derde plek tydens dié beoordeling behaal het, naamlik Conveyor, het staanplek in die Shongololo-stoet gekry. Die bloedlyne wat hulle nou gebruik en die streng seleksie wat toegepas word, maak teeldiere uit dié kudde baie gesog.

Kundigheid tot voordeel ingespan

Die geykte stelling lui ‘om te meet is om te weet’. Hulle het dit egter aangepas na ‘ons weet dat ons nie weet nie’. Daarom gebruik hulle kundiges op elke gebied om insette oor seleksie, weiding, byvoeding en gesondheid te lewer.

Franscois sê hulle het byvoorbeeld lank gesukkel om die regte byvoeding te kry om hulle Boerbokke ideaal te laat presteer. In die somer is die weiding voedsaam, maar in die winter daal die voedingswaarde skerp. Vandag het hulle byvoeding vir elke seisoen en produksiestadium wat, saam met die goeie genetiese teelmateriaal, uitstekende produksie moontlik maak.

Só kon hulle die geboortegewig van die lammers met gemiddeld sowat 25% verhoog tot tussen 4,2 en 5,2kg vir enkel lammers, tussen 3,8 en 4,4kg vir tweelinge, en 2,8 tot 3,2kg vir drielinge. Dit is bevredigende geboortegewigte wat sorg vir lewenskragtige lammers, maar nog geen lamprobleme veroorsaak nie. Só het hulle die lamvrektes van ongeveer 9%, na 2% laat daal.

Vrugbare ooie

Om vrugbaarheid te bevorder, gebruik hulle toenemend teeldiere wat deel van ’n meerling was. Hoewel Boerbokooie drie keer in twee jaar kan lam, is Fouchè en Franscois tevrede met een lamtyd per jaar. Dit plaas minder spanning op die ooie, wat hul produktiewe lewe met tot drie jaar verleng.

Twee dektye, die eerste in April en Mei, en weer in Oktober en November, word gebruik. Sowat 80% van die ooie word kunsmatig geïnsemineer met semen van ramme wat sorgvuldig volgens hul stambome uitgesoek word. Die eienskappe waarna hulle mik word sodoende verbeter en korrektiewe teling word toegepas om ekonomies belangrike eienskappe verder te verbeter. Dit is slegs jong ooitjies wat natuurlik gedek word.

Die ooie word gesinkroniseer sodat 100 ooie op ’n slag, twee weke uitmekaar geïnsemineer kan word om die drukte met lamtyd te versprei. Met dié stelsel teel hulle nie net fyner en vorder geneties vinniger nie; dit word met minder, maar beter, ramme gedoen. Ná sowat 46 dae word die ooie geskandeer om dié wat meerlinge dra te identifiseer en hul voeding daarvolgens aan te pas.

Lam- en speentyd

Die ooie lam in lamkampies sodat goeie toesig gehou kan word. Sodra die lammers sterk is, gaan die ooie bedags veld toe en bly die lammers in die kraal. Vanaf die sewende dag word kruipvoer vir die lammers beskikbaar gestel. Omdat hulle bedags op kraal staan en nie heeldag kan suip nie, leer hulle vinniger om te vreet en is speenskok minder problematies.

Drukbeweiding word toegepas in kampe wat van hekkies gemaak is. Met dié stelsel word die bokke gedwing om nie kieskeurig te vreet nie.

Die lammers word op 100 dae gespeen, wanneer die enkelinglammers gemiddeld 21 tot 28kg weeg. Van die uitskietlammers weeg soveel as 32kg. Die meerlinglammers weeg sowat 10% ligter. Die speenpersentasie is 95% en hoër. Tot met speentyd word die lammers elke week geweeg om hul groei dop te hou. Hierdie inligting vorm deel van die omvattende data oor elke dier wat tydens seleksie gebruik word.

Keuring en seleksie

Ná speen staan die lammers 100 dae in ’n voerkraal om hulle optimaal te laat uitgroei. Dan word hulle gekeur en veld toe gestuur tot hulle sowat elf maande oud is. Daarna word hulle finaal gekeur, vervangingsdiere word uitgesoek en diere word vir hulle produksieveiling geïdentifiseer. Dié wat nie slaag nie, word in die kommersiële kudde opgeneem.

Vanjaar het hulle 40 ooie en 15 ramme op die Befonk Boerbok-veiling saam met die bekende teler, Lukas Burger, aangebied en besonder goed gevaar. Een van hulle diere was die duurste ooi op die veiling en is teen R125 000 verkoop. Een van hul ramme is vir R140 000 verkoop. Verseker ‘n kudde wat nie terugstaan vir ‘n bietjie steilte nie! – Andries Gouws

Vir meer inligting, kontak Fouchѐ Blignaut by 082 492 7388 of epos foucheb@ctecg.co.za, of Franscois Bouwer by 082 924 9419 of epos fjbouwer@gmail.com.

Brahman, Boer Goat, predasiebeheer