Talle beesprodusente probeer hul winsgewendheid verbeter deur in superieure bulle, wat genetiese verbetering bevorder en die totale produksie van vleis en melk verhoog, te belê. Kunsmatige inseminasie (KI) stel produsente in staat om ’n spesifieke bul wat met ’n spesifieke koei gepaar word, met die hand uit te soek.

In teenstelling met natuurlike of onbeheerde paring, gee hierdie teelmetode aan kommunale produsente meer beheer oor die kalfdatum om sodoende te verseker dat voldoende voedingsbronne, wat geneig is om dwarsdeur die jaar te wissel, beskikbaar is. Vir beide kommunale en kommersiële produsente bied KI ook ’n goedkoper alternatief tot die aankoop van ’n bul, aangesien een semenstrooitjie slegs sowat R100 tot R250 kos, terwyl ’n goeie bul jou ’n minimum van R20 000 uit die sak sal jaag.


Volg dié skakel om meer oor die voordele van KI en sinkronisasie in beeskuddes te lees:


Biosekuriteit moet egter nooit agterweë gelaat word wanneer nuwe genetiese materiaal in die kudde opgeneem word nie. Alhoewel Suid-Afrika streng regulasies ten opsigte van biosekuriteit toepas, is dit uiters belangrik dat elke produsent wat KI aanwend, op hoogte bly van teeltoestande, prosesse en biosekuriteitsprotokolle.

Voordele en hindernisse

KI behels die insameling, evaluering en inseminasie van semen uit ’n vrugbare bul, in die baarmoeder van ’n koei. Dit stel produsente in staat om die reproduksiedoeltreffendheid van ’n kudde te verbeter, sekere diere te kruis, hitteverdraagsaamheid en weerstand teen bosluisoorgedraagde siektes in toekomstige geslagte te verhoog, en uiteindelik die produksie van hul kuddes te verbeter.

Alhoewel die voordele van KI die nadele oorskry, vereis hierdie teelpraktyk wel sekere bestuursvaardighede en geriewe op die plaas, wat beteken dat nie alle produsente KI op hul koeie kan gebruik nie.

Semenstrooitjies moet duidelik en korrek gemerk word.

Die kwessie van siekteoordrag

Volgens die Landbounavorsingsraad (LNR) is dit meer waarskynlik dat die oordrag van siektes met natuurlike paring gepaardgaan. Streng maatreëls vir biosekuriteit, toetse vir siektes en ’n goeie inentingsprogram wat deur ’n plaaslike veearts goedgekeur is, kan wel die oordrag van siektes tydens natuurlike paring bekamp.

Om die oordrag van siektes deur KI uit te skakel, moet streng toetsing van die semen- en semenskenker – soos deur die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye (DLBV) in die Wet op Diereverbetering, 1998 (Wet 62 van 1998), die Wet op Dieresiektes, 1984 (Wet 35 van 1984) en die Veeverbeteringswet, 1977 (Wet 25 van 1977) uiteengesit – deur gekwalifiseerde persone, onder toesig van veeartse en staatsveeartse, by geregistreerde fasiliteite in Suid-Afrika uitgevoer word.

Hierdie reguleringspraktyke word deur talle regerings regoor die wêreld gebruik om die verspreiding van aansteeklike siektes te voorkom en semenbesmetting deur bakterieë te verminder.

Die Wet op Diereverbetering

Die Wet op Diereverbetering bepaal die spesifieke voorwaardes en vereistes waaraan voldoen moet word om koeie kunsmatig te insemineer. Dit bepaal hoe die insemineerder, semenversamelaar, embrio-insamelaar of embrio-oordraer geregistreer en opgelei moet word.

Opleiding moet alles van fisiologie, reproduksiesiektes en die basiese beginsels van veeartsenykundige higiëne, tot die teorie van veeteelt en genetika dek, om te verseker dat die insemineerder van die regulasies en korrekte prosedures wat gedurende die insameling, oordrag en inseminasie gevolg moet word, bewus is. Dit moet ook ’n praktiese komponent insluit wat deur ’n onafhanklike veearts goedgekeur moet word voordat sertifisering uitgereik word.

Dr Morné de la Rey is ’n veearts, embrio-oordragspesialis en direkteur van Embrio Plus. In 2003 het hy en sy span spesialiste kragte saamgesnoer met die Deense Instituut vir Landbouwetenskappe, om ’n koei te kloon – die heel eerste dier wat in Afrika gekloon is.

Hy sê die Veeverbeteringswet en die Wet op Dieresiektes bepaal die vereistes waaraan geregistreerde KI-bulle moet voldoen om gesonde semen te skenk. “Die DLBV het ’n lys van siektes opgestel waarvoor ’n bul getoets moet word voordat sy semen versprei mag word. Alle geregistreerde semen moet by geregistreerde kwarantyn- of KI-sentrums afgehaal word.”

Registrasie van KI-sentrums

Om ’n KI-sentrum te registreer, moet die perseel aan sekere vereistes voldoen, insluitend:

  • Die kwarantyngebied moet omhein word sodat diere in kwarantyn nie met mekaar of met diere van buite in aanraking kan kom nie.
  • Die kwarantyngebied moet met stalle en hokke toegerus wees om genetiese materiaal van kwarantyndiere in te samel, te ondersoek en te toets.
  • Die gebied moet verseël word sodat afvalwater nie van die een kwarantynstal of -hok na ’n ander kan vloei nie.
  • Kamers wat vir verskillende aktiwiteite gebruik word, moet van mekaar afgesper word indien dit in dieselfde gebou geleë is.
  • As ’n dier wat vir semenversameling goedgekeur is uit die geregistreerde sentrum verwyder word, moet die persoon wat vir die sentrum verantwoordelik is, die registrateur skriftelik daarvan in kennis stel, met die datum en redes vir die verwydering van die dier.
  • Die geregistreerde sentrum mag slegs diere wat deur die onderskeie telersgenootskappe en die registrateur van veeverbetering vir die insameling van genetiese materiaal goedgekeur is, in kwarantyn toelaat.

Alhoewel hierdie nie ’n volledige lys van al die regulasies is wat by ’n KI-sentrum nagekom moet word nie, benadruk dit wel die klem wat hierdie fasiliteite op biosekuriteit plaas om te verseker dat siekte-oordrag tot die minimum beperk word.

Geakkrediteerde laboratoriums het streng prosedures in plek om te sorg dat semen wat vir kunsmatige inseminasie ingesamel word, vry van siektes is.

Mediese ondersoek van bulle

Skenkerbulle wat in kwarantyn aangehou word, moet binne 30 dae na semeninsameling, op die dag van insameling, asook 14 dae nadat die semen getap is, ’n kliniese ondersoek ondergaan.

Volgens dr De la Rey hou KI, in vergelyking met die vervoer van lewendehawe, ’n lae risiko vir die oordrag van siektes in. Die lae oordragsrisiko word egter slegs gewaarborg as geregistreerde bulle en kwarantynsentrums gebruik word.

“As die blootgestelde semen van ’n bul wat met ’n virussiekte soos beesvirusdiarree (BVD), besmetlike beesrinotrageïtis (IBR) of bek-en-klouseer besmet is, ingesamel en op ’n groot aantal koeie gebruik word, kan die siekte redelik vinnig deur die land versprei. Daarom is dit belangrik om slegs semen van geregistreerde bulle, wat in ’n geregistreerde sentrum waar die nodige toetse gedoen is getap is, te gebruik.”

Bulle moet binne 30 dae na semeninsameling deur ’n geakkrediteerde laboratorium vir die volgende siektes getoets word:

  • Tuberkulose.
  • Brusellose.
  • Trigomoniase.
  • Kampilobakteriose.
  • Leptospirose.
  • Ensoötiese beesleukose (EBL).
  • BVD.
  • IBR.
  • Slenkdalkoors.
  • Knopvelsiekte.
  • Brucella-kultuurtoetse op gevriesde en vars semen.
  • Makroskopiese evaluasie, wat ’n bakteriologiese ondersoek insluit.

Alle toetse moet deur ’n geregistreerde privaatveearts uitgevoer word en die gesondheidsertifikaat moet deur ’n veearts wat amptelik deur die DLBV gemagtig is, onderskryf word voordat die bul vir semenversameling goedgekeur mag word.

“Alhoewel BVD, knopvelsiekte, Slenkdalkoors, bek-en-klouseer en IBR deur KI oorgedra kan word, kan die gevolgtrekking steeds gemaak word dat getoetste semen ’n baie veiliger manier is om nuwe genetiese materiaal in ’n kudde in te bring, as om lewendige diere te vervoer,” meen dr De la Rey.

KI en biosekuriteit op plase

Het besmette bulsemen wat vir KI gebruik is al ooit ’n siekte-uitbreking in Suid-Afrika veroorsaak? Nie amptelik nie, sê dr De la Rey. “Die algemene gevoel is dat die wye en vinnige verspreiding van BVD in die 1990’s, tesame met die uitbrekings op plase waar geen nuwe vee ingebring is nie, waarskynlik deur ongeregistreerde en ongetoetste semen veroorsaak is.

“Dit gebeur gewoonlik wanneer ’n produsent semen van die bulle op sy plaas versamel en dit dan vir ander semen ruil of verkoop, of dit aan ander produsente skenk sonder om dit te laat toets. Dit kan tot die oordrag van siektes lei.”

Hoewel siekteoordrag uiters onwaarskynlik is wanneer ’n produsent slegs getoetste semen van geregistreerde sentrums gebruik, wie word dan aanspreeklik gehou as ’n siekte wel in ’n kudde ingebring word? Volgens dr De la Rey kan niemand aanspreeklik gehou word nie, mits die nodige toetse uitgevoer en voorsorgmaatreëls getref is, aangesien semen ’n biologiese produk is. As nalatigheid in die toetsprosedures bewys kan word, kan die betrokke sentrum of laboratorium wel aanspreeklik gehou word.

Wat biosekuriteit betref is geregistreerde, getoetste semen wat vir KI-doeleindes gebruik word, uiters veilig. Die wette en regulasies wat op KI-praktyke van toepassing is, beskerm kopers. Indien semen van ’n ongetoetste bron vir KI gebruik word, kan dit egter siektes oordra en versprei. – Claudi Nortjé, Veeplaas

Vir meer inligting, kontak dr Morné de la Rey op 082 553 1260
of besoek www.embryoplus.com.