Van links na regs is Gerhard Engelbrecht van Pannar Saad, Heinrich Meyer van Strapping & Profile, Mia Steyn van Kemin Industries, dr EIrissa Taljaard van Labworld, Leandri Strydom van Kemin Industries, Hanlie Kroese van Santam, en Richardt Venter van Agsci Unlimited.

Die wenners in die sewende Plaas Media Santam Landbou Nasionale Kuilvoerkompetisie is tydens ’n virtuele aanbieding in Centurion, Gauteng aangekondig. Borge, organiseerders en lede van die monsternemingspan het op 21 Oktober 2020 by Plaas Media in Centurion bymekaargekom vir ’n spesiale video-aanbieding oor die kompetisie en vanjaar se wenners. Tydens die aanbieding is Simpson & Son Farming van KwaZulu-Natal as die 2020-kuilvoerkoning gekroon.

Read it in English

Die video kan by hierdie skakel op die Plaas TV YouTube-kanaal gekyk word:

Die kuilvoerkompetisie in ‘n neutedop

Vanjaar se kompetisie het alle verwagtinge oorskry met ’n totaal van 84 inskrywings bestaande uit 56 bunkers en 23 silosakke. ’n Totaal van 63 mielie-, ses sorghum- en 14 hawer-inskrywings is ontvang.

Daar is ook vanjaar ’n toetskategorie vir kuilvoerbale geloods. Vyf inskrywings bestaande uit een lusern-, een sorghum- en drie mieliekuilvoerbale is ontvang. Hoewel hierdie nog nie ’n formele kompetisiekategorie is nie en vir die afsienbare toekoms, totdat die protokol in plek is, eers ’n toetskategorie sal bly, het die organiseerders dit goedgedink om wel die naam van die hoogs geplaaste baal bekend te maak.

Die monsternemingspan het vanjaar uit studente van drie universiteite bestaan, wat die monsters onder leiding van Erna Mostert, assistent-kompetisiekoördineerder van AgSci Unlimited, geneem het. Die studente was Matthew Kinghorn van die Universiteit van die Vrystaat, Pieter Uys van die Universiteit van Stellenbosch, en Timothy Chilemba van die Universiteit van Pretoria. Die monsterontleding is deur Labworld gedoen.

Die resultate is deur prof Robin Meeske van die Outeniqua-navorsingsplaas en voorsitter van die kompetisie se protokolkomitee, nagegaan en geverifieer. Meeske het tydens die video-aanbieding gesê die standaard van vanjaar se inskrywings was baie hoog en het duidelik getoon dat daar vooruitgang in die gehalte van kuilvoer is.

“Een van die aspekte wat beslis uitgestaan het, is dat meer produsente op die regte stadium hulle kuilvoer sny, veral mielies. Al hoe meer van die inskrywings kom nader aan die ideale droëmateriaal (DM)-inhoud,” het hy gesê. “Wat die 2019-inskrywings betref, was 70% van die inskrywings se DM-inhoud tussen 30 en 40%. Optimale DM-inhoud is 35%. Vanjaar was 79% van die inskrywings se DM-persentasies op hierdie vlak. Dit is werklik bemoedigend.”

Vanjaar se borge en deelnemende maatskappye

Santam Landbou was weereens die hoofborg van vanjaar se kompetisie. Hulle is sedert die begin van die kompetisie as hoofborg betrokke en het reeds hulle borgskap vir die 2021-kuilvoerkompetisie bevestig. Hanlie Kroese, bestuurder van strategiese vennootskappe by Santam, het gesê die versekeraar is baie trots op sy assosiasie met die kompetisie. “Hierdie is een van ons uitstaande borgprojekte en dit speel ’n sentrale rol in Santam se strewe om meer as net ’n versekeraar te wees. Die data wat deur die kompetisie gegenereer word voeg enorme waarde tot die bedryf by en bied aan ons ’n baie duidelike prentjie van hoe wetenskaplike landbouers hulle boerderybesighede benader.”

Vanjaar se prysborge was Kemin, Pannar Saad, Nutribase, Strapping & Profile, en Hurwitz Farming. Duursame pryse is vanjaar deur die kategoriewenners gewen en behels saad geborg deur Pannar Saad, inokulante deur Nutribase, kuilvoerseile deur Strapping & Profile, rugsakspuite vir Kemin se bolaagtoediening, asook die maak van graskuilvoer in ’n silosak vir die wenner deur Hurwitz Farming.

Tydens die aanbieding het Heinrich Meyer van Strapping & Profile ook bekendgemaak dat Rani Plast, die verskaffer van die kuilvoerseile wat aan die kategoriewenners gegee word, ook een gelukkige inskrywing na hul fabriek in Finland gaan neem. Die trekking is tydens die geleentheid gedoen en Greg Todd van Marshmead is die wenner van hierdie ten volle betaalde reis na Finland.

Maatskappye wat vanjaar hulle kliënte of hul eie kuilvoer ingeskryf het was AFGRI Veevoere, BAG Budissa Agroserv, Hurwitz Farming, Kemin, Meadow Voere Natal, Meadow Voere Paarl, Nutribase, Pannar Saad, TWK Agri, Sparta Baby Beef, Sparta Beef, Bovasol, Bergstroom Boerderye, Strapping & Profile en Vosstoffel (Edms) Bpk. In die toetskategorie het Saxeni Agric, Burger Familietrust en Tomfer Boerdery bale ingeskryf.

Lynette Louw, hoof uitvoerende beampte van Plaas Media, het gesê dit is verblydend dat soveel maatskappye aan vanjaar se kompetisie deelgeneem het, ten spyte van die omstandighede waarin die land hom bevind het. “Dit is ook ’n riem onder die hart dat dieselfde maatskappye ons jaar na jaar ondersteun met inskrywings. Dit is ’n teken van die vertroue wat in die kompetisie se protokol en uitslae geplaas word, en natuurlik die waarde wat dit tot die bedryf toevoeg. Kuilvoer is ’n integrale deel van veeboere se voervloei en dit is in die veebedryf se beste belang dat goeie kuilvoerpraktyke toegepas word.”

Richardt Venter van Agsci Unlimited, die kompetisiekoördineerder, het bygevoeg dat die kompetisie ’n objektiewe evaluering van kuilvoer bied en dat die verslae wat hieruit gegenereer word, boere in staat stel om hul kuilvoer en kuilvoerbestuurspraktyke te verbeter. “In hierdie opsig is dit belangrik om te weet dat ’n klein inset ’n baie groot verskil kan maak,” het hy afgesluit.

Aankondiging van wenners

Die aankondiging van die wenners is deur Emil Pretorius, bestuurder van besigheidsontwikkeling by Santam, gedoen.

Voersorghumwenners

  • Kategoriewenner: Hurwitz Farming (Edms) Bpk, Jarren Hurwitz (silosak deur hulleself ingeskryf). Hurwitz Farming het hierdie kategorie ook in 2019 gewen.
  • Tweede plek: Winterstorm Investments, Marcu van Rensburg (bunker deur TWK Agri ingeskryf).
  • Derde plek: Vosstoffel (Edms) Bpk, Jaco de Vos (bunker deur hulleself ingeskryf).

Hawerwenners

  • Kategoriewenner: Groenwei Boerdery, Bull van Rensburg (kuilvoerhoop ingeskryf deur AFGRI Veevoere).
  • Tweede plek: Waplaas Boerdery, Johan Wessels (silosak ingeskryf deur BAG Budissa Agroserv).
  • Derde plek: De Draay Boerdery, Awie Erasmus (kuilvoerhoop ingeskryf deur Meadow Voere Natal).

Mielie-wenners

  • Kategoriewenner: Simpson & Son Farming, Shane Simpson (bunker ingeskryf deur Meadow Voere Natal).
  • Tweede plek: Burnview (Edms) Bpk, Hayden Stokes (bunker ingeskryf deur Pannar Saad).
  • Derde plek: Diamond Duo Properties, Juan Helberg (kuilvoerhoop ingeskryf deur Nutribase).

Toetskategorie vir bale

  • Hoogs geplaaste baal: Toegedraaide lusernbaal van Emje Ferreira van Saxeni Agric.

Die 2020-kuilvoerkoning: Simpson & Son Farming

Die algehele wenner in vanjaar se kompetisie is Simpson & Son Farming van Shane Simpson in KwaZulu-Natal. Simpson & Son Farming se kuilvoerbunker is deur Meadow Voere Natal ingeskryf en het ’n totale punt van 87,6 behaal. Volgens prof Meeske het talle aspekte van hierdie kuilvoer uitgestaan, maar veral die algehele kompaksie, die bolaagkompaksie, kuilvoerstabiliteit, hoë styselinhoud, hoë energiewaarde en uitstekende preservering het hierdie kuilvoer laat uitstaan bo die res. Die feit dat hulle verlede jaar in die tiende plek was en vanjaar as wenners uit die stryd tree is ’n besliste aanduiding van die kompetisie se waarde as dit kom by verbeterde kuilvoerpraktyke, het Meeske gesê.

Shane se seun is onlangs tragies oorlede na ’n veldbrand en die Simpson-gesin gaan tans deur ’n baie moeilike tyd. Pretorius het tydens die bekendmaking van die wenners die medelye van die borge en organiseerders aan die gesin oorgedra.

Die 2021-kompetisie

Inskrywings vir die 2021 Santam Landbou Nasionale Kuilvoerkompetisie sal op 1 Januarie 2021 open. Hou Plaas Media se platforms dop vir meer inligting en lees gerus die Desember 2020-uitgawe van Veeplaas, waarin daar gefokus sal word op vanjaar se kuilvoerkompetisie en data. – Persverklaring, Plaas Media