SIYABONGA-dag fokus op uitdagings én geleenthede

37

Die Suid-Afrikaanse wynbedryf beleef tans ongekende uitdagings, maar laagtepunte bied dikwels ook geleenthede vir groei. Dít is die tema van Agri-Expo se eerste SIYABONGA-dag vir 2021, wat volg op die sukses van die eerste drie SIYABONGA-dae wat in 2020 aangebied is. 

Die Wellington SIYABONGA-dag vind op 31 Maart by Thokozani Konferensies op Diemersfontein Wine and Country Estate plaas, maar word regstreeks uitgesaai sodat landbouers en aspirantboere van oraloor kan deelneem.

SIYABONGA skep ’n innoverende platform vir die landbougemeenskap om saam te kan gesels oor uitdagings én geleenthede in die bedryf, sê Breyton Milford, operasionele bestuurder van Agri-Expo.

“Die SIYABONGA-dae gee basiese landbou-inligting deur in ’n unieke formaat waar landbouers ’n platform met kenners in die bedryf deel, die geleentheid kry om vrae te vra en sodoende hul kennis verbreed om uiteindelik meer produktief te wees.”

Volgens Milford is die woord ‘siyabonga’, wat ‘dankie’ beteken, ook ’n akroniem vir ‘Sharing Information to Improve Yields in Agriculture for a Better-Off Next Generation of Agriculturalists’.

Vroue en jongmense in die wynbedryf

Vier kundiges sal tydens die Wellington SIYABONGA-dag raad en insig oor bemagtiging in die bedryf, asook oor geleenthede vir vroue en jongmense deel:

  • Die veelbekroonde Denise Stubbs, besturende direkteur van Thokozani Wines, sal oor transformasie in die bedryf gesels. Thokozani Staff Holdings, ’n bemagtigingsonderneming wat deur 65 werknemers van Diemersfontein besit word, het onlangs die meerderheidsaandeelhouer van die Diemersfontein-handelsmerk geword.
  • Wendy Petersen, operasionele bestuurder van die SA wynbedryftransformasie-eenheid (Sawitu), sal ’n toekomsvisie vir ’n inklusiewe bedryf deel. Petersen het meer as 27 jaar se ervaring in die wynbedryf. By Sawitu fokus Petersen daarop dat ondernemings en boerderye in swartbesit die nodige mentorskap, befondsing, bemarking en tegniese ondersteuning ontvang om te verseker dat hul ondernemings volhoubaar is.
  • Inspirasie kom van die 24-jarige Kelsey Shungking, wat die afgelope drie jaar ’n protégé van die Kaapse Wynmakersgilde is. Shungking, wat tans ’n internskap by Mullineux & Leeu Family Wines doen, sal gesels oor haar ervaring van geleenthede vir vrouewynmakers.
  • Brenton Maarman, dosent in mikrobiologie en wingerdkunde by Elsenburg Landbou Opleidingsinstituut, sal op opleiding- en loopbaangeleenthede vir jongmense fokus. Maarman was in 2011 ’n ontvanger van die Kaapse Wynmakersgilde se protégé-beurs as BSc Agric-student in wingerd- en wynkunde aan die Universiteit van Stellenbosch, waar hy ook ’n meestersgraad  in wynmikrobiologie verwerf het.
Wendy Petersen, operasionele bestuurder van Sawitu, sal ’n toekomsvisie vir ’n inklusiewe wynbedryf deel by Agri-Expo se Wellington SIYABONGA-dag, wat gratis aanlyn bygewoon kan word.

Die SIYABONGA-dae word met die ondersteuning van die Wes-Kaapse Departement van Landbou aangebied, met wie Agri-Expo reeds sedert 2014 saamwerk om veral kleinboere in die Wes-Kaap van inligting te voorsien.

Weens Covid-19-regulasies kan slegs ’n beperkte aantal persone die dag bywoon, maar belangstellendes kan van 10:00 tot 13:00 gratis aanlyn inskakel, vrae vra en deel van die gesprek wees deur by www.siyabongadays.co.za te registreer.

Die program word in Engels aangebied, maar vrae kan ook in Afrikaans gestel word. Opnames van vorige SIYABONGA-dae is steeds gratis by www.agriexpo.co.za en www.livestock.org.za beskikbaar. Vir meer inligting, kontak Agri-Expo by 021 975 4440 of admin@agriexpo.co.za en volg @AgriExpo1 op sosiale media. – Press release, Agri-Expo