Die Veeplaas Intensiewe Skaapproduksieskool in samewerking met Mamre Intensiewe Skaapproduksie en die Universiteit van die Vrystaat het onlangs sy vlerke gesprei toe ’n tweedaagse skool by die Royal-skou in Pietermaritzburg aangebied is. Dit was die tweede van altesaam vier skole wat vanjaar regoor die land aangebied word. Die eerste was in April in Bloemfontein, die tweede in Pietermaritzburg, die derde in Julie in Port Elizabeth en die vierde in September op Bredasdorp.

Asof dit nie genoeg wys dat die Veeplaas Intensiewe Skaapproduksieskool ’n duidelike aar raak geboor het nie, word dié geleentheid se internasionale profiel ook aansienlik groter met die pas afgelope Skaapskool in Argentinië in Julie en ’n boeredag in Botswana.

Meer as 40 sitplekke was in die lokaal op die Royal Agricultural Society se terrein in Pietermaritzburg beskikbaar, en dié plekke is lank voor die tyd reeds bespreek. Die soeke na volhoubare oplossings vir die vernaamste probleme van skaapproduksie, naamlik predasie en diefstal, was baie duidelik uit die mense wat die skool bygewoon het en die vrae wat in die vraesessies gevra is. Die aanwesiges het gewissel van ou, gesoute boere tot nuwelinge wat nog nooit tevore geboer het nie.

Vernuwing in skaapproduksie

Volgens Manie Wessels van Mamre Intensiewe Skaapproduksie by Frankfort, bied die MILS-program (Mamre Intensiewe Lamstelsel) boere die geleentheid om skaapproduksie totaal te vernuwe, asook ’n nuwe, winsgewende toekoms vir kleiner plasies, wat onder ekstensiewe bestuurstelsels nie meer ’n ekonomiese eenheid kan wees nie. In die konteks van die landbouvraagstukke waarmee die land tans worstel, is hierdie ’n uiters belangrike perspektief wat nie misgekyk moet word nie.

Die program in Pietermaritzburg het nie afgewyk van die program wat in April in Bloemfontein aangebied is nie, en onder die wakende oog van die programdirekteur, dr Frikkie Maré, departementshoof van die Departement Landbou-ekonomie by die Universiteit van die Vrystaat, sal dit ook weinig afwyk by ander skole later in die jaar.

Die eerste dag was die fokus op die gebruik van ’n projekplan om agt groepe ooie in ’n lamsiklus van agt maande só te bestuur, dat daar elke maand ’n groep ooie lam, ’n groep lammers gespeen word, ’n groep ooie vir sinkronisasie voorberei word, ’n groep ooie gedek word en ’n groep ooie vir lam voorberei word. Intussen word ’n groep lammers ook elke maand in die voerkraal afgerond en bemark, en word ’n groep ramme voorberei om die betrokke groep ooie te dek.

Op die tweede dag is op spesifieke uitdagings met finansies, bemarking, gesondheid, reproduksie en voeding in hierdie versnelde lamstelsel gefokus.

’n Vol jaarprogram

Volgens Albert Loubser, redakteur van Veeplaas, is dit merkwaardig hoe die Veeplaas Intensiewe Skaapproduksieskool ’n nuwe jaarprogram tot stand gebring het wat voorheen nie daar was nie. Afgesien van die jaarlikse Mamre-inligtingsdag, wat eintlik die voorloper van die Skaapskool is, en die vier skole in die Vrystaat, KwaZulu-Natal, die Oos- en Wes-Kaap, is daar nou ook ’n kompetisie, wat deur Zoetis geborg word, om die intensiewe skaapboer van die jaar aan te wys.

Die seisoen begin dus as’t ware met die Mamre-inligtingsdag in Maart en eindig by ALFA 2018 in Parys, wanneer die intensiewe skaapboer van die jaar aangewys word.

Dr Karin Wessels, die ander helfte van die Mamre-span van Manie en Karin Wessels, wys daarop dat die oorspronklike beweegrede om skole elders in die land aan te bied, die groot aantal navrae was wat ontvang is – tot so ’n mate dat die beskikbare plekke in Bloemfontein maande voor die tyd reeds uitverkoop was.

Natuurlike hulpbronne en klimaat

Nog ’n voordeel wat nou na vore kom met die verskillende streeksgebonde skole is dat, hoewel die beginsels van MILS universeel is, dit tog nuttig is om dit aan te bied binne ’n konteks waar boerdery-omstandighede relatief soortgelyk is. Dit lei tot baie vrugbare gesprekke oor aspekte soos natuurlike hulpbronne en klimaatsuitdagings.

Manie wys daarop dat suksesvolle boere aan selfontwikkeling aandag gee, en die Skaapskool is ’n goeie voorbeeld van selfontwikkeling. Buiten die kennisoordrag, stel dit boere bloot aan ander boere met ’n verskeidenheid uitgangspunte, maar wat tog dieselfde doelwit in gemeen het. Verder stel dit hulle bloot aan nuwe netwerke van boere, insetverskaffers en vakkundiges.

“Ons hoor telkemale hoe boere verklaar dat hulle hul geld dubbel en dwars in waarde teruggekry het met die bywoning van die Skaapskool. In KwaZulu-Natal het ’n ou, gesoute boer van ongeveer 80 jaar gesê dit is die beste belegging wat hy in ’n lang tyd gemaak het.”

Vir meer inligting of om vir een van die komende skaapskole te registreer, kontak Michelle Verster van Plaas Media by 012 664 4793 of 083 375 4641. Jy kan ook ‘n e-pos stuur na michelle@plaasmedia.co.za