In die verwoestende brande wat vroeër hierdie maand boere in die Wes-Vrystaat geruk het, is sowat 339 plase in ’n gebied van ongeveer 100 000 hektaar geraak. Dit is volgens inligting wat tot dusver deur Vrystaat Landbou (VL) versamel is.

In ’n persverklaring deur VL het Tommie Esterhuyse, vise-president van die organisasie, gesê dat behoeftebepalings plaaslik uitgevoer word en binne enkele dae afgehandel sal wees. VL koördineer ook die groot getal skenkings aan die boere in die geaffekteerde gebiede.

Volgens Boeta de Waal, voorsitter van Boshof Agri, is depotpunte vir voerskenkings langs die N12 en verskeie punte in die verskillende dorpe geïdentifiseer. Koördineerders werk reeds sedert 20 Oktober onverpoos om voerskenkings te ontvang.

Skenkings stroom in

Intussen stroom skenkings deur die publiek in. Die gemeenskappe van Hertzogville en Boshof word oorval deur skenkings van kruideniersware, veevoer, water en vars groente.

Volgens Francois Wilken, VL-president, het honderde mense en instansies van regoor Suid-Afrika op hul versoek vir bystand aan boere gereageer. “Van voer, vee en finansiële bydraes, tot ondernemings wat wil help om infrastruktuur te herstel. Selfs ’n skenking uit Amerika is ontvang,” het Wilken gesê. VL het die publiek vir hul bydraes bedank. 

Op versoek van die landbouverenigings, sal bydraes tot VL se rampfonds onder meer aangewend word vir mediese koste, diesel vir die vervoer van voer, kragvoeraankope, die herstel van infrastruktuur (bv. omheiningsmateriaal) en watervoorsiening (bv. tenks, pype, ens.). Daar sal verseker word dat die broodnodige hulpverlening so spoedig as moontlik by die onderskeie landbougemeenskappe uitkom.

VL sien hierdie inisiatief as ’n gesamentlike poging tussen gemeenskappe, organisasies en individue. ’n Koördineringsgroep is deur Naudé Pienaar van Agri Noordwes saamgeroep en bestaan uit VL, Agri Noordwes, Agri Noord-Kaap, Mpumalanga Landbou, Gift of the Givers, AfriForum, Caring Daisies, Saai, Boere in Nood, Droogtehulp SA, TLU NW, Droogtehulp met Burre Burger, Senwes en NWK Beperk, wat op hul beurt op hul netwerke steun.

Mense wat graag skenkings wil maak, kan die woord ‘SKENK’ na VL se SMS-lyn stuur by 37846.  

Stadsjapies help ook

AfriForum het ook ’n projek geloods om produsente in die Wes-Vrystaat by te staan. Noodbokse is vir dié boere gepak, met basiese items soos toiletware, blikkieskos en oor-die-toonbank-medisyne. Die AfriForum-hoofkantoor in Centurion is oorval met ’n geweldige hoeveelheid skenkings wat ontvang is.

Trokke met skenkings gelaai het reeds uit Pretoria vertrek en vandag (30 Oktober) is die laaste dag wat donasies by die hoofkantoor afgelaai kan word. Plaas Media het ook aan hierdie projek deelgeneem en het vanoggend ’n bakkievrag vol skenkings by AfriForum gaan aflaai.  

Jakaranda FM het ook ’n spanpoging geloods om boere te help en luisteraars het ’n rekordbedrag van R3,6 miljoen ingesamel. Die donasies sou oorspronklik die koste van nege trokke met bydraes ondersteun het, maar nadat die publiek só vrygewig was, sal daar nou 20 trokke na die Vrystaat gestuur kan word. Die trokke sal veevoer en mediese voorraad aanry.

Indien jy ’n skenking wil maak aan Jakaranda FM se fonds, klik hier om meer te lees. – Ursula Human, AgriOrbit