’n Groeiende SA Vleismerino (SAVM)-kudde, wat deel vorm van die Veeplaas Skole-kuddeprojek, is nou deel van die boerdery-aktiwiteite by Morgenzon Landbou-Akademie (MLA). Die Veeplaas Morgenzon SAVM-kudde is in Junie 2017 gevestig toe die SAVM-telersgenootskap van Suid-Afrika, oftewel meer spesifiek verskeie lede van die Hoëveld SAVM-klub, altesaam elf ooie geskenk het.

“Dit is vir MLA ’n groot eer en vreugde om deel te wees van die SAVM-familie, en meer spesifiek die Hoëveld SAVM-klub,” sê Alex Wehmeyer, skoolhoof van MLA. Volgens Alex is die skool se verteenwoordigers dadelik by die klub verwelkom en word alle vergaderings van die klub ook nou by die skool gehou. “Die lede staan ons gedurig met raad en daad by.”

Verteenwoordigende personeel en leerlinge van MLA woon gereeld vergaderings, veilings en skoue by, en word sodoende aan die bedryf bekendgestel. Die leerlinge word ook gereeld by skoue as hanteerders ingespan.

Hoogstaande gehalte

Die eerste lammers van die ooie wat geskenk is, het reeds aangekom en dit lyk of hulle van hoogstaande gehalte is. “Ons was aangenaam verras om die goeie kondisie van die ooie en hoë gehalte van die nuwe lammers te sien tydens ons mees onlangse besoek aan die skool en die kudde. Die ooie was in ’n uitstekende kondisie en die lammers was meestal van skougehalte,” sê Wouter Theron van die Hoëveld SAVM-klub en die La-Vie SAVM-stoet.

Volgens Alex is die lammers se hoë gehalte nie net te danke aan die topgehalte ooie wat geskenk is nie, maar ook aan die feit dat hulle toegang tot ’n uitstaande ram gehad het. “Ons is dankbaar dat dr Vos Grey van die Janvos-landgoed ’n ram aan ons beskikbaar gestel het vir die afgelope dekseisoen. Ons kan nie wag om die waardetoevoeging tot ons kudde in die volgende generasie te sien nie.”

Praktiese opleiding

Buiten die blootstelling van leerlinge aan die kommersiële veebedryf, is ’n belangrike doel van die Veeplaas Skole-kuddeprojek om diere aan die skool beskikbaar te stel vir gebruik in praktiese opleiding en ander aktiwiteite.

“Die leerlinge gebruik reeds van die jonger diere vir ons jeugskoue in die vleisskaapafdeling en daar word hard gewerk om van ons eie skape voor te berei vir ALFA 2018 in Parys in September vanjaar. Die eerste wol is geskeer en leerlinge kon die vagte tydens praktiese opleiding by ons wolskool in Februarie vanjaar gebruik,” sê Alex.

Die feit dat die SAVM ’n dubbeldoel- en veelsydige ras is, beteken dat dit soveel meer moontlikhede vir opleiding en blootstelling bied. “Die SA Vleismerino is ’n ras wat goed by sowel intensiewe as ekstensiewe toestande aanpas. Die ras se wolgehalte en hoeveelheid wol het oor die laaste paar jaar baie verbeter, en die ras word ook nou by wolkursusse vir opleiding gebruik.

“Die leerlinge vind die diere maklik hanteerbaar weens hul geaardheid. Die diere kruip nie deur drade nie en word sommer op die skoolterrein tussen die kinders aangehou sonder dat die tuine in die slag bly. Die kinders kry blootstelling met die wol, asook by vetlam- en slagkompetisies en skoue, waar hantering, bouvorm en wolkriteria ter sprake kom,” verduidelik Wouter.

’n Blywende indruk

Alex sê hulle het groot planne vir die kudde. “Ons wil by elke jeugskoukampioenskap presteer, tot met die nasionale jeugskoukampioenskap in Oktober 2018. Ons wil by ALFA 2018 in Parys ’n blywende indruk maak en met ons kudde by die SAVM-kampioenskap op die Standerton-skou gaan spog.

“Die projek is sover ’n sukses vanweë goeie samewerking tussen al die rolspelers en die feit dat ons met hoë gehalte genetika en ander insette werk. Ons is dankbaar vir elkeen wat ’n bydrae lewer.” – Marike Brits, Veeplaas