Alle suiwelprodusente word genooi om vir die 2021 Suid-Afrikaanse (SA) Suiwelkampioenskap in te skryf. Dit is die grootste, oudste en mees gesogte suiwelgebeurtenis in die land.

Kyk hier na verlede jaar se top suiwelprodukte.

Die kampioenskap, wat sedert 1834 deur Agri-Expo aangebied word, lok jaarliks sowat 900 inskrywings van groot, medium en klein vervaardigers. Inskrywings kompeteer vir die gerekende titels van SA Kampioen, die Qualité-merk van gehalte asook die Produk van die Jaar, wat tydens die glansryke SA Suiweltoekennings aangewys word.

SA Suiwelkampioenskap stel die standaard vir die bedryf

Volgens die hoofbeoordelaar, Alan Fourie, is die uitsluitlike doel van die kampioenskap om uitnemendheid in die suiwelbedryf te erken en te bevorder. “Die SA Suiwelkampioenskap is een van die enigste kompetisies ter wêreld wat vyf beoordelaars per kategorie gebruik en wat die maatstaf waarvolgens produsente hulself teen mekaar meet, geword het,” sê hy.

Die kampioenskap bestaan uit meer as 100 klasse vir kaas, jogurt, melk, room, roomys, botter en ander produkte. Die wenners in die onderskeie klasse word as SA kampioene bekroon. Produkte van besonderse hoë gehalte ontvang die Qualité-toekenning, wat deur die bedryf as die enigste merk van gehalte vir suiwelprodukte in Suid-Afrika erken word.

Ná die eerste rondte van beoordeling deur meer as 70 beoordelaars, wys ’n onafhanklike paneel van vyf kundiges die Produk van die Jaar aan.

Skryf só in vir die 2021 SA Suiwelkampioenskap

Enige suiwelprodusent wie se produkte in die handel beskikbaar is, kan inskryf. Aanlyninskrywings open op 11 Januarie via www.cheesesa.co.za.

Die sluitingsdatum vir inskrywings is 1 Februarie, met die beoordeling wat op 25 Februarie sal plaasvind. Die SA Suiweltoekennings word op 26 Maart in Stellenbosch aangebied.

Die SA Suiwelkampioenskap en SA Suiweltoekennings word moontlik gemaak in samewerking met Synercore en ander vennote. Vir meer inligting, besoek www.cheesesa.co.za of kontak Agri-Expo by 021 975 4440 of cheese@agriexpo.co.za. – Persverklaring, Agri-Expo