Sauvignon Blanc FNB Top 10
Inskrywings vir die 2020 FNB Sauvignon Blanc Top 10 is nou oop. Beoordeling vind van 1 tot 3 September plaas onder leiding van Kaapse Wynmeester, Winnie Bowman.

Inskrywings vir die 2020 FNB Sauvignon Blanc Top 10 is nou oop. Sauvignon Blanc Suid-Afrika nooi produsente van hierdie immergewilde kultivar om hul beste wyne teen Dinsdag, 18 Augustus 2020, vir die kompetisie in te skryf. Laat inskrywings sal tot Vrydag 21 Augustus 2020 aanvaar word.

Sauvignon Blanc-wingerde beslaan tans 9 533 hektaar in Suid-Afrika en is die topverkoper-variëteit in die land. Die Sauvignon Blanc SA-voorsitter, RJ Botha, meen dat ondanks die uitdagings van COVID-19, daar hierdie jaar selfs nog meer as die 183 inskrywings van verlede jaar verwag kan word.

Trots aangebied deur FNB en Sauvignon Blanc SA

Die Sauvignon Blanc Top 10 word in vennootskap met FNB aangebied. “Gedurende tye van groot onsekerheid en ekonomiese skokke val mense terug op handelsmerke wat hulle ken en vertrou. Met die COVID-19-pandemie is daar ook geen uitsondering nie. FNB en Sauvignon Blanc is twee handelsmerke wat Suid-Afrikaners vertrou en met ’n samewerkingsooreenkoms wat al sedert 2007 loop, is FNB uiters trots om met die FNB Sauvignon Blanc Top 10-kompetisie geassosieer te wees.

“Volgehoue ondersteuning van die landbou en spesifiek die wynbedryf deur die hele waardeketting, is uiters belangrik in hierdie tyd,” het Arno Cloete, FNB se provinsiale hoof van landbou in die Wes- en Oos-Kaap gesê.

Beoordeling en toekenningsgeleentheid

’n Paneel van vooraanstaande wynkundiges sal die aanspraakmakers vanaf 1 tot 3 September 2020 by Uitkyk-landgoed in Stellenbosch beoordeel, waarna 20 finaliste aangekondig sal word. Die top 10-wenners sal op Woensdag, 14 Oktober 2020, tydens ’n virtuele toekenningsgeleentheid bekendgemaak word.

Die inskrywingsvorm vir die kompetisie is aanlyn beskikbaar by www.sauvignonblanc.com. Vir meer inligting, kontak Sauvignon Blanc SA by 021 976 4440 of stuur ’n epos na admin@sauvignonblanc.com. – Persverklaring, Sauvignon Blanc SA