Die Nasionale Wolkwekersvereniging (NWKV) se jaarkongres vind op 12 en 13 Junie 2019 by die Pine Lodge-konferensieoord in Port Elizabeth plaas.

Die organisasie vier vanjaar sy 90ste bestaansjaar, wat dit een van die oudste kommoditeitsorganisasies in Suid-Afrika maak.

Volgens Guillau du Toit, voorsitter van die NWKV, gaan die volhoubaarheid van wol in die hele waardeketting bespreek word. “As organisasie het ons lankal reeds volwassenheid bereik, van produksie tot transformasie,” sê hy. “Volwassenheid beteken egter nie noodwendig volmaaktheid nie en daarom lê die kern daarin om relevant te bly ten opsigte van nuwe uitdagings.”

‘n Tafel gedek vir goeie gesprek

Een van die gassprekers gaan dr Frans Cronjé wees. Hy is die uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge (SAIRV) en stigter van die Sentrum vir Risiko-analise (SRA).

Die ander gassprekers sluit in:

  • Marshall Allender (IWTO)
  • Monica Ebert (BKB)
  • Deon Saayman (Cape Wools SA)
  • Dr Moshe Swartz (DRDLR)
  • Dr Pieter Vervoort (Nasionale Dieregesondheidsforum)
  • Niel Viljoen (predasiespesialis)
  • Dalena White (IWTO)

Ontvangers van toekennings

Toekennings sal oudergewoonte ook tydens die geleentheid gemaak word en sal in die volgende klasse geskied:

  • Beste kommunale skeerhuis.
  • Beste ekonomies geklasseerde skeersel.
  • Hoogste prys betaal vir die seisoen.
  • Personeel-langdienstoekennings.
  • Die 2019 Goueram-wenner.

Tesame met vanjaar se NWKV-kongres sal daar ook ‘n eeufeesvieringsdinee/dans by BKB se hoofkantoor gehou word op Woensdagaand, 12 Junie 2019. – Carin Venter, Plaas Media

Vir navrae, kontak gerus vir Bonita Francis by 041 3655 030 of stuur ‘n e-pos na nwga@nwga.co.za.