Slaglamkompetisie herleef

0
145
PG van Deventer en sy seun Franco het ook vanjaar aan die slaglamkompetisie by die Prieska Oewerfees deelgeneem. Hierdie twee lammers het eerste en twee plekke in die enkel slaglam op die hoef verower en hul groep was derde op die hoef.

’n Groepie skaapboere van Prieska het besluit om die slaglamkompetisie op die dorp te laat herleef. In 2009 is die laaste kompetisie aangebied en daarna het die belangstelling begin taan. Hierdie oplewing was ’n reuse-sukses en daar is reeds sprake van ’n beoordelaarskursus wat volgende jaar aangebied gaan word om die boere aan te moedig om betrokke te raak.

Vanjaar het elf telers ingeskryf en 64 skape is beoordeel. Volgens die organiseerders, Dulcan Dwyer en PG van Deventer, is daar genoeg belangstelling om weer aan die nasionale Samic kompetisie deel te neem en hulle is vol vertroue dat die kompetisie sal vlamvat. Een van Suid-Afrika se top senior beoordelaars, Paul Maree, het die beoordeling gedoen en nog ’n man wat sy skape ken, Juan du Plessis van Hopetown, het hom bygestaan.

Die wenners op die hoef was lammers van PG van Deventer wat die eerste en tweede plekke ingeneem het met ’n lam van Christo van Deventer derde. In die groepe het ’n pragtige groep van Johannes Human die eerste plek ingeneem. ’n Groep van Christo van Deventer was tweede en ’n groep van PG van Deventer derde.

Ná die beoordeling is die diere na die GWK-abattoir op Groblershoop geneem om geslag en deur Samic beoordeel te word. Hier het Johannes Human die eerste en tweede plekke in die enkellam karkas-afdeling verower met Christo van Deventer se lam derde. Hulle het al drie uitstekende punte behaal. Die wenlam het met 99,87% gespog en die een in die tweede plek met 98,67%. Christo van Deventer se slam in die derde plek het 97,88% gekry.

Onder die groepe was ook baie goeie karkasse. Johannes Human het met die louere weggestap, Christo van Deventer was tweede en Burger Sandenbergh se groep derde. – Koos du Pisanie, Veeplaas

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here