Rooi boë metaalvonkies en ’n lawaai soos ’n tandartsboor van drukluggereedskap begroet my wanneer ek by Vallie & Sons Engineering inry om my beeswa te laat herstel.

Yaseen Vallie beduie vir my om hom te volg na die ry kantore wat oor die werkswinkel uitkyk.

“Kom check gou hierdie nuwe perdesleepwa wat ek ontwerp,” skree hy vir my bo die geraas. In sy deurmekaar kantoor skakel hy die rekenaarskerm op sy lessenaar aan en druk ’n knoppie om ’n perdesleepwa-ontwerp stadig in die
rondte te laat draai.

“Dis vir ’n ryk ou wat van perde-uithouritte hou. Hy wou breë kajuite hê vir twee perdeknegte, ’n kombuisie, ’n 24-volt batterystelsel en uitgevoerde hokke vir twee ponies. Jý het mos resiesperde vervoer. Wat dink jy? Is ek op die regte pad?”

Terwyl ek na die draaiende prentjie staar, krap ek my baard. “Dit lyk goed, maar ek is bekommerd dat dit te swaar gaan wees. Vertel dié spoggerige rekenaarprogram jou hoeveel dit alles weeg?” vra ek vir Yaseen.

“Met die klein mikrogolfoondjie en die warmwaterstelsel ingesluit, sal dit net minder as 2,3 ton weeg. Dit sal die ligste luukse perdesleepwa in die land wees.”

“Hmm,” sê ek. “Een ding wat ek al oor perde geleer het, is dat hulle ’n klein fortuin uit ’n groter een kan maak. So kry net jou deposito voordat jy die materiaal koop. Maar jou 2,3 ton laat nie baie ruimte vir ekstra gewig – soos mense – nie.”

“Daar’s baie speelruimte, man. Daai Boerperde wat aan uithouritte deelneem is nie soos jou Nooitgedachters nie. Hulle weeg minder as ’n halwe ton. En selfs al is dit gelaai met twee ponies, saals en ’n paar hooibale, kom die sleepwa steeds onder 3,5 ton BKM in.”

“Dis nie die sleepwa waaroor ek my bekommer nie, maar die bakkie. Jy sal verbaas wees hoe vinnig die sleepvoertuig se toegelate vrag krimp as jy die sleepwa tot sy maksimum laai,” sê ek.

“Geen worries daar nie. Die kliënt ry ’n Land Cruiser 200, so dis basies ’n tenk,” antwoord Yaseen.

“Ek het self ’n 200 gehad. Sy BVM is 3 350kg. Trek nou die randgewig en die 10%-balgewig– wat 350kg op ’n 3,5-ton waentjie is – af, en jy sit met ongeveer 260kg om mense en bagasie in te pas. En dis nie eens met die bullbar ingesluit nie. Sal jou kliënt en die perdekneg binne 260kg inkom?”

Yaseen beduie na die stadig-draaiende 3D-ontwerp. “Sien jy die wye kajuite en die
mikrogolf?”

“So jou ‘wye’ kliënte sal die weegbrug se limiet oorskry. En natuurlik die waarborg
en die versekeringseis ook,” sê ek.

“Wat as die perdekneg in die sleepwa ry? Dit sal mos ekstra kilo’s voor gee, of hoe?” vra Yaseen.

“Net as jy ook wil hê die verkeersman moet jou ’n duur les leer. Volgens artikel 330(f ) van die Nasionale Padverkeerswet is dit verbode om mense in ’n gesleepte voertuig te karwei, tensy dit ’n semi-trailer is, bedoelende ’n wa wat 15% van sy BKM op ’n vyfde wiel dra. Jy mag mense in ’n sleepwa op ’n openbare pad vervoer, maar dan mag jy nie vinniger as 30km per uur ry nie.”

Yaseen gooi sy hande op. “Nou wat maak ek nou? Ek kan nie ’n ligter sleepwa maak nie, tensy ek een of ander ruimtesamestelling van Nasa gebruik!”

“Gebruik net ’n ligter dryfstelsel,” sê ek. “In vergelyking met sy 4×4-eweknie, gee enige 4×2-bakkie jou meer as 400kg ekstra loonvrag. Hulle het dieselfde enjins, so hulle trek net so goed soos ’n 4×4. En jy hoef nie materiaal by Nasa te gaan soek nie. Kyk net wat mense deesdae met hennepplastiek doen.”

“Nou wil hy hê ek moet dagga kweek,” sug Yaseen. “Ek neem aan hierdie veringopknappings wat beloof om jou loonvrag te vergroot, is te goed om waar te wees?” vra hy.

“Dit is net stywer vering wat die hantering kliphard maak, maar dit verhoog nie die bruto kombinasiemassa van die sleepvoertuig nie. Kan julle ouens my sleepwa klaar hê vir Woensdag se veiling?”

“Met God’s wil sal ons klaar wees, oom Schalk.”

“Inshallah, Yaseen,” sê ek.