Die onlangse waarskuwing deur die owerhede in Kenia oor ’n moontlike slenkdalkoors-epidemie, moet hier in Suid-Afrika tot ’n baie duidelike oproep vir immunisasie lei, sê die dieregesondheids-maatskappy Afrivet.

Volgens Afrivet se uitvoerende hoof, dr Peter Oberem, het 250 skape reeds in Mei op ’n plaas in Jacobsdal in die Vrystaat aan dié siekte gevrek. “Gevalle wat so laat in die seisoen aangemeld word, is kommerwekkend. Hoewel ons nie onmiddellik ’n volskaalse epidemie te wagte is nie, kan gevalle soos hierdie daarop dui dat ons in die somer ’n ernstige uitbreking kan verwag.”

Die rede hiervoor is dat Slenkdalkoors deur ’n virus veroorsaak word wat deur muskiete versprei word. Hulle kan dalk in koue weer onaktief wees, maar die muskiete kon dalk reeds met besmette diere se bloed in aanraking gekom het. Dit beteken dat wanneer die somer aanbreek, swerms aktiewe draers hul opwagting sal maak.

“As boere nie in die winter ’n daadwerklike poging aanwend om die siekte te voorkom nie, kan Desember in ’n Slenkdalkoors-bloedbad verander,” sê dr Oberem.

Die stelling klink dalk dramaties, maar daar word geensins oordryf nie. Slenkdalkoors is ’n verwoestende siekte in kleinvee, veral skape. Tot 90% van die lammers vrek binne dae nadat hulle besmet is, en tussen 40 en 100% van die dragtige ooie wat besmet is, sal hul lammers aborteer.

Hoewel dit ook in beeste, buffels en wildsbokke voorkom, is die siekte nie so ernstig of dodelik vir dié spesies soos vir skape nie.

Slenkdalkoors is ’n soönotiese siekte, wat beteken dat dit van diere na mense oorgedra kan word. As sodanig is dit ’n gesamentlike gesondheidsprobleem (One Health concern).

Terwyl mense nie deur muskiete besmet kan word nie, sal hulle waarskynlik siek word as hulle in aanraking kom met die bloed van siek of dooie diere en/of geaborteerde fetusse. Die risiko is dus veral hoog vir veeartse. Tydens die laaste beduidende uitbreking in Suid-Afrika het ’n jong veearts van die Oos-Kaap aan die siekte gesterf. Hoewel dit nie altyd noodlottig vir mense is nie, tas die virus die lewer aan en herstel is stadig en moeilik.

“Die grootste fout wat boere kan maak, is om in die winter oorgerus te wees,” sê dr Oberem. “Dit is nou die tyd om ons vee te immuniseer.”

Hoewel veral skape in gevaar is, moet beeste ook geïmmuniseer word om te voorkom dat muskiete op hulle voed en die virus oordra.

Beskikbare entstof

Dr Oberem verduidelik daar is twee tipes slenkdalkoors-entstof: lewende en geïnaktiveerde (of dooie) entstof. Laasgenoemde moet gebruik word in diere wat dragtig is of moontlik kan wees. Om aan hierdie diere die lewende entstof te gee, sal aborsies of die geboorte van misvormde lammers veroorsaak. Die geïnaktiveerde entstof moet twee keer toegedien word, teenoor die lewende entstof waarvoor slegs een toediening nodig is.

 Boere moet baie versigtig wees wanneer hulle die lewende entstof hanteer sodat hulle nie hulself per ongeluk besmet nie.

Slenkdalkoors-entstof word tans slegs by Onderstepoort vervaardig. Boere sal egter in die nabye toekoms ’n bykomende opsie hê wanneer die entstof wat deur Afrivet ontwikkel is, geregistreer is.

Vroegtydige beheer van die siekte

“Ons moet die siekte beheer terwyl ons die kans het om dit te doen,” sê dr Oberem. “Die staatsveeartsenykundige dienste het my verseker dat hulle die saak ernstig opneem en is dit eens dat boere gewaarsku moet word om hul diere vroegtydig te immuniseer. Indien nie, sal ons die prys betaal in die vorm van veevrektes, en miskien selfs menslike ongevalle.”

’n Uitbreking kan ook die uitvoerbedryf benadeel. Lande in die Midde-Ooste het reeds na die vorige uitbreking die invoer van Suid-Afrikaanse lamsvleis verbied.

“Slenkdalkoors is ’n gesamentlike gesondheidsprobleem, aangesien menslike aktiwiteit in die omgewing dit vererger,” sê dr Oberem. “Ons moet verantwoordelikheid neem deur waterbronne te beheer waar muskiete uitbroei en deur ons vee te immuniseer.” – Persverklaring

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here