Dit is nie nodig om die impak van Slenkdalkoors (SDK) te beskryf nie. Meeste vee-eienaars moet teen SDK inent omdat dié virus nie tussen die tipe spesie wat dit aansteek onderskei nie, hoewel die siekteverloop kan verskil. Skape word die ergste aangetas, maar bokke, beeste en selfs buffels kan die virus opdoen.

Read it in English

Wat nog meer kommerwekkend is, is dat SDK ’n soönose is. Dit beteken dat mense besmet kan raak – hoofsaaklik wanneer hulle siek of dooie diere hanteer. ’n Paar jaar gelede het ’n jong staatsveearts in die Oos-Kaap aan SDK beswyk. Dít beklemtoon dat dit ’n ernstige en aanmeldbare siekte is. Die laaste geval van SDK in Suid-Afrika is in Mei 2018 te Jacobsdal in die Vrystaat gerapporteer.

Gedurende die afgelope paar maande het ons goeie nuus vanaf die Colombia Universiteit se El Niño, La Niña Suidelike Ossilasie (ENSO)-navorsingsprogram ontvang. Hiermee het hulle ’n sterk La Niña-verskynsel deur ons reënseisoen met neutrale seetemperature gedurende die komende winter voorspel.

Ons het reeds die vreugde van goeie reënval oor groot gebiede van die land ervaar. Die Vrystaat veral is nat met geil weiding. Ongelukkig is hierdie toestande ideaal vir vloede en die totstandkoming van panne water waarin Aedes-muskiete, wat onderskeidelik as reservoirs en draers van die SDK-virus dien, voorkom. Dit sal tot gevolg hê dat dié insekte uitbroei en vermeerder.

Entstowwe teen Slenkdalkoors is die antwoord

Die enigste manier om die siekteverspreiding en besmetting van lewendehawe te voorkom, is om diere teen SDK in te ent en om muskietbyte te verhoed deur produkte te gebruik wat vir die bestryding van muskiete geregistreer is.

Dit sluit gewoonlik dippe, spuitmiddels en opgietmiddels wat deltametrien bevat in. Vanselfsprekend is jaarlikse inenting teen die siekte die effektiefste en maklikste manier om uitbrekings te voorkom. Onderstepoort Biologiese Produkte (OBP) vervaardig tans twee entstowwe hiervoor:

  1. OBP Lewende SDK-entstof wat die Smithburn-stam bevat. Hoewel daar geglo word dat hierdie entstof beskerming vir ’n lang periode bied, word dit sterk aanbeveel dat jaarlikse inenting geskied. Moet dit nie tydens SDK-uitbrekings gee nie, aangesien herkombinasie met die veldstam kan plaasvind en die uitbreking kan vererger. Hierdie entstof moet nie vir dragtige diere gegee word nie.
  • OBP-geïnaktiveerde SDK-entstof wat ’n jaarlikse inenting benodig en veilig is vir dragtige diere. As diere die eerste keer ingeënt word, word twee dosisse ses weke uitmekaar gegee, wat die inenting duurder en meer arbeidsintensief maak.

Ideaal gesproke moes die entstof reeds in die vroeë lente toegedien word, maar dit is nog nie te laat nie. Toediening is nou egter van die grootste belang, aangesien die meeste uitbrekings in die middel- en laatsomer plaasvind. 

Bewys jouself én die land ’n guns in 2021 deur jou lewendehawe so gou moontlik in te ent. – Persverklaring, Nasionale Dieregesondheidsforum en Afrivet