Slim plan met lamkampe vir winsgewende Boerbok-boerdery

2420
PW Botha is ’n Boerbok-produsent wat lank en interessant kan gesels oor bloedlyne en rasstandaarde.

PW Botha se hart is al van sy kinderdae af deur Boerbokke vasgevang en sy liefde vir dié ras is onmiskenbaar. Tydens ’n besoek aan sy plaas, Slabertina, by Jansenville in die Oos-Kaap, merk hy op dat elke Boerbok ’n unieke persoonlikheid het. “Elkeen het sy eie geaardheid en behalwe vir hul intelligensie, is dit maar net ’n ander tipe dier om mee te boer. Dit is vir my lekker om met hulle te werk.”

Volgens hom is Boerbokke geensins vol draadwerk nie, behalwe vir hul geneigdheid om ver te loop en deur draadheinings te klim. Gelukkig het hy ’n oplossing hiervoor in die vorm van ’n hommeltuig wat die opsporingsproses heelwat vergemaklik.

Voordat PW begin boer het, het hy sy eie besigheid as elektriese kontrakteur gehad en ’n paar draaie in Afrika gemaak. Hy het 16 jaar gelede grond tussen Jansenville en Klipplaat gekoop, vanuit die oogpunt dat dit ’n redelike siektevrye omgewing is, en deeltyds met beeste, Dorpers en Boerbokke begin boer. “Ek het sewe jaar gelede voltyds in die Boerbok-boerdery ingeklim en my stoet, die PW Botha Boerbok-stoet, geregistreer.”

Hy glo die rede waarom mense met dié ras boer is die groot hoeveelheid meerlinge van die aanteelvee, en die feit dat dit kontantvloei stimuleer. “Ons telersgenootskap is baie aktief en daar is ’n sterk mark vir Boerbokke in Suid-Afrika, sowel as in Afrikalande soos Botswana, Zambië en Zimbabwe.”

Veld-aangepaste diere

Hy is deel van ’n groep van vyf produsente, wat bekendstaan as Karoo Boerbokke en vir hul jaarlikse veilings op veld-aangepaste ramme fokus. “Al ons ramme word op die ouderdom van vyf maande by een van die telers wat in daardie stadium die beste veld het, gehou om uit te groei tot op die ouderdom van twaalf maande. Sowat drie maande voor een van ons veilings word die gekose ramme in ’n voerkraal afgerond sodat hulle in ’n goeie kondisie is. Ons bied ramme sowel as ooie op ons veilings aan.”

Aanvanklik het PW verskeie kursusse bygewoon om sy kennis van Boerbokke op te skerp. “Jy moet die ras baie goed ken as jy stoetteling wil doen en soveel as moontlik daarvan probeer leer,” sê hy. Die Suid-Afrikaanse Boerboktelersgenootskap het hom in ’n stadium genader om ’n beoordelaarseksamen te skryf, en hy keur en beoordeel nou al ’n hele paar jaar by verskeie skoue.

Dit is ’n jaarlikse instelling vir PW om in September ’n Boerbok-kursus in Jansenville aan te bied. “Gewoonlik woon mense van so ver as Namibië, Botswana, Zimbabwe, Zambië en Uganda dit by.”

Hy verkoop ook Boerbokke uit sy kudde en stoet in lande soos Zimbabwe en Botswana, waar hy op uitnodiging kursusse aanbied en terselfdertyd van die geleentheid gebruik maak om sy kliënte te besoek. “Zambië en Uganda het my ook onlangs genader om kursusse daar aan te bied.”

Intensiewe lamkampe

Volgens PW verg dit baie tyd en aandag om ’n goeie speenoes te verkry, en betaal dit 100% om al jou aandag aan die lamproses te wy. In die verlede het hy van lamhokke gebruik gemaak, maar gevind dat van die ooie te lank daar staan voordat hulle begin lam. “Een van die boere in ons omgewing, Fransie Fourie, se intensiewe lamkampe het my baie beïndruk en ek het dié stelsel toe op my plaas ingerig en nog nooit weer teruggekyk nie.”

Hy brei uit oor sy Boerbokke wat twee en soms drie lamseisoene het, met sowat 150 ooie per lamseisoen. “Op dié manier het ek meer beheer oor kleiner groepe bokke as met ’n groot trop.”

Hy doen laparoskopie op die ooie en 17 dae later word ’n groep opvolgramme vir 19 dae by die ooie gesit. “Die ooie word dan ses weke nadat die ramme uitgehaal is, geskandeer. Sodoende kan ek tussen die ooie wat laparoskopie gehad het en dié wat deur die ramme gedek is, onderskei. Daar is 17 dae tussenin voordat die tweede groep ooie begin lam.”

’n Goeie lamseisoen is in Augustus vanjaar beleef danksy intensiewe lamhokke wat dit vir roofdiere moeilik maak om by pasgebore of jong bokkies uit te kom.

Dragtige ooie

PW maak van 24ha besproeiingsgrond gebruik waarop hy vir lamtyd in die winter hawer plant, en tef in die somer. “Die laparoskopies dragtige ooie word ’n week voor lamtyd na die lamkampe langs die lande gebring, waar hulle rustig kan word en hul omgewing leer ken. Ek sit tien tot 15 ooie in ’n kampie, waar hulle enkele dae later begin lam.”

Hy verduidelik dat die ooie wat reeds gelam het, bedags op die lande wei. “Oor ’n maand gaan hulle deur die dag terug veld toe deur oor ’n springhek te spring, terwyl die jong bokkies in die kamp agterbly waar hulle heeldag kruipvoer kan vreet. Die ooie kom voor die einde van die dag terug, waarna die bokkies kan melk drink.

“Die rede vir die kruipvoer is dat die bokkies op twee en ’n half maande gespeen kan word, en die ooie terug veld toe kan gaan en vroeër by die ram gesit kan word. Dit beteken ook dat ek die klein bokkies op vier maande op hul markgewig kan hê en dan my keuring vir teel- en tropdiere kan doen.”

Beheer oor klein bokkies

Die res van die dragtige ooie wat 17 dae later moet begin lam, word dan na die lamkampe gebring. “Op hierdie wyse het ek volle beheer en kan elke bokkie gered word – in teenstelling met ooie wat in die veld lam, waar roofdiere soos rooikatte, jakkalse en kraaie maklike toegang tot die klein bokkies het. Die aantal bokkies wat ek danksy die intensiewe lamkampe behou, is net soveel meer.”

PW sê die klein bokkies word teen melklintwurm gedoseer wanneer hulle een maand oud is. “Hulle kry dan ’n breëspektrum dosering op twee maande. Ek doseer slegs indien dit nodig is. Op speenouderdom kry ons gewoonlik vuilbek by die bokkies en ek behandel dit sorgvuldig. Sodra die eerste bokkies begin uitslaan, isoleer en behandel ek hulle dadelik.”

Van die ooie op die hawerlande naby die lamkampe.

Winsgewend met streng seleksie

Keuring om te bepaal of dit ’n stoet- of kuddebok is, moet volgens die SA Boerboktelersgenootskap op die ouderdom van tien maande plaasvind, waarna PW die ooitjies bemark.

Hy selekteer die ramme baie streng en skot dié uit wat nie op standaard is nie. “Ek weeg die ramme op ’n gereelde basis, en sorg dat hulle ’n goeie voeromset het en aan die voorgeskrewe rasstandaarde voldoen. Ons mark is kommersiële produsente en daarom is dit belangrik om veld-aangepaste Boerbokke te teel.”

Volgens PW is daar ’n uitstekende mark vir aanteeldiere, wat ’n baie beter prys kry as gewone slagbokke. “Vanuit hierdie standpunt beveel ek aan dat enigiemand wat winsgewend met Boerbokke wil boer, dit ernstig oorweeg om in teeldiere te belê wat aan die rasstandaarde voldoen.”

Vir meer inligting, skakel PW Botha by 082 800 9310 of stuur ’n epos aan pwbotha@nashuaisp.co.za. –Carin Venter, Veeplaas