Philip Botha is as die Noord-Kaap se jongboer van die jaar vir 2019 aangewys. Wanneer ’n mens op sy plaas aankom, word jy begroet deur netjiese lyndrade, ’n netjiese erf, netjiese geboue en bedrywige werkers wat nie rondstaan nie. As jy na sy diere kyk en met hom oor sy boerdery gesels, besef jy hierdie man weet wat hy doen.

’n Mens kom gou agter Philip sal nie sommer blindelings in ’n nuwe idee instorm nie. Hy oordink elke aspek van sy boerdery deeglik, maar is ook nie bang om ’n kans te waag nie. Dit was juis hierdie eienskappe wat hom gebring het waar hy vandag is.

Philip en sy vrou, Zané, boer tussen Strydenburg en Britstown op erfgrond van sy oorlede pa. Hy het intussen nog grond aangekoop en sy boerdery beslaan tans 26 000ha, met 4 200 ooie.

Philip en sy vrou, Zané. Hy sê sy is sy grootste steunpilaar en die dryfveer agter sy sukses.

Die pad plaas toe

Hy vertel dat hy eers ’n hele paar draaie in die lewe geloop het voordat hy plaas toe gekom het. Na skool het hy vir twee jaar oorsee gaan werk, waarna hy bemarking in Stellenbosch gaan studeer het. Hierna was hy vir nog ’n jaar in Australië, voordat hy in 2004 getroud is en plaas toe gekom het.

Hy het vir vier jaar saam met sy pa, Nico Botha, ’n groot ekstensiewe boerdery bedryf. Sy oom, Johan Botha, se voerkraal en veevoermaatskappy op Prieska het hom egter gefassineer. Toe hy eers op sy eie voete staan, het hy besluit om ’n meer intensiewe boerderystelsel by sy bestaande stelsel te voeg.

Sukses met lamhokke

Hy het in 2012 ’n proeflopie gedoen met ’n paar lamhokke, wat hy van planke gemaak het. Sy eerste probeerslag was slegs 30 lamhokke. Die lamhokke het stelselmatig vermeerder en hy het ook die materiaal van sy lamhokke verbeter. Vandag beskik hy oor 1 000 lamhokke, wat almal onder afdakke staan en met outomatiese voer- en waterstelsels toegerus is.

“Ons het aanvanklik met die trekker tussen die rye lamhokke rondgery en elke ooi se voer met die hand uitgegooi. Die voer word egter vermors as jy dit só doen. Ek het die stelsel dus verander en ’n massavoertenk opgerig, wat met sonkrag werk. Elke ooi kry daagliks outomaties die regte hoeveelheid voer. Dit spaar baie tyd, mannekrag en voer,” sê hy.

Hy sê dit is vir hom belangrik dat elke ooi genoeg voer moet kry sodat sy haar lammers kan versorg. “Ek het aanvanklik ’n waterbak vir elke lamhok gehad, maar die ooie vreet hul voer voordat hulle water drink. Die meel wat in hul bekke agterbly, val dan in die water en word suur. Baie voer het op dié manier verlore geraak en dit was ’n groot werk om elke keer die waterbakke skoon te maak.”

Hy het toe ’n stelsel ontwerp waar die water voortdurend vloei. So word die meel weggevoer en bly die drinkplekke ook skoon.

Voerkraal en lamseisoen

Met die lamhokke in plek, het Philip besluit om die boerdery verder te verbeter. Hy het gevolglik ’n voerkraal opgerig, met ’n outomatiese voerstelsel wat deur sonkrag aangedryf word. In hierdie voerkraal kan hy met gemak 2 000 lammers op ’n slag grootmaak voordat hulle verkoop word. “Sodra ons deur die droogte is, beplan ek om die voerkraal verder uit te brei sodat dit sowat 4 000 lammers kan hanteer.”

Hy laat doen laparoskopie deur Ramsem op al sy ooie, sodat hy net een lamseisoen per jaar het. “Ek het gevind dat die kanse op dragtigheid tussen 10 en 15% beter is as met kunsmatige inseminasie. Die kanse op tweelinge is ook baie beter. Sowat 50% van my ooie spog elke jaar met tweelinge.

“Ons moet altyd die uitermatige hitte in hierdie deel van die land in ag neem. Daarom verkies ek ’n lamseisoen in die herfs, sodat die lammers in die koeler tyd versorg en afgerond kan word. Al my ooie lam binne vier tot vyf weke.”

Hy vertel dat hulle seker maak elke lam begin na geboorte drink. Selfs drie- en vierlinge word vir minstens twee dae by die ma gelos. As hulle sien die ooi gaan nie die mas opkom nie, word die lam afgevat en hans grootgemaak.

Philip het ’n indrukwekkende voerkraal op sy plaas.

Noukeurige rekordhouding

Philip het reeds groot sukses behaal met sy rekordhouding. Hy vertel dat hulle vroeër alles met die hand opgeskryf het, maar met die radiofrekwensie-identifikasie (RFID) het dit baie makliker geword.

“Dit is vir my belangrik om te weet wie is elke lam se ma en pa. Aangesien ons baie goeie ramme aankoop, is dit ook belangrik om vas te stel watter ram watter lammers teel sodat ons ’n sterker lyn in ons ramme kan kry,” beklemtoon hy.

Visie vir oorsese mark

Philip verkies om met Merino’s te boer omdat dit ’n dubbeldoeldier is en ’n mens meer as een keer wins uit elke skaap kan maak. “Ek sal egter ook graag die vleiskant van my boerdery wil verbeter. My toekomsvisie is om ’n oorsese mark te skep. Ek glo daar is ’n goeie moontlikheid vir ’n groot oorsese mark vir goeie gehalte vleis. Daarom wil ek graag ’n handelsmerk skep sonder hormone, soos die verbruiker dit wil hê.

“Vir dié doel moet die naspeurbaarheid baie presies wees. Wanneer verbruikers van ’n spesifieke skaap se vleis eet, moet hulle dit tot op die plaas kan naspeur,” verduidelik hy.

Philip gebruik sonkrag om die outomatiese voerder in die lamhokke aan te dryf. Voer word vanaf die massatenk na al die lamhokke gevoer.

Goed opgeleide skeerspanne

Volgens Philip gaan dinge druk op die plaas wanneer dit skeertyd is, want ’n boer wil dié taak so gou as moontlik afhandel. Hy het vir dié doel ’n addisionele onderneming geskep deur vyf skeerspanne saam te stel. Elke span bestaan uit drie skeerders, ’n wolwerker, ’n klasseerder en ’n wolgooier.

“Die manier waarop skeerders met skape werk, is vir my belangrik. Daarom sorg ek dat die mense goed opgelei is en die taak so vinnig en doeltreffend as moontlik kan afhandel. My spanne werk wyd en die aantal kliënte groei elke jaar,” vertel hy.

Die boerdery is vir Philip ’n groot uitdaging, maar sy leuse is om elke jaar te beplan asof dit weer ’n droë jaar gaan wees. “Ek beskou elke jaar wat ons goeie reën kry as genade. Ek vertrou dat die landswye droogte gou gaan eindig. Boerdery hou ’n mens nederig. Jy moet altyd jou afhanklikheid van die Here onthou en besef dat alles waarmee ons woeker net aan ons geleen is,” sê hy. – Koos du Pisanie, Veeplaas

Vir meer inligting, skakel Philip Botha by 082 445 5539.