Dr Andy Hentzen.

Drie van die gevaarlikste geslagsiektes onder vee in Suid-Afrika, elk met ’n groot finansiële impak, is brusellose, trigomoniase en peestersiekte. Dr Andy Hentzen, ’n veearts en dosent aan die Universiteit van Pretoria, het met Veeplaas gesels oor reproduksiesiektes by beeste en skape, en hoe dit beheer en voorkom kan word.

Voorkoms van brusellose

Brusellose is ’n hoogs aansteeklike geslagsiekte wat deur die bakterie Brucella abortus veroorsaak word. Simptome sluit aborsie, verlaagde vrugbaarheidsyfers en verlaagde melkproduksie in. Swak kalwers wat kort na geboorte sterf, kom ook gereeld in besmette kuddes voor. Serologiese toetse soos die Rose Bengal-toets of melkringtoets, is uitstekende diagnostiese toetse wat kan help om ’n uitbreking in ’n kudde te identifiseer.

Brucella spp. is klein, gram-negatiewe coccobacilli, meestal sigbaar as enkelselle wat soos ‘fyn sand’ lyk.

Volgens dr Hentzen kom brusellose algemeen by beeste voor, maar skape word ook geaffekteer. “Alle provinsies in Suid-Afrika is die slagoffer van groot brusellose-uitbrekings. Die presiese aantal voorvalle per jaar is nie bekend nie, maar die algemene opvatting is dat die jaarlikse gevalle van beesbrusellose besig is om toe te neem.”

Hierdie siekte kan ook aan mense oorgedra word deur snye in die vel, slymvliese, of deur besmette vleis of ander diereprodukte te eet. Dr Hentzen voeg by dat brusellose ’n staatsbeheerde en aanmeldbare dieresiekte is ingevolge die Wet op Dieresiektes, 1984 (Wet 35 van 1984), wat beteken dat besmette diere by ’n staatsveearts aangemeld moet word.

Trigomoniase by vee

Trigomoniase is ’n hoogs aansteeklike geslagsiekte by beeste, wat deur die taamlike klein, beweeglike protosoë bekend as Tritrichomonas foetus veroorsaak word en slegs in die reproduksiekanaal van besmette koeie en bulle aangetref word.

Tritrichomonas foetus is ’n spesie van enkelsellige sweephaarparasiete wat ’n
bekende patogeen in die reproduksiekanaal van beeste is.

“Soos brusellose, is die spesifieke aantal plaaslike voorvalle van beestrigomoniase nie bekend nie, maar ons weet dat die voorkoms van hierdie siekte oor tyd toegeneem het. Daarom kom die siekte nou meer gereeld in Suid-Afrika voor in vergelyking met ’n paar jaar gelede,” sê dr Hentzen.

Daar is dikwels geen sigbare simptome nie. Die eerste aanduiding van die siekte is ’n laer as normale besettingsyfer, wat gewoonlik tydens ’n standaard swangerskapdiagnose geïdentifiseer word. Dit beteken dat dit slegs met diagnostiese toetse bevestig kan word. Die siekte kan vroeë fetale dood, piometra (versameling van etter in die uterus) en onvrugbaarheid veroorsaak, wat verlengde kalwingsintervalle tot gevolg kan hê.

Peestersiekte by skape

Peestersiekte (aansteeklike balanopostitis) word deur onder andere Corynebacterium renale en Mycoplasma mycoides veroorsaak en kom veral by skape voor, hoewel infeksies ook in Angorabokke gerapporteer is. Die siekte kom oral in Suid-Afrika voor.

Peestersiekte veroorsaak ulserasie en irritasie van die vel rondom die voorhuidopening, wat bakterieë soos C. renale die geleentheid gee om te versprei. Simptome by ramme sluit ontsteking van die penis en skede in. Hierdie pynlike toestand kan urinering ernstig beïnvloed en dit moeilik of selfs onmoontlik maak om aangetaste diere vir teling te gebruik. Ooie kan die siekte tydens paring opdoen en daarom moet geaffekteerde ramme en ooie van die kudde geskei en onmiddellik behandel word.

Beheer- en uitroeistrategie vir geslagsiektes

Bloedtoetse word normaalweg gebruik om die teenwoordigheid van brusellose by beeste en skape te bevestig en positiewe gevalle word gewoonlik uitgeskot.

Volgens dr Hentzen sal privaatveeartse positiewe gevalle by die staatsveearts aanmeld en hulle ook op hoogte van enige opvolginligting rakende die uitbreking hou. “Met die hulp van privaat- of staatsveeartse kan veeprodusente die siekte in hul kuddes beheer en moontlik uitroei. Indien ’n veeprodusent vermoed dat ’n dier brusellose onder lede het, is dit noodsaaklik om die dier onmiddellik van ander gesonde diere te isoleer om te voorkom dat die siekte versprei,” voeg hy by.

Indien vermoed word dat trigomoniase in ’n kudde teenwoordig is, moet die bulle getoets word deur ’n monster uit die skede te spoel en na ’n laboratorium te stuur vir analise. Dr Hentzen verduidelik dat positiewe bulle van kant gemaak moet word, aangesien die meeste draers sal bly. As die dier egter ’n beduidende waarde het, kan ’n veearts geraadpleeg word vir alternatiewe behandelingsopsies.

“Let wel dat hierdie alternatiewe behandelings nie altyd suksesvol is nie. Dit word algemeen aanvaar dat die waarskynlikheid van oordrag via koeie ná drie normale hittesiklusse sal afneem. ’n Entstof kan toegedien word om die voorkoms van trigomoniase te beheer en verminder. Veeprodusente kan ook kunsmatige inseminasie gebruik, aangesien dit een van die doeltreffendste maniere is om die verspreiding van dié siekte uit te skakel.

“Om ’n uitbreking van trigomoniase in jou kudde te voorkom, is dit raadsaam om slegs bulle wat negatief getoets het voor die aanvang van die paarseisoen, te gebruik, of om bulle te gebruik wat nog nooit voorheen gepaar is nie. Dit is ook belangrik om jou veearts te raadpleeg oor kuddespesifieke maatreëls wat op jou unieke boerderyomgewing van toepassing is,” sê dr Hentzen.

As dit by peestersiekte kom, moet beide ramme en ooie gereeld vir siektetekens ondersoek word. Hanteerders moet ná die hantering van elke dier hul hande was en ontsmet, om te keer dat die siekte van een dier na ’n ander versprei word. Besmetting moet verkieslik vroeg geïdentifiseer word om kroniese skade wat toekomstige teling in beide manlike en vroulike diere kan belemmer, tot die minimum te beperk.

Voorkoming en behandeling van geslagsiektes

Die fokus moet altyd op voorkomende eerder as genesende maatreëls val. Dit geld vir alle veesiektes, maar veral vir geslagsiektes wat die winsgewendheid van die produsent aansienlik kan affekteer. Brusellose is geen uitsondering nie.

“Daar is geen behandeling vir besmette diere beskikbaar nie, wat beteken dat hulle uitgeskot moet word. In hierdie opsig is die beste manier om brusellose te beveg, om infeksie deur inenting te voorkom,” verduidelik dr Hentzen.

Soortgelyk aan die prognose van brusellose, is daar geen behandeling vir beestrigomoniase beskikbaar nie. Dit is dus belangrik om bulle met trigomoniase vóór die teelseisoen te identifiseer. Die diagnostiese toets vir bulle behels die mikroskopiese analise van gekweekte preputiale monsters en/of ’n laboratoriumtoets waarin die organisme se DNS (polimerase-kettingreaksie of PKR) getoets word.

Peestersiekte kan suksesvol met antibiotika behandel word. Sodra die aangetaste ramme geïsoleer is, kan spuitbare antibiotika op die aangetaste dele gespuit word en kan ’n langwerkende antibiotika ook toegedien word. Ramme moet nie vir teeldoeleindes gebruik word voordat al die sere gesond is nie. Peestersiekte het geen direkte effek op die vrugbaarheid van ooie nie en hulle herstel gewoonlik vanself binne enkele weke.

Wat voorkoming betref, moet produsente dit oorweeg om die proteïenvlak in die dieet van skape tot onder 16% aan te pas. Bosluisbeheer moet ook deur die jaar opgeskerp word, aangesien bosluise die oordrag van die siekte kan aanhelp.

Ten slotte

Volgens dr Hentzen beïnvloed elk van die genoemde siektes reproduksie op een of ander manier. Die resultaat is dikwels ’n laer as normale lam- en kalfoes, wat die groei van die kudde beïnvloed en ekonomiese gevolge vir die produsent inhou.

“Reproduksie is een van die grootste winsdrywers in veeboerdery. Verliese weens verlaagde reproduksie is baie groter as die koste van medisyne, entstowwe en diagnostiese toetse. Dit is daarom verstandig om hierdie siektes met die gebruik van alle nodige hulpmiddels te voorkom,” sluit hy af. – Claudi Nortjé, Veeplaas

Vir meer inligting, kontak dr Andy Hentzen by 082 372 0307
of andreas.hentzen@up.ac.za.