Snotsieke bly ʼn groot uitdaging

959

’n Entstof teen snotsiekte sal waarskynlik nie voor 2020 beskikbaar wees nie. Intussen het dié ekonomies belangrike en dodelike siekte ook begin versprei na van die seldsame wildspesies waarmee geboer word. Tans is die enigste oplossing om die siekte te bekamp deur wildebeeste, wat die siekte dra, af te sonder van vatbare spesies.

Terselfdertyd is daar makliker maniere om geskille oor snotsiekte op te los as om hof toe te hardloop en uiters duur regsgedinge aan die gang te sit. Onderhandeling en goeie buurmanskap kan nie net die vrede in gemeenskappe bewaar nie, maar die betrokke partye ook derduisende rande aan regskoste spaar.

’n Belangrike siekte

Die groot kommer wat oor die voorkoms van snotsiekte heers, is weerspieël deur die groot getal boere teenwoordig by ’n vergadering wat deur die Roedtan-Suid Boerevereniging oor die siekte gereël is. Prof Moritz van Vuuren (emeritus), wat sowat 30 jaar lank as mikrobioloog aan die Universiteit van Pretoria onder meer ook oor snotsiekte navorsing gedoen het, sê daar is mense wat snotsiekte foutiewelik as onbelangrik afmaak. Dit is egter beslis nie onbelangrik nie.

“Wanneer uitbrekings sporadies voorkom, is dit feitlik 100% dodelik en as diere oorleef, is hulle gewoonlik blind en het soveel letsels van die siekte dat hulle onbruikbaar in ’n kudde is. Dit raak ook nie meer net beesboere nie. Al hoe meer gevalle kom voor waar skaars inheemse wild waarmee geboer word, soos buffels, ook die siekte opdoen en vrek,” sê hy.

Wat is snotsiekte?

Prof Van Vuuren sê snotsiekte is ’n algemene sistemiese virussiekte wat gekenmerk word deur abnormale selgroei in die limfstelsel en inflammatoriese letsels in die bloedvat- en spysverteringstelsel. Die siekte kom wêreldwyd voor waar draers voorkom (wildebeeste, mak skape en bokke), maar loop dood by die vatbare spesie. Beeste wat snotsiekte kry, kan dit dus nie verder versprei nie en dit kan ook nie mense besmet nie.

In Afrika is die siekte in Suid-Afrika van die grootste ekonomiese belang. Sekere tye van die jaar kom dit in tot ses van die nege provinsies van die land voor en sorg dit vir waarskynlik die grootste konflik tussen bees- en wildboere.

’n Reeks verwante spesies van die virusse wat snotsiekte veroorsaak, kom by verskeie wildsoorte in Afrika voor, maar sover bekend het nog nie een daarvan siektes veroorsaak nie. Net so is snotsiekte ook nog nie van wildebeeste, skape of bokke na ander wildspesies oorgedra wat vrylik saam rondbeweeg nie. Diere in aanhouding (dieretuine) en semi-aanhouding (wildplase) het al die siekte opgedoen en dit kom in die laaste tyd meer algemeen voor.

Daar is twee virusse wat snotsiekte by beeste veroorsaak, naamlik dié wat deur wildebeeste en dié wat deur skape en bokke gedra word. Die virus wat deur mak skape en bokke gedra word, kon nog nooit in die laboratorium geïsoleer word nie en kan net met DNS-ontledings uitgeken word.

Die sondaars

Prof Van Vuuren sê sowat 95% van die uitbrekings van snotsiekte onder beeste word veroorsaak deur die virus wat wildebeeste oordra en dat alle wildebeeste (swart-, blou- en goue wildebeeste) die virus dra. “Buite die draer se liggaam is dit maar ’n tengerige virus wat normaalweg nie langer as 24 uur in die buitelug kan oorleef nie.

“Presies hoe die siekte oorgedra word, is nie bekend nie, maar dit vind waarskynlik plaas deur die slymsproei wat vrygestel word wanneer wildebeeste hoes, nies of proes. Daarby is die oordrag van die siekte baie onvoorspelbaar en lyk dit asof dit gebeur as wildebeeste onder spanning verkeer.

“In Suid-Afrika is daar twee piektydperke van oordrag wat die rol van spanning beklemtoon, naamlik tydens kalf- en jagtyd. Navorsing is nog nie gedoen oor die invloed wat spanning in wildboerderytoestande op die verspreiding van die siekte kan hê nie. Elke wildebeeskalf wat aankom, word besmet en daar is geen ‘skoon’ wildebeeste nie. As die diere ‘skoon’ toets met die normale toetsing, is die virusdrempel waarskynlik net laag.”

Siektetekens en vrektes

Die inkubasietydperk van die siekte in beeste is normaalweg drie tot sewe weke, maar daar is aangetekende gevalle waar beeste tot so lank as ses maande nadat hulle in aanraking met wildebeeste was, eers siek geword het. Feitlik al die beeste wat siek word, vrek. Daar is gevalle waar ’n dragtige koei die siekte opdoen en terwyl sy siek is ’n oënskynlik gesonde kalf het, maar sulke kalwers vrek almal binne sowat drie weke.

Prof Van Vuuren sê die kliniese tekens van snotsiekte by beeste is dat hulle baie slym en speeksel afskei. “Binne ’n paar dae is van die diere se neuse so verstop dat hulle met oop bekke asemhaal. Die dier se oë begin van die boonste rand van die kornea af grys verkleur en dit versprei mettertyd oor die hele oogbal en die dier word blind.

“Bloederige letsels verskyn in die dier se bek, tandvleis en lippe, en die limfkliere raak so geswel dat dit op die liggaam van die dier sigbaar raak. Die letsels in die neus en bek versprei deur die dier se hele dermkanaal, waar wonde, erosies en swere vorm.”

Snotsiekte het nou ook na buffels begin versprei en tot dusver is minstens twaalf gevalle bekend. Die eerste paar gevalle het in die Pretoria Dieretuin voorgekom, waar mak bokke in ’n kampie langs die buffelkamp aangehou is.

Die siekte het ook sy verskyning op wildplase gemaak waar met buffels in semi-aanhouding geboer word. Die buffels het dieselfde kliniese tekens as beeste getoon, al die klassieke letsels het voorgekom en die diere is binne sowat sewe dae nadat hulle siek geword het dood.

Planne vir ’n entstof

’n Entstof is in Skotland deur die Moredun-instituut ontwikkel uit ’n virus wat oorspronklik uit Oos-Afrika kom. Die virus se DNS kom so nou ooreen met die virus in Suid-Afrika dat die entstof hier ook gebruik kan word. Voordat die entstof egter kommersieel beskikbaar gestel kan word, moet dit eers in Suid-Afrika getoets en geregistreer word.

Daarvoor is ’n groot getal dosisse van die entstof nodig en die navorsingseenheid in Skotland het nie die vermoë om dit te produseer nie. ’n Vervaardigingsaanleg word nou in Suid-Afrika ingerig en dit sal waarskynlik twee jaar duur voordat die entstof geregistreer kan word. Die verwagte tydsduur van die beskerming wat die entstof sal bied, is ses maande.

Intussen is die enigste werkbare maatreël teen die siekte om beeste en wildebeeste van mekaar af weg te hou. Die ideale afstand wat aanbeveel word, is 1 000m. As die diere saam loop, is die kans op besmetting 100%. As hulle 200m uit mekaar loop, verminder die kans van besmetting na 50%, op 400m is dit 80% en op 500m is die risiko van siekte-oordrag baie laag. –Andries Gouws, Veeplaas

Vir meer inligting, kontak prof Moritz van Vuuren by 072 444 1182 of Moritz@icon.co.za.