Een van die dieresiektes waarvoor nie werklik raad of medikasie is nie en wat seker die meeste deur navorsers afgeskeep word, is snotsiekte.

Vir baie beesboere is dit ’n wesenlike probleem as die buurman blouwildebeeste aanhou, want na regte behoort daar ’n baan van ten minste 1 000m tussen die wildplaas waar blouwildebeeste aangehou word en die buurman, wat met vee boer, se grensdraad te wees om oordrag van dié siekte te voorkom.

In die verlede was ’n wildboer verplig om sy buurman in kennis te stel as hy blouwildebeeste aanskaf, maar ongelukkig word dié maatreël nie meer toegepas nie en is die beesboer die persoon wat aan die kortste ent trek.

Wildebees-geassosieerde snotsiekte

Dr Johan Human van Medivet Dierekliniek en Wilddienste in die Thabazimbi-omgewing sê in Suid-Afrika is wildebees-geassosieerde snotsiekte die algemeenste. “Die virus word van wildebeeste na beeste oorgedra. Dit word egter nie van een bees na ’n ander oorgedra nie. Daar is ook skaap-geassosieerde snotsiekte, maar die skaap word nie regtig siek nie en is slegs ’n draer van die siekte.”

Hy sê gevalle het in die Thabazimbi-omgewing voorgekom waar die siekte onder buffels voorgekom het, maar nog nie enige ander wildsbokke aangetas het nie. Dit beteken egter nie dat dieselfde in ander dele van die land sal gebeur nie.

Oordraging van die virus

Volgens dr Human is die algemeenste vorm van oordraging van dié virus deur nabye kontak, maar navorsers is nog nie seker wat die draer is nie. “Dit kan insekte soos muggies of vlieë wees, of dit kan deur die wind oorgedra word, maar op hierdie vraag is nog nie ’n klinkklare antwoord nie.

“Nog ’n manier waarop die siekte oorgedra word, is deur wildebeeskalwers wat op die ouderdom van twee tot drie maande ’n groot hoeveelheid van die virus deur hul neuse en oogafskeidings vrylaat. Dit gebeur gewoonlik tussen Desember en Maart. In die jagtyd, wanneer wildebeeste heelwat stres ervaar, is daar ook ’n toename van siektevoorvalle.

“Die virus word nie tussen beeste oorgedra nie, maar dragtige koeie kan wel hul kalwers aansteek. Hierdie kalwers vrek gewoonlik voor die ouderdom van ses weke. Die simptome verskyn gewoonlik tussen twee tot vier weke ná kontak met die virus, maar dit kan tot sewe maande neem voordat die diere siek word.”

Kliniese tekens

Dr Human sê die eerste tekens is gewoonlik dat diere swakker begin eet en koors ontwikkel. “Daar is ook ’n waterige of slymerige oog- of neusafskeiding, wat vinnig vererger en dikker word. Die neus word gewoonlik droog en ontwikkel seertjies, en die etterige afskeiding vorm ’n harde kors wat aan die neusopening vassit en dit blokkeer. Die dier sal dus met ’n oop bek asemhaal.”

Waterige, slymerige oë met rooi, ontsteekte bindvliese en dowwe horingvliese is kenmerkende simptome van snotsiekte. Die dier kan later blind word.

Nog ’n simptoom van snotsiekte is dat die bekslymvlies baie rooi is, met seertjies aan die binnekant van die lippe, tandkussing, verhemelte en onderkant van die tong. Die bindvlies van die oë is gewoonlik baie rooi en ontsteek, die horingvlies vertoon dof en die dier word later blind.

Ander minder algemene simptome is bloederige diarree, ontsteking van die vel tussen die kloue, vergrote limfknope en senuweesimptome soos spier- en oogtrillings, stuiptrekkings en hipersensitiwiteit.

Voorkoming en behandeling

Volgens dr Human is daar net een manier om dié siekte te voorkom en dit is om jou beeste weg te hou van wildebeeste.

“Een van die voordele van snotsiekte is dat dit nie van een bees na ’n volgende oorgedra word nie. As een dier siek word, sal die siekte nie noodwendig verder versprei nie. My raad aan boere is dat die dier onmiddellik geslag moet word, want sy vleis is nog bruikbaar,” sê hy.

Vir meer inligting, skakel dr Johan Human by 079 954 5955. – Koos du Pisanie, Veeplaas