So breed soos ‘n pad en so lank soos ‘n trein: Só lyk ‘n R1,8m Bonsmarabul

38637
LAR 14 – 173 met sy nuwe eienaars agter hom. Van links is Andries Kruger van Kameeldoring Bonsmaras by Vaalwater, Christoff Smit van Sebadja Bonsmaras by Groblersdal, Benjamin Bosch van Benansa Bonsmaras by Bothaville, Surina Smal van Inhoek Bonsmaras by Leeudoringstad, Paul Maré van Paul Maré Bonsmaras by Viljoenskroon, André van der Heyde van Boschoek Bonsmaras by Bela-Bela en Nico Pieterse by Syferfontein Bonsmaras by Standerton. (Foto deur Richard Hobbs)

Die Bonsmarabul LAR 14 – 173 van Derek en Tutu Ralfe van Up George Bonsmaras by Dundee, het op 6 Julie ‘n verstommende R1,8 miljoen behaal toe die Ralfes hulle jaarlikse produksieveiling aangebied het.

Volgens Louis Steyl van Bonsmara SA is hierdie werklik ‘n besonderse bul, beide ten opsigte van sy eie prestasie asook dié van sy voorgeslagte. Nie alleen is hy ‘n vyfsterbul nie (wat beteken dat hy in al die aspekte van sy evaluasie ver bo die rasgemiddeld presteer het) – hy het ook ‘n 9-punt behaal vir sy visuele evaluasie.

‘n Kurweknakker en toonbeeld van manlikheid

Volgens van die kopers, Paul Maré van Paul Maré Bonsmaras by Viljoenskroon en Benjamin Bosch van Benansa Bonsmaras by Bothaville, is die bul ook ‘n sogenaamde ‘curve bender’ of kurweknakker. Dit is omdat hy ‘n vroegryp, kort-op-die-been tipe bul is, maar met die teelwaardes van ‘n laterryp, groter tipe bul.

“Hy is ‘n toonbeeld van manlikheid met ‘n wakker oog. So breed soos ‘n pad en lank soos ‘n trein met hope vleis aan daai lyf! Ons is veral baie beïndruk met sy kalwers, beide versies en bulletjies, wat reeds op die grond is. Die potensiaal is baie duidelik,” sê Paul.

‘n Besonderse afkoms

Kyk ‘n mens na die bul se afkoms, is dit ook ooglopend dat die blou bloed diep in sy are vloei.

“Sy vaar, LAR 12 – 33,” gaan Paul verder, “is vir goeie geld aan Danie Olivier en Daan Opperman verkoop. Daarby het sy oupa, LAR 07 – 55, diep spore in die bedryf getrap deurdat baie telers landwyd hom gebruik het. Die grootoupa, BG 04 – 88, was net so ‘n prominente bul, geteel deur die Genepoel-groep van die Vryburg-omgewing.

Aan sy ma se kant het haar oupa, LAR 06 – 224, tydens ‘n vorige veiling die duurste prys behaal.

Wat sy eie ma, LAR 10 – 159 betref, is haar syfers besonder indrukwekkend. Sy is sonder twyfel een van die mooiste en beste koeie in die LAR-kudde. Sy het ‘n gemiddelde speenindeks op haar kalwers van 106, ‘n reproduksie-indeks van 104 en ‘n tussenkalfperiode (TKP) van 394. Vroulikheid staan oor haar geskryf met haar mooi konformasie, lang kruis, wigvorm en pragtige uier.”

Uit die mond van nog ‘n stoetteler, Leon Riekert: “LAR10-159 is voorwaar ‘n prentjiemooi koei met top bouvorm, afgerond met ‘n perfekte uier en spene.”

Oumas en oupas van formaat

Haar ouma, LAR 02 – 268, maak weer self die pap dik aan met ‘n foutlose rekord. Sy het op 15 jaar reeds 13 kalwers gehad met ‘n tussenkalfperiode (TKP) van 378 en gemiddelde speenindeks van 105. En sy produseer nog steeds!

“Hierdie is beproefde koeie wat hulself deur en deur bewys het in die LAR-kudde met langslewendheid,vrugbaarheid en top bouvorm,” sluit hy af.

“Dis ook nodig om iets te sê oor sy ma se oupa, GCD 05 – 148, wat deur Glyn Handly van Bathurst in die Oos-Kaap geteel is,” verduidelik Paul. “Beide hierdie bul en sy vaar, EI 94 – 339 (uit Bokkie van der Merwe se teling), is wyd in die Oos-Kaap gebruik onder andere vanweë hul kapasiteit  en vroegryp eienskappe.”

Registrasie as KI-bul

LAR 14 – 173 is tans in die proses om as KI-bul geregistreer te word en sy saad sal waarskynlik later in die mark beskikbaar gestel word. Die sewe kopers wil eers self deeglik van hom gebruik maak en voordeel trek, voordat die genetika aan die bedryf beskikbaar gestel word.

Benewens die sewe kopers, is nog twee saadaandele reeds verkoop aan Martiens Aveling en Chris Krugel. Dit beteken dat al die beskikbare aandele nou opgeneem is. Die hele groep is opgewonde oor die nuwe toevoeging tot hul kuddes. Hulle vertrou dat LAR14 – 173 nog verdere diep spore in die bedryf sal trap.

Die kopers is Andries Kruger, Christoff Smit, Surina Smal, Paul Maré, Benjamin Bosch, André van der Heyde en Nico Pieterse. – Izak Hofmeyr, Veeplaas

Kyk die video om hierdie besonderse bul in aksie te sien: