Meer as 100 000ha weiveld is in ’n verwoestende brand in groot gedeeltes van die Vrystaat en Noord-Kaap vernietig. Volgens ’n persverklaring deur Agri SA is honderde stuks vee, wild en huise verwoes. Gebiede wat deur die brande geraak is sluit Boshof, Dealesville, Hertzogville en Hoopstad in.

Agri SA het ’n skenking van R300 000 aan Vrystaat Landbou (VL) gemaak om geaffekteerde produsente en plaaswerkers in hierdie tyd van nood by te staan. In ’n persverklaring het VL bekendgemaak dat R100 000 uit hul rampfonds vir brandstof vir vervoerskenkings beskikbaar gestel gaan word. VL doen ’n beroep op enige iemand wat betrokke wil raak, om hulle te kontak.

Talle ander instansies het ook projekte geloods om produsente in nood te help. Hieronder is ’n lys van inisiatiewe waarby jy betrokke kan raak:

Vrystaat Landbou

Kontak Elize Spence by die VL-kantoor op 051 444 4609 of stuur ’n epos na elize@vslandbou.co.za. Finansiële bydraes kan aan VL se rampfonds gemaak word:

Vrystaat Landbou

ABSA

Rekeningnommer: 470940670

Takkode: 632005

Verwysing: RAMP + selnommer

Saai

Saai het hul medelye met die boere in die Hertzogville-omgewing betoon. Hulle het ook gevra dat produsente van elders in die land wat ondersteuning in die vorm van voer of ander hulpbronne kan bied, Saai by 066 071 6094 kontak om reëlings te tref. Enige iemand wat wil bydra tot die vervoer van voer na die rampgebied, kan ook met Saai skakel.

Nasionale Werkgewersorganisasie van Suid Afrika

Die Nasionale Werkgewersorganisasie van Suid Afrika (Neasa) het ook ’n hulpfonds in samewerking met Saai gestig om produsente wat deur die brande geraak is by te staan. Vir meer inligting oor hoe jy tot dié fonds kan bydra, kyk hieronder na die uitvoerende hoof van Neasa, Gerhard Papenfus, se boodskap.

AfriForum

AfriForum het ’n projek geloods om die Vrystaatse boeregemeenskap te ondersteun ná die onlangse brande. Jy kan help deur ’n noodboks vir dié boere te pak, met die volgende items daarin:

  • Toiletware.
  • Blikkieskos.
  • Beskuit en koekies.
  • Koffie en tee.
  • Suiker.
  • Langlewemelk.
  • Oor-die-toonbank-medisyne.

Die bokse moet nie later as 30 Oktober by AfriForum se hoofkantoor (Unionlaan 58, Kloofsig, Centurion) afgelaai word nie. Die bokse word op 31 Oktober na brandgeteisterde gebiede in die Vrystaat geneem. Vir meer inligting, klik hier. – Ursula Human, AgriOrbit