Die kwessie van onkruiddoderweerstand moet heel bo aan elke gewasprodusent se prioriteitslys wees, sê CropLife Suid-Afrika. En nie net omdat dit die omgewing en volhoubare landbou raak nie, maar ook omdat dit die produsent se sak in die langtermyn affekteer.

Dit kan met weerstand teen antibiotika in mense vergelyk word. Die probleem is nie ooglopend terwyl jy die medikasie aanhoudend neem nie. Inteendeel, lyk dit soos ‘n wonderkuur, en jy kan nie gesteur wees om die voorskrif te volg nie, want die langtermyn-effekte is nie onmiddellik sigbaar nie. Slegs wanneer ‘n ramp tref en die mikrobes teen die medikasie bestand is, sal die omvang van hierdie foutjie voor die hand liggend wees …

Die ontstaan van weerstandigheid

Dis dieselfde beginsel met onkruiddoders. Onkruiddoders is noodsaaklik om opbrengs en gehalte van gewasse te beskerm deur onkruide wat vir noodsaaklike hulpbronne meeding, te beheer. Maar om hierdie noodsaaklike onkruiddoders toe te dien en nie die produketiket, sowel as weerstandwaarskuwings noukeurig na te kom nie, kan ernstige gevolge vir die langtermyn inhou.

Weerstand vind plaas omdat ‘n klein aantal onkruide in die populasie natuurlik bestand is teen sekere vorme van onkruiddoders. Die toediening van ‘n onkruiddoder sal byna die hele bevolking beheer, behalwe dié wat natuurlik bestand is. Die oorlewendes lei tot die volgende generasie weerstandige onkruide en binnekort is die vermenigvuldigingseffek amper onbeheerbaar. Dit gebeur wanneer dieselfde onkruiddoder met dieselfde metode van werking herhaaldelik op dieselfde populasie van onkruide toegedien word.

Glifosaat kan ‘n bate wees

Gestel ‘n boer het byvoorbeeld nié die riglyne vir weerstandsbestuur nagekom nie en skielik is daar ‘n misbredie-infestasie in sy land. Nou is dit weerstandig teen die einste glifosaat wat hy jaar in en jaar uit toegedien het. Kan jy die impak daarvan indink as hy nie meer produkte wat daardie aktiewe bestanddeel bevat, kan gebruik nie?

Glifosaatgebaseerde produkte is ‘n enorme bate in die bevordering van grondgesondheid en waterbewaring, want dit laat toe dat die boer geenbewerkingspraktyke toepas. Dit beteken dat die grond meestal ongesteurd bly en gewasreste agtergelaat word. Die gevolg is dat erosie uitgeskakel word.

Die uitskakeling van gronderosie verhoed nie net die verlies van vrugbare grond nie, maar ook verlaagde gewasopbrengs as gevolg van ‘n afname in plantwaterreserwes, die agteruitgang van grondstruktuur en die verlies van worteldiepte. Benewens verminderde opbrengste, sien die boer nou ook ‘n styging in produksiekoste, aangesien konvensionele bewerking heel moontlik nou nodig sal wees – wat natuurlik brandstof- en arbeidskoste verhoog. ‘n Toename in die hoeveelheid nodige onkruiddoder is ook op die kaarte om die weerstandige onkruid hok te slaan.

Faktore wat weerstandigheid bevorder

Dit is net een voorbeeld, maar in werklikheid is daar meer as 250 onkruidspesies wat weerstandigheid teen 160 verskillende onkruiddoders wêreldwyd ontwikkel het. Daar bestaan ‘n hoë risiko van weerstandsontwikkeling waar ‘n spuitprogram vir onkruidbeheer staatmaak op produkte wat net een metode van werking het. Dus, indien onkruidbeheer slegs chemies is of as dieselfde metode van werking per seisoen herhaaldelik gebruik word. Ander faktore sluit in geen rotasie in die oesstelsel, hoë onkruidbesmetting en swak beheer in vorige jare.

Dit is vanselfsprekend dat elke boer homself daartoe moet verbind om weerstand teen onkruiddoders te voorkom en nie net te reageer wanneer dit gebeur nie. Deur die beginsels van geïntegreerde plaagbeheer toe te pas (met ander woorde om op ‘n kombinasie van chemiese, biologiese, meganiese en kulturele onkruidbeheermetodes staat te maak en nie net op een nie), is ‘n boer reeds sterk op pad in die regte rigting.

Volg altyd die etiket-instruksies

Die belangrikheid daarvan om die produketiket te lees kan nie genoeg beklemtoon word nie. Dit bevat nie net riglyne vir die voorkoming en/of bestuur van weerstand nie, maar ook inligting oor die spesifieke weerstandsbestuurgroep waaraan die onkruiddoder behoort. Dit speel ‘n uiters belangrike rol in die beplanning van ‘n onkruidbeheerprogram.

Die Herbicide Resistance Action Committee (HRAC) het ‘n magdom hulpbronne en bestepraktyk-dokumente op hul webwerf www.hracglobal.com beskikbaar. Dit sluit ‘n globale klassifikasie-instrument in. Croplife SA moedig boere aan om hulself met hierdie hulpbronne vertroud te maak en om hulle deel te doen om weerstand teen onkruiddoders te bekamp.

Engelse weergawe beskikbaar op aanvraag. Vir navrae kontak Elriza Theron, bemarkings- en kommunikasiebestuurder by CropLife Suid-Afrika by sel 072 443 3067 of epos [email protected]. – Persverklaring