Die 2020/21 wolseisoen het hierdie week met ’n reuse-aanbieding van 11 533 bale hervat. Die mark het met 5,5% toegeneem om positief teenoor die vorige veiling van 2 Desember op R152,25/kg te sluit.

Read it in English

’n Algehele verkoopspersentasie van 97,35% is behaal nadat 775 bale voor die veiling onttrek is. Sowat 65% van die aanbod het uit nie-Merinowol bestaan en 71,5% van die aanbod het 20 mikron en fyner getoets.

Volhoubare wol kraai koning

Daar was goeie mededinging op die veiling, veral ten opsigte van fyn wol wat volhoubaar geproduseer word, wat sowat 16% van die Merino-aanbod uitgemaak het.

Die Australiese mark het 1,3% teenoor sy laaste veiling van 16 Desember 2020 gestyg. Die rand het wisselvallig teenoor die Amerikaanse dollar verhandel en 0,2% swakker teenoor die vorige veiling gesluit. Die mark het 5,28% in Amerikaanse dollarterme gestyg.

Die grootste kopers op die veiling was Standard Wool SA (3 153), Lempriere SA (3 136), Modiano SA (2 932) en Tianyu SA (1 144).

Gemiddelde pryse per kategorie

Die gemiddelde skoonwolpryse vir die seleksie binne die verskillende mikronkategorieë goeie, lang kamwoltipes (MF5) was soos volg:

  • 18 mikron styg met 5,8% en sluit teen R191,02/kg.
  • 18,5 mikron neem toe met 7,6% en sluit teen R181,19/kg.
  • 19 mikron verhoog met 5,7% en sluit teen R167,16/kg.
  • 19,5 mikron versterk met 6,2% en sluit teen R158,41/kg.
  • 20 mikron is 6,6% op en sluit op R150,41/kg.
  • 20,5 mikron is 3,9% sterker en sluit op R140,33/kg.
  • 21 mikron styg met 5,7% en sluit op R143,45/kg.
  • 21,5 mikron het 6,1% toegeneem en sluit op R141,58/kg.
  • 22 mikron styg 4,2% en sluit op R133,79/kg.
  • 22,5 mikron is 8,5% beter en sluit op R132,18/kg.

Die volgende veiling is vir 20 Januarie 2021 geskeduleer. – Persverklaring, Cape Wools