Die somermaande word in Suid-Afrika deur hoë temperature gekenmerk. In dié artikel word die uitwerking hiervan op diereproduksie ondersoek en die belangrikheid van skoon, vars drinkwater word beklemtoon.

Read it in English.

Klimaatsverandering is ’n realiteit in groot dele van Suidelike Afrika en ander wêrelddele. Dit lei tot ’n verhoging in temperature, sporadiese reënval en gereelde droogtes. Hittestres kan by hoogproduserende diere ’n drastiese uitwerking op produksie hê, met ’n daling van tot soveel as 35% in melkproduksie.

Dit is noodsaaklik om voedingstrategieë te heroorweeg en ondersoek te doen na ander roetes om die impak van hittestres te beperk. Hittestres word omskryf as enige omgewingstoestand wat die dier se termiese gemaksone oorskry. Dit is normaalweg enigiets tussen 5 en 20°C by melkbeeste (Armstrong et al., 1993).

Temperatuur en humiditeit

Temperatuur moet egter in verhouding tot die relatiewe humiditeit in ag geneem word. Dit word as die temperatuurhumiditeitsindeks (THI) uitgedruk. ’n THI van 68 word by hoogproduserende diere as voldoende aanvaar om hittestres te veroorsaak.

’n Dier het dan twee roetes om sy liggaamstemperatuur te reguleer. Die eerste roete is verhoogde hitte-uitskeiding deur onder andere te hyg (vlak, vinnige asemhaling) en verhoogde subkutane bloedvloei. Dit sal die dier se onderhoudsenergiebehoefte verhoog. Die tweede roete is om die dier se interne hitteproduksie te beperk deur sy aktiwiteite en voergewoontes aan te pas. Hiermee word die droëmateriaalinname (DMI) drasties verlaag.

Metaboliese hitteproduksie

Spesifieke voedingstowwe is by metaboliese hitteproduksie betrokke. Die eerste voedingstof wat hittestres beïnvloed, is vesel. Dit is deeglik gedokumenteer dat veselverteerbaarheid en -vlakke ’n drastiese uitwerking op die DMI, kou- en herkougewoontes en hitte-inkrement van vertering het.

Die energiedigtheid van voer moet in warm tye aangepas word. Die proteïen- en aminosuurvoorsiening moet ook geoptimaliseer word. Dit is veral belangrik met intensiewe produksie, veral vir melkbeeskuddes wat geneig is om teen swak gehalte ruvoer te selekteer. Dit lei tot ’n verlaging in die rumen-pH.

Die verlaging in die rumen-pH lei tot ’n verlaging in veselvertering en ’n verlaagde deurvloeitempo. Die dier se metaboliese bufferstelsel word ook deur die hygaksie en verhoogde verdamping van speeksel geaffekteer. Dit is dus belangrik om na die rantsoen se energiedigtheid te kyk. Dit kan suksesvol gemanipuleer word deur die gebruik van onder andere rumen-inerte vette.

Mineraalvoeding is ook noodsaaklik, aangesien hittestres tot ’n verandering in die omset van minerale lei. Verder moet mineraalvoeding die metaboliese bufferbehoeftes akkommodeer, omdat hyging tot ’n verhoogde uitskeiding van CO₂ lei. Hittestres lei ook tot die verhoogde produksie van vrye radikale. Minerale soos selenium is dus belangrik vir die dier se antioksidantstelsel.

Belangrikheid van water

Water is die belangrikste voedingstof tydens hittestres, aangesien dit by termoregulasie betrokke is. Diere se vermoë om by waterbeperkings of hittestres aan te pas, word deur die evolusionêre aanpassing van die spesie en ras beïnvloed.

Goed aangepaste skape kan byvoorbeeld in ekstensiewe toestande oorleef met voldoende waterinname elke tweede of derde dag, sonder om hul produksie te beperk. Die beskikbaarheid van vars, skoon drinkwater is egter ononderhandelbaar in intensiewe toestande, soos in voerkrale of by melkdiere. Die watertemperatuur kan ook ’n groot uitwerking op ’n dier se termoregulasie hê.

Regulering van liggaamstemperatuur

Die goeie nuus is egter dat verskeie voerbymiddeltegnologieë bestaan om die impak van hittestres te beperk. Die gebruik van rumen-inerte vette is reeds ’n gevestigde praktyk in verskeie produksiestelsels. Plantekstrakte en giskulture het ook ’n positiewe uitwerking op die regulering van liggaamstemperatuur.

Giste het oor die algemeen ’n positiewe uitwerking op voedingstofverteerbaarheid en voerdoeltreffendheid. Dit speel ’n rol in die beheer van die rumen-pH, waar ’n verlaging in verteerbaarheid kan ontstaan. Die onderdrukking van die DMI kan dus in hittestrestoestande omgeswaai word deur die insluiting van ’n goeie, lewende gis.

Die gebruik van sekere plantekstrakte het die potensiaal om die termoregulatoriese stelsel te ondersteun. Dit kan toegeskryf word aan die werking daarvan op vasodilitasie en die dier se gevolglike verhoogde kapasiteit om van liggaamshitte ontslae te raak. 

Laasgenoemde is ’n navorsingsveld wat baie aandag geniet. Vroeë resultate dui op ’n positiewe uitwerking op onder andere die rektale temperatuur, verhoogde plasma-aktiwiteit van glutatioon-peroksidase (antioksidantstatus), verlaagde respiratoriese tempo en ’n verbetering in voedingstofverteerbaarheid. 

Belangrike bestuurstrategieë

Daar is drie breë bestuurstrategieë om die uitwerking van hittestres by diere te beperk:

  • Om die omgewing deur die voorsiening van koelte, lugbeweging, koel drinkwater en selfs omgewingsbeheerde behuising te manipuleer.
  • Die ontwikkeling van die regte ras vir die omgewing. Dit behoort ’n langtermynbestuurstrategie te wees.
  • Om oorweging aan die betrokke voedingstowwe te gee. So kan die impak van hittestres tot ’n minimum beperk word.

Vir meer inligting, skakel dr Francois van de Vyver by 018 011 8888 of stuur ’n epos aan Fvandevyver@countrybird.co.za. – Dr Francois van de Vyver, nasionale tegniese bestuurder herkouers, Nutri Feeds