Die nuwe sperdatum vir inskrywings vir die SA Jongwynskou is om die draai nadat dit uitgestel is as gevolg van die COVID-19-regulasies. Die nuwe datum is nou 12 Augustus 2020.

Die organiseerders van die kompetisie vir jongwyn wat in die huidige oesjaar gemaak is, die SA Nasionale Wynskou-vereniging (SANWSV), het vroeër aangekondig dat die SA Jongwynskou uitgestel is. Die beoordeling vind nou van 31 Augustus tot 4 September by Nederburg in die Paarl plaas.

Dié besluit is geneem nadat die organiseerders deeglik oor die aanbied van hul kompetisies tydens die COVID-19-inperkings besin het, in oorlegpleging met Vinpro, Wines of South Africa (WoSA) en ander rolspelers in die wynbedryf. Die uitwerking van die COVID-19-pandemie en die gevolglike beperkings op talle ekonomiese bedrywighede het daartoe gelei dat normale aktiwiteite gewysig en aangepas moes word om steeds binne die ‘nuwe normaal’ te kan voortgaan.

Nuwe protokolle in plek om aan veiligheidsmaatreëls te voldoen

Die organiseerders is ten volle bewus van die verantwoordelikheid vir die veiligheidsmaatreëls wat onder vlak 3 met die voortsetting van dié kompetisies gepaard moet gaan. Noukeurige protokolle is reeds ontwikkel om die beoordeling van die wyne wat ingeskryf word só te hanteer dat dit aan alle gesondheids- en veiligheidsvereistes vir die beoordelaars, beamptes en personeel betrokke by die proesessies voldoen.

Die SA Jongwynskou, wat die oudste wynskou ter wêreld is en reeds vir 188 jaar aangebied word, beoordeel die jongwyne wat in die betrokke jaar gemaak is. Dit bied sedert 1833 aan wynmakers die geleentheid om hul verskillende wyne, eksperimentele style en nuwe kultivars teen hul eweknieë in die bedryf te toets. Wynmakers is besonder opgewonde oor die wyne van 2020, wat hoë-gehalte wit- en rooiwyne opgelewer het danksy besonder gunstige klimaatstoestande gedurende beide die groei- en oestye.

Spogwyne in die kollig

Die SA Jongwynskou bied weereens die ideale geleentheid vir alle produsente om met hul uitsoekwyne mee te ding om een van die SA Kampioentrofeë in 17 klasse. Twee besonder gesogte trofeë is op die spel, naamlik die Generaal Smuts- en Pietman Hugo-trofeë – onderskeidelik as die kompetisie se hoogste eerbewys wat sedert 1952 toegeken word aan die algehele kampioenwyn, en erkenning vir die wynmakery met die hoogste telling vir vyf verskillende ingeskrewe wyne.

Volgens die jarelange gebruik, word spesialisbeoordelaars vir alle panele aangewys om te verseker dat net die beste kundigheid vir die aanwys van die wenners gebruik word.

Die kernbesigheid van die SA Jongwynskou is om die wynbedryf die geleentheid te gee om wyne van die 2020-oesjaar voor te lê vir beoordeling en die uitslag daarvan as maatstaf van gehalte te gebruik – ’n oesjaar wat volgens alle aanduidings wyne van uitstaande gehalte opgelewer het.

’n Besluit oor die kompetisie se tradisionele toekenningsfunksie, sowel as die datums vir die Novare SA Terroir Wyn- en Veritas-toekennings sal later deur SANWSV gemaak word. – Persverklaring, SA Nasionale Wynskou-vereniging