“Dit is niks anders as ʼn herhaling van die Zimbabwiese grondbeleid nie.” Dit was die reaksie van Vrystaat Landbou (VL) nadat die voormalige minister van landbou, Tina Joemat-Pettersson, tydens die staatsrede-debat aangekondig het dat veterane van uMkhonto we Sizwe (MK) onteiende plase gaan ontvang.

Read it in English

“Die regering kan sterk teenkanting van VL verwag. Hierdie uitlating bevestig dat die nuwe Onteieningswet se bona fides verdag is,” sê Francois Wilken, president van VL. “Met hierdie uitlating het die regerende party hul Zimbabwe-onderrok laat uithang. Vir die landbougemeenskap bevestig dit die groeiende risiko dat die staat ʼn Zimbabwiese benadering tot grondeienaarskap gaan volg. Ironies speel grondherverdeling, restitusie en hervorming geen rol in sodanige besluite nie. Dit beteken dat grondeienaarskap en politieke verbondenheid bepalend gaan wees, en daar is reeds voorbeelde hiervan,” het Wilken gesê.

Intimidasie en teistering deur staatsamptenare

In ’n onlangse voorval is Ivan Cloete van die Wes-Kaap deur regeringsamptenare ingelig dat hy sy staatshuurplaas moet verlaat omdat ’n MK-veteraan die plaas gaan ontvang. Hierdie is die derde keer dat die staat Cloete se plaas wegneem, ten spyte daarvan dat hy die plaas suksesvol bestuur.

Volgens berigte is Cloete deur staatsamptenare geïntimideer en geteister. Die groep staatsamptenare het hom gedreig met onwettige uitsetting indien hy nie dadelik die plaas oorhandig en verlaat nie.

Verlede jaar is daar gepoog om David Rakgase se plaas te ontneem nadat hy sy plaas sedert 1991 by die staat huur. Rakgase kon later, nadat die hooggeregshof in Pretoria beslis het dat die regering se onvermoë om die plaas aan hom te verkoop ongrondwetlik is, die grond in Junie 2020 koop. Rakgase wag egter sedertdien steeds vir sy titelakte, onderwyl die staat intussen weer sy grond uitgewys het as staatsgrond wat aan ander beskikbaar gestel gaan word.

Volgens Wilken sal onteiening sonder vergoeding ’n politieke vergryp wees. Soos die saak tans ontvou, blyk dit dat die staat die finale besluitnemingsreg wil hê oor wie eiendom mag besit. Waar individuele eiendomsreg vernietig word, word menseregte geskend – net soos in Zimbabwe.

Enige persoon wat die Onteieningswysigingswet wil teenstaan, kan hul inset op VL se webwerf aanteken. Hierdie inset sal aan die parlement oorhandig word. – Persverklaring, Vrystaat Landbou