Stand van natuurlike vesel-veilingspryse ná die skeerseisoen

0
131
Uitgerekte droogtes wat produksie nog verder knou, kan die sybokhaarbedryf ernstige skade laat ly. (Foto verskaf deur Pieter Jordaan)

Veeplaas het in die laaste kwartaal van 2018 met die Nasionale Wolkwekersvereniging (NWKV), BKB en OVK gesels om uit te vind hoe sake ná die onlangse skeerseisoen in die wol- en sybokhaarbedryf staan.

Leon de Beer, hoofbestuurder van die NWKV, glo weldeurdagte en geteikende inisiatiewe om wol wêreldwyd te bevorder, is al ’n geruime tyd ’n belangrike fokus van die Internasionale Woltekstielorganisasie (IWTO).

Hy sê dit het daartoe gelei dat wol gevestig geraak het in ’n mark waar gesofistikeerde verbruikers sekere vereistes stel aan die produk wat hulle koop. “Hierdie verbruikersvoorkeure sluit onder andere in dat produkte volhoubaar en sosiaal-verantwoordelik geproduseer word, asook dat produksiemetodes en -praktyke wat dierewelsyn bevorder en handhaaf, toegepas word.”

Aanvaarbare produksiepraktyke

Die Suid-Afrikaanse wolbedryf het sterk leiding in die wêreld geneem met aanvaarbare produksiepraktyke en die ontwikkeling van ’n Kode van Beste Praktyke, wat die Suid-Afrikaanse skeersel grootliks van ander skeersels in die internasionale handel onderskei.

“Ons skaapskeerders se opleiding voldoen ook aan die hoogste internasionale standaarde en die NWKV bied al dekades lank skeerkursusse aan wat by die Suid-Afrikaanse Kwalifikasie-owerheid geakkrediteer is,” sê Leon.

Hy voeg by dat goed opgeleide skeerders verseker dat die skeersel volgens internasionale standaarde vir skape geskeer word. “Meer as 90% van die Suid-Afrikaanse skeersel word uitgevoer en wol is een van die belangrikste kommoditeite wat buitelandse valuta vir die plaaslike mark verdien, met ’n waarde van meer as R4,8 miljard aan die einde van die 2017/18-seisoen.

“Meer as 70% van die skeersel word na China uitgevoer, met addisionele woluitvoere na die Tsjeggiese Republiek, Italië en ander belangrike buitelandse bestemmings.

Wisselvallige wolpryse

“Wolpryse het die afgelope aantal seisoene op rekordvlakke verhandel, ten spyte daarvan dat die pryse laat in 2018 baie gewissel en selfs effens afwaarts geneig het. Dit word grootliks toegeskryf aan die Chinese ekonomie, waar die groeikoers tot 6,5% gedaal het.

“Volgens die National Council of Wool Selling Brokers of Australia Inc is dit die laagste jaarlikse groeikoers in China sedert die wêreld se finansiële krisis ’n dekade gelede. Dit het tot laer verwerkingsaktiwiteite en beleggings in infrastruktuur gelei, asook ’n afname in verbruikersbesteding wat tans druk op die vraag na wol plaas.”

Volgens Chris Wilcox, uitvoerende direkteur van die National Council of Wool Selling Brokers of Australia Inc, kan die afname in wollewerings uit Australië weens droogtetoestande wel ’n versagtende uitwerking op dalende wolpryse hê.

Leon verwys laastens na die feit dat die Cape Wools SA-markaanwyser in November 2018 steeds vlakke bo R210/kg gehandhaaf het, wat wol selfs in ’n mark wat effense druk beleef ’n kommoditeit van keuse maak om mee te boer.

Afname in wolproduksie

Isak Staats, algemene bestuurder vir wol en bokhaar by BKB, sê die wolmark het vroeg in 2018 met ’n vaart weggespring. “Wolpryse was aanvanklik 15% hoër as die sluitingsveiling en tot 26% hoër as dieselfde tyd die vorige seisoen. Ongelukkig het die pryse met ongeveer 12% teruggesak en het ons in die laaste maande van 2018 ’n baie ongewone situasie beleef.

“Wolproduksie in Australië het teen November 2018 met sowat 11% afgeneem en met die voortslepende droogte daar is die kans goed dat produksie nog sal afneem. Op eie bodem veroorsaak die droogte ’n totale oorproduksie van fynwol en dit druk die mark nog verder af. Dit lyk asof die handelsoorlog tussen Amerika en China verbruikers se aptyt vir tekstielgoedere in albei lande onder druk plaas.

“Katoen en poliëster se pryse vertoon ook swakker. Dit veroorsaak dat die wolprys hoog begin vertoon teenoor ander tekstiele. Kopers is altyd baie versigtig om in ’n dalende mark te koop, aangesien hulle nie betrap wil word met duur voorraad nie.”

Die wolmark kan dalk in 2019 vir ’n paar aangename verrassings sorg. (Foto verskaf deur die NWKV)

Vraag na sybokhaar

Volgens Isak het die sybokhaarmark teen November, ondanks ’n sterker rand, goeie prysvlakke gehandhaaf, met die gemiddelde markaanwyser wat slegs met 1,1% gedaal het om op R289,03/kg te sluit. Hoewel die gemiddelde pryse van jong- en grootbokhaar effens gedaal het, het die vraag na kleinbokkiehaar ferm gebly met ’n marginale toename van 0,6% om op R405,51 te sluit.

Heinrich Victor, operasionele bestuurder van vesel en skeerdienste by OVK, sê die wolseisoen het in die laaste kwartaal van 2018 op ’n positiewe noot afgeskop en op die eerste drie veilings rekordhoogtes bereik. “Dit geld hoofsaaklik vir die lang-fynwolsegment, waar die mark ’n allemintige hoogste prys nóg bereik het met die Cape Merino-aanwyser wat vlakke van R253,20/kg vir skoonwol behaal het.

“Oor die kort tot medium termyn word nie werklik voorspel dat die mark baie sal daal nie, maar eerder redelike stabiele vlakke sal behou. Dit is vanweë die feit dat die wolpyplyn in die wêreld betreklik oop is en daar nie groot voorrade surplus-wol is nie. Wêreldwye wolproduksie is onder groot druk, ook in Suid-Afrika.”

Droogte en predasie

Die afname in Australiese produksie word aan die knellende droogte in ’n groot produksiegebied toegeskryf, asook predasie wat ’n negatiewe impak op die aanteel van wolkuddes het.

Heinrich sê Cape Wools en die NWKV het berigte ontvang dat predasie dieselfde uitwerking op kuddes in wolproduserende gebiede in Suid-Amerika het en dat die lampersentasie daar nie hoër as 70% is nie. “In Suid-Afrika is wolproduksie ook heelwat laer as die vlakke van dieselfde tyd verlede jaar, en sover is bykans 14% minder wol in makelaars se pakhuise ontvang teenoor dieselfde tydperk in die vorige seisoen.

“Een van die grootste redes hiervoor is die voortslepende droogte. Lampersentasies is onder geweldige druk, wat ’n heelwat kleiner lammeroes tot gevolg gehad het en volumes onder druk geplaas het.”

Handel met Lesotho

Heinrich sê nog ’n groot oorsaak van die afname in produksie is die wetgewing wat deur die Lesotho-regering uitgevaardig is, wat wolprodusente in dié buurland verhoed om vesel na Suid-Afrika te stuur om op die plaaslike mark te verhandel. “Ons bure se wolproduksie beloop sowat ses miljoen kilogram per jaar, wat normaalweg deur die Suid-Afrikaanse veilingstelsel verhandel word. Gesprekke word met die regering gevoer om die grens vir handel tussen Lesotho en Suid-Afrika te heropen.

“Produsente moet ook kennis neem dat China tans die wêreld se grootste bestemming van rouwol is, met bykans 70% van die wêreldwye volume, en dat hulle al hoe meer vereistes vir volhoubaarheid stel.”

Heinrich verwys na die feit dat geen wol uit Slenkdalkoors-besmette gebiede na China verskeep word nie. “Dit is dus van die uiterste belang dat produsente hul kuddes gereeld inent. Voorsorg is ’n noodsaaklikheid, asook biosekuriteit ten opsigte van siektes soos Slenkdalkoors en miltsiekte.”

Uitsonderlike seisoen

Pierre van der Vyver, sybokhaarbestuurder van OVK, sê die winterveilingseisoen (Julie tot Desember 2018) van sybokhaar was uitsonderlik. “Met die onregverdige aanval deur People for the Ethical Treatment of Animals (PETA) in die media nog vars in ons geheue, was daar groot kommer vir die komende winterseisoen. Dit was nietemin prysgewys en in randterme die beste winterseisoen nog.”

Teen November verlede jaar het die OVK-markaanwyser vir sybokhaar ná die eerste vyf veilings op ’n gemiddeld van R291,31/kg gestaan. “Dit is ’n allemintige 43,2% beter as ’n jaar gelede en ’n ongelooflike prestasie,” sê Pierre. “Die tweede veiling van die seisoen het die grootste omset en hoogste gemiddelde prys nog vir ’n sybokhaarveiling behaal. Willem Wagenaar van Willowmore het op die OVK-veiling ’n wêreldrekordprys vir grootbokhaar teen R390,10/kg behaal.”

Pierre verwys ook na die mees vernietigende droogte in menseheugenis in die sybokhaar-produksiegebied. “Die droogte wat al meer as twee jaar duur, begin sy tol produksiegewys eis. Hoewel heeltyd verwag is dat produksie sou daal, het dit danksy die toegewyde produsente en enorme hoeveelhede ingekoopte en geskenkte voer nooit regtig gebeur nie. Dié praktyke kan egter nie langer volgehou word nie en daar is al klaar ’n daling van meer as 8% in produksie aangeteken teenoor 2017.”

Vir meer inligting, kontak Leon de Beer by 041 3655030 of leon@nwga.co.za, Isak Staats by 082 495 0628 of isak.staats@bkb.co.za, Heinrich Victor by 041 406 7553 of heinrichv@ovk.co.za, en Pierre van der Vyver by 082 854 9120 of pvdvyver@cmw.co.za. – Carin Venter, Veeplaas

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here