Aartappels Suid-Afrika (ASA) is tans besig met ’n reeks streeksvergaderings in die verskillende produksiestreke om op grondvlak met produsente te kommunikeer.

Die huidige statutêre heffingsperiode kom in 2023 tot ’n einde, en, sê die uitvoerende hoof van ASA, Willie Jacobs, terugvoer van die produsente in die verskillende streke is ’n belangrike maatstaf vir programbeplanning.

Een van die knellende uitdagings wat tans die hele bedryf raak, sê hy, is die stand van die munisipale varsproduktemarkte in die land.

“Die toestand van sekere munisipale markte is van so ’n aard dat dit toenemend moeilik word om op hierdie markte produkte te verhandel, en ons sien al hoe meer verhandelinge wat buite die markte om plaasvind. Die markte is tradisioneel ’n belangrike prysformuleringsmeganisme, en die wegkalwing hiervan kan tot groot skade aan die bedryf lei.”

Dit is een van ASA se belangrike take om met al die betrokke munisipaliteite in gesprek te tree en die erns van die saak tuis te bring. Hierdie probleem raak nie net die aartappelbedryf nie, maar die varsproduktebedryf in sy geheel. – Izak Hofmeyr, AgriOrbit