Dr Marinda Visser, bestuurder van graannavorsing en die beleidsentrum by Graan SA, het onlangs in ’n Graan SA Fokus-video gesels oor dié organisasie se werksaamhede om Sclerotinia in Suid-Afrika hok te slaan.

Volgens Visser het Graan SA in die 2017-produksiejaar verskeie stappe geneem om meer navorsing oor Sclerotinia te doen, veral in sonneblom, soja en kanola. Dié organisasie het onder andere in samewerking met Bayer Crop Science ’n plantpatoloog van Amerika hierheen gebring om die bedryf meer oor Sclerotinia te leer.

Nes in ander lande met dié gevreesde patogeen, het Graan SA ook ’n Sclerotinia-netwerk gestig. Die Suid-Afrikaanse Sclerotinia-netwerk het ten doel om die patogeen in Suid-Afrika beter te verstaan, aangesien elke land s’n kan verskil. Kyk na die onderstaande video vir meer inligting oor dié netwerk se bedrywighede. – Ursula Human, AgriOrbit