Omdat alle boere nie skaapbrandsiekte onder hul skape rapporteer nie, bly die siekte ’n geweldige bedreiging vir die bedryf. Slegs wanneer alle boere die wet gehoorsaam en betyds rapporteer, is daar hoop om dié siekte doeltreffend te beheer.

So sê dr Didi Claassen van Afrivet in Pretoria. Sy was vir agt jaar ’n staatsveearts in die Vrystaat, eers op Smithfield en toe later in Bloemfontein. Gedurende haar tyd in die veld, sê sy, was dit vir haar kommerwekkend dat skaapboere nie wolversteurings op hul plase aangemeld het nie, ten spyte van die feit dat dit ’n beheerde siekte is.

Figuur 1: Aangemelde uitbrekings van skaapbrandsiekte in 2019. (Bron: Departement van Landbou, Bosbou en Visserye: Subdirektoraat Epidemiologie)

“Daar is ’n hele paar toestande wat soos skaapbrandsiekte kan lyk en soortgelyke letsels veroorsaak. Dit is nie moontlik om met die blote oog die verskil te kan identifiseer nie. Daarom is dit belangrik om enige wolletsel te rapporteer sodat ’n staatsveearts of dieregesondheidstegnikus monsters kan kom neem vir ontleding. As dit wel skaapbrandsiekte is, kan die nodige stappe geneem word om dit te beheer. Anders kan dit baie groot skade in die hele distrik veroorsaak.”

Die stigma van kwarantyn

Volgens regulasies moet ’n plaas waarop skaapbrandsiekte gediagnoseer is, onder kwarantyn geplaas word. Dit beteken dat enige beweging van diere van of na die plaas onder ’n rooikruispermit gedoen moet word en die omliggende boere moet verwittig word dat hul kuddes geïnspekteer gaan word.

Sy wys daarop dat ’n plaas nie noodwendig onder kwarantyn geplaas sal word bloot omdat ’n boer ’n wolversteuring onder sy skape aanmeld nie. Dit is egter krities dat, as dit wel skaapbrandsiekte is, die nodige stappe, onder andere kwarantyn, onmiddellik geneem word om die uitbreking te beperk.

Daar kleef ongelukkig ’n stigma aan plase wat onder kwarantyn geplaas word weens skaapbrandsiekte, omdat dit as ’n weerspieëling van die boer se vermoëns ervaar word. Dit, sê sy, is definitief nie waar nie.

Brandsiekmyte kan op verskeie maniere op ’n plaas beland. Jy kan dit selfs op jou klere optel en plaas toe bring, hetsy jy dit by ’n veiling of ander plaas opgetel het. Kuiermense en skeerspanne kan die myte ook onwetend na jou plaas bring. Dit is waarom baie streng biosekuriteitsmaatreëls so krities is. Swak bestuur, beklemtoon sy, is om nie onmiddellike stappe te neem vir die geringste wolletsels wat jy op jou skape opmerk nie.

“ ’n Goeie verhouding met beide jou privaat- en staatsveearts is ’n baie belangrike aspek van goeie bestuur. Daarmee saam is flink rapportering van wolletsels krities en word deur die wet voorgeskryf. As jy dit los, stel jy nie net jou eie kudde in gevaar nie, maar ook dié van al jou bure.”

Eerste tekens en behandeling

Volgens dr Claassen is die siekte se eerste tekens baie subtiel. “Aanvanklik is daar klein pluisies in die wol waar die skape hulself byt en wat ’n mens nie noodwendig sommer met die eerste oogopslag raaksien nie. Teen die tyd dat die wol op groot skaal begin afkom, is dit reeds ’n groot probleem wat waarskynlik al ver in die distrik versprei het. En dít terwyl die staatsveearts se hulp gratis is.”

Dit is die rol van die staatsveearts om ’n behandelingsprogram op te stel waarvolgens die siekte doeltreffend beheer kan word. Hy of sy moet dan ook die omliggende plase inspekteer om seker te maak die siekte het nie reeds versprei nie. Hoe langer die siekte onbeheers bly, hoe groter die uiteindelike skade.

Figuur 2: Dorpe geraak deur uitbrekings van skaapbrandsiekte in 2019. (Bron: Herkouer Veterinêre Vereniging van Suid-Afrika)

Spuit of dompeldip

Doeltreffende behandeling bestaan uit ten minste twee herhalings, sewe tot tien dae uitmekaar. Die rede hiervoor is om die 14-dag lange lewensiklus van die skaapbrandsiekmyt doeltreffend te ontwrig. Jy het ’n keuse tussen ’n dompeldipbehandeling, of om met ivermektien te spuit, sê sy. Dit is egter belangrik dat jou dompeldipmiddel wel vir myte geregistreer is.

“Die gebruik van ’n dompeldip is in die kouer dele van die land problematies, omdat die siekte eintlik ’n wintersiekte is. Jy kan dus skade lei as ’n koue front deurkom terwyl jou skape nat is. Hoewel die inspuitbare middel duurder is, kan dit onder hierdie omstandighede ’n beter opsie wees.”

Wat egter van kritieke belang is, is om elke dier wat behandel word duidelik te merk, sodat jy seker is jy behandel elke skaap op jou plaas. As een skaap per ongeluk oorgeslaan word, moet jy van voor af met die behandeling begin. Merk die verskillende behandelings met verskillende kleure, sodat jy kan boek hou of al die skape elk van die behandelings ontvang het.

’n Maand ná die laaste behandeling kom die staatsveearts weer ’n inspeksie doen. As al die skape skoon is, word die kwarantyn opgehef, maar as daar nog tekens van brandsiek is, word die behandelingsproses van voor af begin. Die mees algemene rede waarom ’n behandeling nie suksesvol is nie, is skape wat per ongeluk oorgeslaan word.

Biosekuriteit is krities

Die koste verbonde aan infrastruktuur vir ’n goeie biosekuriteitstelsel, sê dr Claassen, is nietig in vergelyking met die produksieverliese wat beheerde siektes soos skaapbrandsiekte en bek-en-klouseer kan veroorsaak. ’n Paar wenke is om oorpakke en waterstewels aan te koop en mense soos skeerders en selfs die veearts te dwing om dit aan te trek as hulle nie hul eie saamgebring het nie.

Hoewel dit ’n groter koste-implikasie het, is stortfasiliteite ’n baie goeie idee om ’n verskeidenheid van siektes te voorkom. So kan diensverskaffers dan stort voor hulle die plaas betree en weer voor hulle die plaas verlaat.

“ ’n Stortfasiliteit is waarskynlik effens ekstreem, maar ’n paar oorpakke en waterstewels in standaardnommers is heeltemal haalbaar. Maak egter seker jy ontsmet die klere deeglik tussen elke gebruik. Verder is dit baie belangrik om besoekers nie sonder toesig en met goeie rede in aanraking met jou diere te laat kom nie.”

Risikobeheer

Skeerspanne, voertuie en nuwe vee is waarskynlik die grootste risiko om siektes na jou plaas te bring, sê dr Claassen. Stel dus maatreëls in om elkeen van hierdie bedreigings doeltreffend te bestuur. Voetbaddens, oorpakke en stewels, en afsondering vir minstens ’n maand van nuwe diere, is waarskynlik die basis waarop ’n goeie biosekuriteitstelsel geskoei kan word. Dit geld nie alleen vir skaapbrandsiekte nie, maar in die algemeen.

Die Dieregesondheidswet, 1984 (Wet 35 van 1984) stipuleer dat enige dier vóór vervoer, vir inwendige en uitwendige parasiete behandel moet word. Dit bied ’n mate van beskerming, maar ’n maand se isolasie van nuwe diere voor toevoeging tot die kernkudde, is krities.

“ ’n Goeie biosekuriteitsplan beskerm jou ook teen ander moontlike siektes wat jou plaas kan binnekom, soos onder andere Johne se siekte en kriptosporidiose.”

Wat skaapbrandsiekte betref, sluit sy af, is die heel belangrikste maatreël egter om onmiddellik enige wolletsels op jou skape te rapporteer, sodat die korrekte stappe geneem kan word om dit so gou as moontlik in die kiem te smoor. – Izak Hofmeyr, Veeplaas

Vir meer inligting, skakel dr Didi Claassen by 066 374 0395.