Christopher Sparks

Christopher Sparks van Mount Olive Genetics by Swinburne in die Noordoos-Vrystaat, is by die Aldam Veeskool as Pick n Pay/Landbouweekblad/Breedplan se Suider-Afrikaanse Stoetteler van die Jaar vir 2018 aangewys. Net sowat dertien dae tevore is hy ook as die LNR se Nasionale Vleisbeesteler van die Jaar aangewys. Albei toekennings gee erkenning aan telers vir hul buitengewone prestasies met prestasiemeting, genetiese verbetering, teling en bestuur.

Christopher bedryf sy Brangusstoet reeds sedert 2001, en het uit die staanspoor op genetiese verbetering deur middel van meting gekonsentreer. Deur die jare het hy telkens erkenning gekry vir sy kudde. In 2005 het hy byvoorbeeld die eerste Brangusbul geproduseer wat agt genetiese merkers vir vleissagtheid en voeromset gehad het. In 2010 is sy kudde as Brangus-kudde van die jaar aangewys, en in 2011 is hy as Brangusteler van die jaar aangewys. Wat die Suider-Afrikaanse Stoetteler van die Jaar betref, het hy reeds twee keer ’n derde plek verower en verlede jaar die tweede plek.

“Al hierdie toekennings verteenwoordig ’n proses, en veral ’n leerproses, want die blote invul van die inskrywingsvorm is ’n baie omvattende proses wat jou tot introspeksie dwing. Dit dwing jou om jou kudde se sterk en swakpunte raak te sien, en die leemtes in jou eie bestuur te identifiseer. Dis in die regmaak van hierdie tekortkominge dat vordering plaasvind, en dis tog waaroor dit eintlik gaan. Die toekenning self is eintlik net erkenning van dit wat jy in elk geval doen en waarvoor jy in elk geval lief is,” sê Christopher.

Dis interessant dat die eerste, tweede en derde plek vanjaar deur Vrystaters behaal is. Christopher boer by Swinburne naby Harrismith, André van der Merwe van Wouman Brangus boer by Reitz, en Wessel Hattingh van Heilbron met sy Brahmane was gesamentlik in die derde plek. – Izak Hofmeyr, Veeplaas