Baunvieh
Sweetie Pie is ’n 26-jarige Braunvieh-koei en beslis een van die oudste koeie in die land, maar sy maak klokslag elke jaar nog ’n kalf groot.

’n Aktrise wat lankal aan die verkeerde kant van 80 was, is eendag deur ’n joernalis gevra wat haar geheim is om so vol lewe te bly. Haar antwoord was: “Staan op, trek mooi aan en daag op.” Dalk is dit ook Sweetie Pie, ’n 26-jarige Braunvieh-koei, se lewensmotto. Dié bejaarde koei behoort aan Ian en Ansie Botes van die plaas Kristalpan naby Barkly-Wes.

Ansie vertel dat Ian in 2009 vir haar ’n paar Braunvieh-koeie en ’n bul gekoop het. Hulle het toe met die Braun Kristalle-stoetery begin. Onder die groep koeie was die 15-jarige Sweetie Pie, wat deur ’n sekere mev Botha van die plaas Skuilhoek in die Luckhoff-distrik geteel is.

Dit mag dalk klink na ’n ou koei, maar die Braunvieh-ras is bekend daarvoor dat hulle sterk diere is en hul plek op ’n plaas kan volstaan. Daarom was Ansie nog vol hoop vir hierdie ‘ou koei’. En sy het uiteindelik baie meer gekry as waarvoor sy gehoop het.

Tien kalwers in tien jaar

Sweetie Pie het beslis haar kant gebring in die tien jaar wat sy op Kristalpan loop. Ian vertel dat sy in dié tien jaar nog tien kalwers grootgemaak het. Om by die moeder se ‘status’ te pas, het al die kalwers ook lekkergoed-name gekry.

“Sweetie Pie het in 2018 ’n kalf geaborteer, maar ons het nie die hart gehad om haar uit te skot nie. Dit is baie droog by ons. Ons het dus besluit om haar nog ’n kans te gee om beset te raak. Op 1 November 2018 is sy weer ingebring kraal toe sodat sy ekstra versorging kon kry en sy het nie probleme gehad om weer dragtig te raak nie. Sy het verlede jaar weer maklik beset geraak en die kalf behoort vroeg vanjaar sy verskyning te maak. Ek vermoed dit sal seker haar laaste bydrae tot die Braun Kristalle-stoetery wees.

“Hoewel ek ’n sagte plekkie vir haar het en haar soms so ’n ietsie ekstra gee (sy is immers ’n ‘golden oldie’), moet sy saam met die ander koeie op die veld vasbyt. Na kalwing help ek haar vir so twee tot drie weke met ekstra voer en dan moet sy veld toe gaan. Sy het baie goeie genetika en kan saam die jonger koeie haar kalwers op die veld grootmaak,” vertel Ian.

’n Nuwe rekord

Volgens SA Stamboek se rekords is Sweetie Pie die oudste koei in die land en beslis die oudste produktiewe koei. Sover bekend, was die koei wat voor haar die rekord gehou het 20 jaar oud.

“Sy het uitstekende genetika en die kalwers wat sy al vir ons gegee het, getuig daarvan. Haar kalwers was almal van uitstaande gehalte. Hulle sal vir enige stoet of kudde ’n aanwins wees,” sê Ansie.

Die Braunvieh-ras is een van die oudste beesrasse in die wêreld. Dié ras, oorspronklik die Bruin Switser, is sowat 100 gelede aan Suid-Afrika bekendgestel en het uitstekend aangepas in ons sonnige land. Die naam het in die laat negentigerjare na Braunvieh verander. Die Braunvieh is ’n grootraam dubbeldoelbees wat meer op vleiseienskappe konsentreer. Die ras het egter ook baie goeie melkeienskappe.

Hoog aangeskrewe ras

Volgens Ansie is die Braunvieh ’n suiwer ras met meer voordele as enige ander ras. “Die ras word veral met groot sukses in kruistelingsprogramme gebruik omdat hulle goeie moedereienskappe, melk, temperament, aanpasbaarheid en uitstekende groeivermoë het. Die gemiddelde tussenkalfperiode van my Braunvieh-koeie is slegs 44 weke. Sweetie Pie is ’n goeie voorbeeld van wat die Braunvieh-ras kan vermag.” – Koos du Pisanie, Veeplaas

Vir meer inligting, skakel Ian en Ansie Botes by 082 378 0934.