Martin Campher, ’n Suid-Afrikaanse Brangus-teler, by ’n groep van 600 twee jaar oue verse in Argentinië wat uit embrio-spoeling en kunsmatige inseminasie geteel is.

Uiters streng in- en uitvoervereistes kniehalter die verhandeling van embrio’s en semen op die internasionale mark. Dit beroof Suid-Afrikaanse vleisbeestelers van toegang tot die wye genepoel wat bestaan en buitelandse telers van unieke teelmateriaal wat in Suid-Afrika beskikbaar is. Daarby voel Suid-Afrikaanse telers die regering sit nie genoegsaam skouer aan die wiel om dié knelpunte uit die weg te ruim nie.

Embrio-oorplasings en kunsmatige inseminasie is kragtige werktuie om genetiese vordering te versnel, deurdat die nageslag van geneties meerderwaardige koeie en bulle vinniger en meer kostedoeltreffend vermeerder kan word. Omdat daar feitlik geen semen of embrio’s in- of uitgevoer kan word nie, kan Suid-Afrikaners dié tegnologie nie ten volle benut nie en ook nie die groeiende handelsgeleenthede in teelmateriaal ontgin nie.

Pieter Swart, voorsitter van die SA Brangus-telersgenootskap, sê dié tegnologie het die manier geword waarop top genetiese materiaal van een land na ’n ander gebring kan word sonder dat diere verskuif word.

“Handel met Suid-Amerika is veral aantreklik, aangesien hul vleisbeesbedryf ook op speenkalfproduksie steun en dus vroegryp, vrugbare diere gebruik wat nou ooreenstem met die diere waarmee vleisbeesboere in Suid-Afrika boer.”

Suid-Amerikaanse mark

Pieter en ander Brangus-telers het Suid-Amerika die afgelope tyd besoek en bewus geraak van die geweldige mark wat vir uitstaande teelmateriaal bestaan.

Charl Uys van die Bonsmara-beestelersgenootskap stem saam en sê die geharde beesrasse van Suid-Afrika wat in moeilike toestande kan oorleef, reproduseer en produseer, prikkel veral die belangstelling van boere in Suid-Amerika. “Knopvelsiekte, wat skynbaar nie daar voorkom nie, is egter die groot struikelblok. Hulle is bang dié siekte kan met semen daarheen versprei.”

Ná ’n onlangse besoek aan Suid-Amerika het hy onder die indruk gekom dat Suid-Afrikaanse telers van verskeie beesrasse wat ook daar gebruik word, beter teelmateriaal het om aan te bied as dit wat nou daar beskikbaar is. Hy glo veral poenskop Bonsmaras kan daar ’n wenner wees.

Uitvoer van embrio’s

Pieter sê embrio’s van verskeie beesrasse, skaaprasse en Boerbokke is tot ongeveer 2008 na verskeie lande uitgevoer. “Toe het Australië en Kanada van dié teelmateriaal wat hulle vermeerder het na Amerika, wat toe ook al vir Suid-Afrika ontoeganklik was, uitgevoer. Só het hulle Suid-Afrikaners se teelvernuf gebruik en groot voordeel daaruit getrek.

“Ná 2008 het uit- en invoere (afgesien na en van sekere Afrikalande) feitlik tot stilstand gekom, grootliks omdat die protokolle nie gereeld opgedateer is nie.”

Pieter sê hy is in 2017 na Suid-Amerika genooi as gas van die Argentynse Landbousakekamer as deel van ’n poging om betrekkinge met die Argentynse vleisbeesboere te verbeter. Hierna het ’n groep Brangus-telers en telers van ander vleisbeesrasse van Suid-Afrika dié land besoek, met telersgenootskappe daar samesprekings gevoer en na hul beeste gaan kyk.

’n Tipiese embrio-skenker van die top Argentynse teler, Walter Oroda.

Latyns-Amerikaanse genootskappe

Hy sê die hoogtepunt was toe hy namens SA Brangus genooi is om by ’n groep van ses Latyns-Amerikaanse lande se Brangus-genootskappe aan te sluit. Daar het hulle ernstig met SENASA, ʼn Argentynse regeringsorganisasie wat spesifieke programme uitvoer om die veilige produksie van voedsel in die land te verseker, onderhandel om struikelblokke wat samewerking tussen die lande strem, te identifiseer.

“Dié ooglopende belangstelling in samewerking met Brangus SA dui daarop dat hulle eerder met Suid-Afrika sake wil doen as met Amerika en Australië, wat volgens hulle net in uitvoere belangstel en nie juis in wedersydse handel nie,” sê hy.

Hy het ook gou agtergekom dat die nuwe Argentynse regering die landboubedryf daar hoog aanslaan as die vernaamste sektor van die land se ekonomie en boere baie help met bemarking, ontwikkeling en voorligting.

Ekonomiese hupstoot

“Vandat die nuwe regering wegbeweeg het van die benadering om die bevolking van goedkoop kos te voorsien, het die land baie geld met die uitvoer van vleis verdien, talle werksgeleenthede geskep en die ekonomie ’n hupstoot gegee sonder om voedselsekerheid in gedrang te bring deurdat hulle net die duurder snitte uitvoer en steeds genoeg vleis vir eie gebruik produseer.

“Dié nuwe benadering het Argentinië van die twaalfde na die vyfde plek laat opskuif op die wêreldranglys van die hoeveelheid vleis wat uitgevoer word. Sowat 60% van die vleis word na China uitgevoer en hul vleisuitvoere groei teen sowat 10% per maand,” vertel hy.

Volgens die Amerikaanse Departement van Landbou se jongste verslag, is vier Suid-Amerikaanse lande onder die tien vernaamste uitvoerders van beesvleis, naamlik Brasilië (1), Argentinië (5), Uruguay (7) en Paraguay (8). Uruguay se totale oppervlakte is kleiner as dié van die Vrystaat.

Ruilwaarde van rand

As dieselfde strategie in Suid-Afrika gevolg kan word, kan dit die beesvleisbedryf ’n enorme hupstoot gee aangesien die vleis wat die boere dan sal kan uitvoer teen ’n dollarwaarde verkoop word, wat met die swak ruilwaarde van die rand ’n aantreklike inkomste kan gee.

Dit hoef nie te beteken dat vleis vir die Suid-Afrikaanse verbruiker onbetaalbaar duur gaan word nie, want as Suid-Afrika Argentinië en Uruguay se voorbeeld volg en net die duur snitte uitvoer en die goedkoper vleis plaaslik aanbied, kan vleisbeesboere en verbruikers die voordele saam geniet.

Terwyl die ontploffing in beesvleisproduksie en gepaardgaande styging in die vraag na meerderwaardige teelmateriaal aan die gang is, sit Suid-Afrika se stoettelers op die kantlyn.

’n Televisie-onderhoud met die landboukanaal, Rural. Van links is Pieter Swart, Hendrik Jordaan en Gabriel Varela.

Reproduksie en vleisgehalte

Pieter sê hulle het met hul besoeke gesien dat die Suid-Amerikaanse vleisbeesboere soortgelyke tipe beeste as Suid-Afrikaanse boere gebruik. “Hulle is ook baie gesteld op goeie reproduksie en vleisgehalte. Hul genepoel het beperk geraak omdat dit so moeilik is om teeldiere, semen en embrio’s in te voer. Hul goeie bulle word dus oor en oor gebruik. Een van hul uitstaande bulle, Hemingway, het al bykans 30 000 kalwers verwek.

“Hierteenoor het Suid-Afrika unieke bloedlyne – een van die min voordele van die sanksies in die sewentiger- en tagtigerjare van die vorige eeu. Suid-Afrikaanse telers was genoodsaak om Amerikaanse semen te gebruik om nuwe bloedlyne in te bring. Omdat Amerikaanse telers ’n ander tipe bees teel om aan hul spesifieke markvereistes te voldoen en ’n ander teeldoelwit het, is net sowat 20% van die nageslag van die Amerikaanse teelmateriaal in Suid-Afrikaanse kuddes opgeneem.”

Hieruit is die tipiese Suid-Afrikaanse beeste geteel, wat kalwers met ’n lae geboortegewig produseer, wat vinnig groei, hoë speengewigte het en goed in voerkrale groei. Verder is die Suid-Afrikaanse kuddes gemiddeld groter as in Amerika, wat beteken dat beter seleksiedruk toegepas kan word. Suid-Afrikaanse boere het ook baie streng geselekteer vir geharde en aangepaste diere.

’n Reusemark

Volgens Pieter boer die grootste Brangus-teler in Argentinië met 3 000 geregistreerde koeie. “Van die groot kommersiële vleisbeesboere in Argentinië en Brasilië gebruik meer as 10 000 strooitjies semen per jaar.

“Om ’n aandeel in dié reusemark te kry, sal Suid-Afrika die probleme wat in die pad van dié handel staan uit die weg moet ruim en doelgerig moet onderhandel om teelmateriaal uit te ruil,” sê hy.

Vir meer inligting, skakel Pieter Swart by 082 924 6036 of stuur ’n epos aan pietbrangus@mweb.co.za. – Andries Gouws, Veeplaas

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here