Streng seleksie: Die geheim van Grietha se gelukbringer-stoet

168
Grietha het 15 kampe waar sy haar ooie en lammers aanhou en die diere word tussen die kampe geroteer, waar sy ook weidings plant. (Foto: Christal-Lize Muller)

Estimated reading time: 7 minutes

Grietha van Rensburg is ’n gerekende SA Vleismerino (SAVM)-stoetteler wat diep spore in dié bedryf trap. Sy boer saam met haar man, Louis, op die plaas Taaibospan by Sannieshof. Hy verbou graan en boer met Bonsmaras.

Grietha se harde werk, deursettingsvermoë, liefde vir diere en haar geloof, het haar ’n skaapteler van formaat gemaak. Vandag is sy ’n voorloper in die bedryf en ook die eerste vrou om tot die SA Vleismerino-genootskap se raad verkies te word.

‘n Klein begin werp vrugte af

Haar pad met die kommersiële skaapkudde en later die Amulet SA Vleismerino-stoetery het ’n beskeie begin gehad, toe Louis haar 16 jaar gelede aangemoedig het om sy skaapkudde van 30 diere oor te neem.

Sy het aanvanklik ’n stoetram by haar kommersiële ooie gesit. Saam met dié ram het sy twee stoetooie op ’n veiling in Viljoenskroon gekoop, waarna sy stelselmatig 60 kommersiële ooie en nog ’n ram gekoop het. Toe sy haar stoet by die SAVM-genootskap geregistreer het, het sy aanvanklik net 15 stoetooie gehad, waarvan sommige van Cornie van den Heever van Schweizer-Reneke en Jan van Biljon van Viljoenskroon gekoop is. Tesame met stoetramme wat sy uit Jan Hattingh se destydse stoet gekoop het, het die kudde gevorder en die ramme uit hierdie parings wat die keuring geslaag het, is behou.

Sy glo haar sukses lê daarin dat sy aanvanklik vasgebyt het en uit die staanspoor goeie seleksie toegepas het. “As ek ’n ding aanpak, is ek toegewyd daartoe en gee ek 200%.”

Grietha sê sy het op die naam Amulet besluit, wat ‘gelukbringer’ in Frans beteken. Die idee vir die naam kom van haar oorspronklike kudde wat nie suiwer SA Vleismerino’s was nie. In daardie stadium het van die ooie, wat met suiwer SAVM-ramme geteel is, swart lammers gehad. “Ek het altyd gesê die swart lammers is my gelukbringers, want hulle maak dat my skaapkudde vooruitgaan.”

Grietha van Rensburg het 16 jaar gelede haar man se skaapkudde oorgeneem. Vandag bestaan haar kommersiële en stoetkudde uit 1 000 diere.

Voer vir vooruitgang in seleksie

Sy glo dat voeraanvulling van groot waarde is en volg dié roete al vir sewe jaar. Dit bevorder vrugbaarheid, terwyl haar drielingsyfer ook goed vermeerder het tot tussen 20 en 29 drielinge uit 250 ooie. Die res van haar kudde lewer tweelinge. Sy het die vorige lamseisoen ’n lampersentasie van 187% gehad.

’n Kuilvoerkomponent vorm die grootste gedeelte van haar voerprogram – hulle sny jaarliks 45 hektaar vir kuilvoer. “Na my mening kan jy nie sonder kuilvoer in ’n boerdery nie, veral hier by ons waar reën wisselvallig is.” Heelwat van Louis se Bonsmara-osse in die voerkraal kry ook kuilvoer.

Onder droogtetoestande word die kommersiële en stoetkudde van sowat 1 000 diere daagliks gevoer. Dragtige ooie kry lusernmeel as proteïen vir goeie melkproduksie. ’n Lek word ook saam met die kuilvoer gegee om spoormineraaltekorte aan te vul.

Daar is altesaam 15 weidingkampe op die plaas. Soetsorghum (sugargraze) word gewoonlik in November geplant en die skape wei ook op mieliereste. In Maart plant hulle sorom, ’n vinnige lentetipe stoelrog, in van die kampe, asook jaffa, ’n meerjarige voersorghum, omdat dit meer kostedoeltreffend is.

Natuurlike teling en lamstelsel

Grietha is ’n voorstander van natuurlike dekking en sy spons of insemineer nie. Haar ooie loop vir 35 dae by ’n ram en omdat ‘n ooi elke 17 dae op hitte kom, kry hulle dus twee kanse om dragtig te raak.

Die ooie word in twee groepe van 250 elk verdeel. Een groep word vanaf Desember gedek word om in Mei te lam en die ander groep vanaf Junie om in November te lam. Haar ooie lam nie in hokke nie, maar in ’n vyfhektaarkamp waar kos en water voorsien word.

Grietha glo ooie moet in ’n natuurlike omgewing kan lam en nie onder stres verkeer nie. Dit verminder die kanse dat ’n ooi van haar lammers verwerp. Daarom is haar lamstelsel eenvoudig. Wanneer ’n ooi lam bly sy in die kamp, maar word deurlopend gemonitor. Omdat die getal meerlinge hoog is, sorg sy dat sy by die lamproses teenwoordig is. Sy los die ooie en hul lammers ná geboorte vir sowat vyf ure in die kamp sodat hulle ’n hegte band kan vorm.

Daarna skuif sy hulle vir ’n dag of twee na ’n tydelike, kleiner kraal om aantekeninge te begin doen. Die ooie kry ekstra kos, die lammers word gemerk en die nodige data word aangeteken. Daarna word die ooie en lammers weer na ’n groter kamp verskuif.

Deur die ooie voor lamtyd ’n goeie volvoermengsel te gee, verseker Grietha dat die lammers gesonde biesmelk inkry. Dieselfde mengsel word in ’n latere stadium as kruipvoer aan die lammers gegee. ’n Mengsel van kruip- en kuilvoer word reeds ses weke voor lamtyd aan die ooi gevoer.

Streng seleksie en keuring

Streng seleksie is noodsaaklik, sê Grietha. Sy selekteer vroeg teen dieresiektes soos vrotpootjie en haarwurm, en is trots op die feit dat sy met die onlangse baie reën, nie een skaap met haarwurm gehad het nie. Sy skryf haar siektevrye kudde toe aan die goeie gene waarvoor sy geselekteer het.

“Vatbaarheid vir dieresiektes loop in die gene. As ek ’n ooi met ’n los maag sien, kan ek maar weet albei haar lammers gaan dit ook hê.” Sy selekteer wanneer ’n ooi met lammers in die tydelike kraal is, nadat die ooi gelam het. Ooie moet gesond wees en genoeg melk hê om vet lammers oor 30kg te speen. Die ooie wat nie op standaard is nie, word uit die kudde verwyder en geslag.

Grietha het haar eerste keuringskursus by Jan van Biljon voltooi en die eienskappe van die ras leer ken. Sy het ook drie jaar gelede ’n SAVM-beoordelingskursus voltooi en haar eerste skou by die Bielie Mielie-fees op Reitz in die Vrystaat beoordeel.

Dié voortreflike ram, AMU8283, is deur Grietha geteel. Met sy sterk bouvorm en goeie vleiseienskappe, lewer hy uitstekende teelmateriaal.

Met die keuring van haar ramme kyk Grietha na eienskappe soos die lengte van hul bene. Ervaring het haar geleer dat langbeenramme laatryp is. Hoe langer die ram se bene, hoe platter word die dier, wat uiteindelik minder gewig en vleis beteken. Daarteenoor vertoon ’n ram met korter bene makliker dikker.

Grietha blaas nie graag haar eie beuel nie, maar is trots op die feit dat haar ooie, met hul sterk moedereienskappe, hoog in aanvraag is. Haar ooikudde is eenvormig en kan ooilammers van 35kg en meer speen. Die prulle plaas sy nie terug in die mark nie, maar laat hulle teen ’n gemiddelde prys van R3 000 slag.

Verlede jaar het die sesde produksieveiling van die Amulet-stoet goed verloop en bogemiddelde pryse is vir Grietha se ramme behaal. Die hoogste prys vir ’n ram was R18 000 en 135 ooie is ook op die veiling verkoop.

Haar belangrikste korttermyndoelwit is om haar kudde uit te brei. Die ram, AMU7021, lewer ongelooflike goeie teelmateriaal en haar ander topram, AMU8382, se eerste lammers sal in Mei aankom. Grietha meen albei ramme het alles wat nodig is om haar kudde vorentoe te vat en te gedy in hulle sanderige omgewing. – Christal-Lize Muller, Veeplaas

Lammers vir die Moslemmark
Grietha lewer vir meer as tien jaar al langstertlammers aan die Moslemmark. Hierdie lammers moet ongeskonde bly vir die Eid-al-Fitr-fees aan die einde van Ramadan. Sy het aanvanklik sowat 30 lammers voorsien, maar lewer nou jaarliks 150 lammers van ses maande en ouer teen ’n gemiddelde gewig van 88kg. Die ramlammers word jaarliks in Mei in ’n voerkraal geplaas, sodat hulle vet gevoer kan word vir lewering in Julie/Augustus.

Vir meer inligting, kontak Grietha van Rensburg by 082 952 1955.