’n Ontstellende dokumentêre film wat die aanslag op renosters in Suid-Afrika en die drywers wat dit aan die gang hou, oopvlek, se plaaslike premiére het die afgelope week in Johannesburg plaasgevind. STROOP – journey into the rhino horn war, het die afgelope ruk internasionale filmfeeste behoorlik beïndruk en nie minder nie as tien toekennings in Amerika en Europa verwerf.

Twee filmmakers, Bonné de Bod en Susan Scott, het vier jaar gelede hulle lewens byna tot stilstand gebring om ’n film oor die renosterstropingskrisis in Suid-Afrika te maak. STROOP was aanvanklik slegs ’n ses-maande-projek, maar hulle het gou agtergekom dat dit heelwat groter is.

In hierdie reis tussen Afrika en Asië vestig filmmakers hulself aan die voorkant van ’n soort “volksmoord” op renosters, waar hulle eksklusiewe toegang tot die kwessie kry. Talle rolspelers word deur hierdie kwessie geraak – van veldwagters, vlieëniers en honde-eenhede, wat die parke wat die hardste getref word moet patrolleer, tot wildlewe-strooptogte deur die polisie en staatsaanklaers, wat onverpoos teen goed geoliede verdedigingspanne veg om geregtigheid te laat geskied.

Die groot aanvraag na renosterhoring kom hoofsaaklik uit Asië, en hier moes die filmmakers in die geheim in ’n kommunistiese land met onwettige wildhandelaars skakel. Terug op eie bodem volg die film ook die reis van ’n jong Viëtnamese navorser wat renosterhoringverkope in Afrika ontbloot. Die vraag na renosterhoring is duidelik wêreldwyd.

STROOP is ’n hartverskeurende reis saam met diegene wat veg om hierdie ikoniese diere op ons planeet te hou – van dié wat hul lewens daaraan wy om renosterwesies te help grootmaak tot veeartse wat renosters met beserings behandel.

Beperkte vertonings van STROOP word in Kaapstad en Pretoria gehou. STROOP word ook aan joernaliste en studente in Asië gewys. Klik hier vir meer inligting.

**Suid-Afrika het die afgelope twee jaar ’n afname in renosterstroperygetalle gehad. In Januarie sal die statistieke vir 2018 vrygestel word en daar word verwag dat dit laer sal wees. Dit kan wees omdat renostergetalle afgeneem het. Klik hier vir meer.Elmarie Helberg, AgriOrbit

Stroop-ster kuier op die kassie