Stropers en planters gons in graangebiede

1404

Dit is strooptyd! ‘n Seisoen se harde werk word tans ryklik beloon, maar die winter plantseisoen is ook reeds goed op dreef. Fokus jy met onverdeelde aandag op hierdie tyd van die seisoen?

Natuurlik, hoe dan anders? Dit is jou waardevolle bydrae tot die tweede-grootste mielie-oes in Suid‑Afrika se geskiedenis – stapelvoedsel vir die nasie, ‘n geleentheid vir uitvoermarkte en ‘n hupstoot vir ekonomiese groei.

Lees dit in Engels.

Liza de Beer van Old Mutual Insure sê dat hierdie tyd van die jaar ongelukkig ook met ‘n verskynsel so oud soos selfaangedrewe stropers self, geassosieer word – stroperbrande, wanneer ‘n stuk ingenieursvernuf binne enkele minute verwoes word en die oesproses tot stilstand kom wanneer jy dit die minste kan bekostig.

Gepraat van moderne, gesofistikeerde landboukundige masjinerie – waarom gebeur dit dat stropers deur brand vernietig word?

Algemene oorsake van stroperbrande

Hitte, suurstof en ‘n brandstoflading in die regte kombinasie, is die nodige komponente om ‘n vuur aan te steek. Dit is alles teenwoordig in die enjin van ‘n selfaangedrewe stroper, waar die meerderheid van brande ontstaan en vinnig na ander dele van die masjien versprei. Voeg daarby ons tipiese winderige winter-klimaatstoestande met lae humiditeit en droë kaf, en jy het ‘n reuse tonteldoos in wording.

Stropers verwerk groot hoeveelhede droëmateriaal wat stof- en kafdeeltjies laat opbou en wat weens die hoë temperatuur wat deur turboaanjaers en uitlaatspruitstukke van enjins gegenereer word, ook die waarskynlikheid van brande verhoog. Dit veroorsaak nie net skade aan die masjinerie nie, maar kan ook die oorsaak wees van brande wat na ander plase en eiendom versprei.

Hoe om stroperbrande te voorkom en verminder

Beskerm jouself, jou besigheid en jou belegging in toerusting en masjinerie deur pro-aktief op te tree en deur op ‘n paar basiese aspekte te fokus.

Voor die oesseisoen

  • Moenie die noodsaaklikheid van gereelde inspeksies en onderhoud gedurende die maande voor die oesseisoen begin, oor die hoof sien nie.
  • Knaagdierskade aan elektriese drade wat kortsluitings veroorsaak en laers wat oppak, word gewoonlik opgemerk wanneer dit reeds te laat is en dit kan stroperbrande veroorsaak.

Gedurende die oesseisoen

  • ‘n Goeie begin is om die enjin-area deeglik skoon te hou en om aangepakte kaf en stof in en om die enjin gereeld te verwyder.
  • Kyk vir die opbou van kaf onder deksels en skerms in die enjin.
  • Gebruik ‘n kompressor om hierdie areas daagliks skoon te maak en brande te voorkom.
  • Herstel of vervang beskadigde/verweerde elektriese kabels en konneksies wat vonke en kortsluitings kan veroorsaak.

Dit is oor die jare bewys dat die meeste stroperbrande voorkom sou kon word deur elke dag slegs ‘n paar minute te spandeer om die kritiese areas in die masjien skoon te maak. Dit is beslis die moeite werd, inaggenome die verwoestende gevolge wat ‘n brand op jou besigheid gedurende die oesseisoen kan hê.

Hierdie artikel het ten doel om slegs inligting te verskaf en nie enige advies of regsadvies nie.

Kontak jou makelaar of adviseur, of besoek ons webwerf by www.ominsure.co.za vir inligting oor ons landbouprodukoplossings en vir die kontakbesonderhede van ons naaste verkoopskantoor.

Alle produkte word deur Old Mutual Insure, ’n gemagtigde finansiële diensverskaffer (FDV 12), onderskryf.