Februarie se trekkerverkope van 485 eenhede is bykans 8% minder as die 526 eenhede wat in Februarie 2019 verkoop is. Vir die jaar tot dusver is trekkerverkope byna 11% laer as vir dieselfde tydperk verlede jaar.

Read it in English.

Stroperverkope van 18 eenhede in Februarie is drie eenhede meer as die 15 eenhede wat verlede Februarie verkoop is. Vir die jaar tot dusver is stroperverkope nou 21% meer as verkope vir dieselfde tydperk verlede jaar.

Die eerste produksieraming vir somergewasse in 2020 toon dat die produksie van alle gewasse waarskynlik hoër sal wees as produksie verlede jaar. Dit geld veral vir die algehele mielie-oes teen 14,6 miljoen ton, wat na verwagting byna 30% meer sal wees as in 2019. Dit kan lei tot ʼn daling in mieliepryse. Huidige stroperverkope toon dat boere voorberei om goeie oeste in te bring. Die trekkermark bly uiters mededingend op grond van pryse.

Ongeag die baie onlangse swak waarde van die rand, gaan die pryssensitiewe mark waarskynlik volgehou word oor die kort termyn. Sentiment in die mark bly nietemin versigtig optimisties en na verwagting sal trekkerverkope in 2020 soortgelyk wees aan verkope gedurende 2019. – Suid-Afrikaanse Landboumasjinerieassosiasie