Die Suid Afrikaanse Jagters- en Wildbewaringsvereniging (SAJWV) se Namakwa-tak het besluit om aktief betrokke te raak om stropery van skaars en bedreigde plante hok te slaan.

Die onwettige handel in skaars plante en reptiele het geweldig toegeneem in die laaste dekade. Dit is veral ’n groot probleem in die semi-woestyngebiede soos Namakwaland en die Richtersveld, waar ’n hoë diversiteit van sukkulente en spesiaal-aangepaste en unieke plante voorkom. Hoewel Suid-Afrika slegs 2% van die wêreld se oppervlak beslaan, beskik ons land oor 46% van die wêreld se vetplante, waarvan die meeste in hierdie gebiede voorkom.

Meer as 900 van hierdie plantspesies is bedreig en die onwettige handel daarin het vermoedelik ’n groter omvang as dié van renosterhoring. Tussen April en Desember 2019 was daar ongeveer 29 hofsake in Namakwaland, waarvolgens 48 mense gearresteer is en boetes van meer as R4 miljoen opgelê is vir diefstal en smokkel van skaars en bedreigde plante en reptiele.

Rolspelers hou kajuitraad

Gedurende Maart 2020 het die Namakwa-tak van die SAJWV saam met Lizanne Nel, die bestuurder vir bewaring, ’n werkswinkel by Sendelingsdrif in die Richtersveld aangebied, waartydens bewaringsdepartemente van die Wes- en Noord-Kaap, Suid-Afrikaanse Nasionale Parke (SANParke), die Suid-Afrikaanse Nasionale Biodiversiteitsinstituut (SANBI), die Groen Skerpioene, polisielede van verskeie veediefstaleenhede en ander belanghebbendes, die top prioriteite geïdentifiseer het om stropery die hok te slaan. Hulle het ook beraadslaag oor hoe die SAJWV en hul lede saam met ander organisasies kan werk om bewaringsinisiatiewe te bevorder.

Die Namakwa-tak het reeds meer as R100 000 beskikbaar gestel om drie van die parke in die gebied te ondersteun met noodsaaklike bewaringstoerusting. Geld is ook bewillig om ’n gebou op te rig in die kwekery in die Richtersveld Nasionale Park, waar gekonfiskeerde bedreigde plante gehuisves sal word saam met ander voorbeelde van die bedreigde plantspesies in die gebied. Saam met ander kwekerye, sal dit as een van die genebanke dien vir die plantspesies, met volledige habitatsinligting, sodat plante gekweek kan word vir moontlike hervestiging.

’n Meer volledige artikel oor die inisiatief sal binnekort in die SA Jagter-tydskrif verskyn. SA Jagters-nuusbrief