Studente verskerp hul vaardighede in dragtigheidsdiagnose

1334
Die tien finaliste wat hulle vaardighede in dragtigheidsdiagnose by die Hatfield-proefplaas beproef het. Agter van links is Clemens Lichtenberg, Cobus Vermeulen, Travis Kersten en Garrick Cathrall. Voor is Carel Engelbrecht, Uzair Carrim, Marenée Botes, Christelle Vlok, Nick Clarke en Inone Vorster.

Altesaam 63 veeartsenystudente by Onderstepoort wat in hulle finale jaar op produksiediere fokus, is uitgedaag om vleis- en melkbeeste so akkuraat as moontlik vir dragtigheid te ondersoek in vanjaar se dragtigheidsdiagnose-uitdaging.

Hierdie uitdaging word deur die Fakulteit Veeartsenykunde aan die Universiteit van Pretoria aangebied om finalejaarstudente se belangstelling in produksiediere te prikkel, deur hulle ’n praktiese voorsmakie van dié taak te gee. Die uitdaging gee aan studente ’n geleentheid om met mekaar te kompeteer terwyl hulle hul vaardighede verskerp.

Belangstelling in produksiediere

Prof Dietmar Holm, adjunk-dekaan vir onderrig en leer by die Universiteit van Pretoria se Fakulteit Veeartsenykunde, sê dat belangstelling in produksiediere die afgelope paar jaar toegeneem het.

“Ons seleksieproses, wat gemik is op studente wat op die platteland wil praktiseer, speel veral hier ’n rol. Ander faktore sluit in projekte wat ons aanpak om studente meer blootstelling in dié veld te gee.”

Volgens prof Holm sal meer blootstelling aan die bedryf jongmense aanmoedig om op die platteland te gaan werk. “Hulle kan ’n groot bydrae tot boere se produktiwiteit maak en help om voedselsekerheid te bewerkstellig.”

Ondersoeke vir dragtigheid

Die finaliste moes vroegdragtige vleisbeeskoeie in ’n beperkte tyd ondersoek. Elke student het net tien minute gehad om twaalf diere te ondersoek.

Hierna het die studente na die Hatfield-proefplaas by die Universiteit van Pretoria vertrek, waar hulle vaardighede verder beproef is deur melkkoeie te ondersoek. Nege vroulike diere in verskillende stadiums van dragtigheid is deur elke student ondersoek. Sommige van die beeste het onlangs gekalf, terwyl ander glad nie dragtig was nie.

Vanjaar se hoofprys was ’n VetScan HD-mikroskoop, wat deur Zoetis geborg is. Dié mikroskoop is R50 000 werd en stel gebruikers in staat om monsters van verskeie diere vir beide navorsing en diagnostiese doeleindes te ondersoek.

Hoë akkuraatheidsyfer

Studente se akkuraatheid van dragtigheidsdiagnose word in hierdie projek sorgvuldig gemeet om te bepaal wat die prestasie van die groep studente, asook van individue, is. Op hierdie manier is die tien finaliste uit die groep van 63 studente, en later ook die wenners, aangewys.

Beide die spesifisiteit (vroulike diere korrek geïdentifiseer as nie-dragtig) en sensitiwiteit (vroulike diere korrek geïdentifiseer as dragtig) is tydens die uitdaging in ag geneem om akkuraatheid te verseker. Vanjaar se finalejaarstudente het ’n merkwaardige verbetering in vergelyking met vorige jare se uitslae getoon.

“Ons het die laaste paar jaar goeie navorsing gedoen oor onderrigmetodes vir praktiese vaardighede, veral vir dragtigheidsondersoeke in beeste, en ons glo van die veranderinge aan ons onderrigsisteem begin nou resultate lewer,” sê prof Holm.

Tabel 1: ’n Vergelyking tussen 2016, 2018 en 2019 se Onderstepoort-uitdaging.
Jaar201620182019
Algehele akkuraatheid61%82%85%
Sensitiwiteit79%88%89%
Spesifisiteit42%67%79%
Clemens Lichtenberg het koning gekraai tydens die uitdaging. Hy het net twee foute gemaak tydens sy ondersoek van 33 vroulike diere in 34 minute.

Clemens Lichtenberg het koning gekraai tydens die uitdaging. Hy het net twee foute gemaak tydens sy ondersoek van 33 vroulike diere in 34 minute. – Claudi Nortjé, Plaas Media

Vir meer inligting, skakel prof Dietmar Holm by 072 437 4724 of stuur ’n epos aan dietmar.holm@up.ac.za.